Julie 2024 sal in die argiewe opgeskryf word as die tyd toe die winter laat, maar fel getref het. Die tyd toe daar in Suid-Afrika gesukkel is om tot die punt te kom om ‘n nuwe regering aan te kondig. ‘n Tyd waar plaasmoorde nie gestop het nie, ontvoering van mense vir finansiële gewin oor nuuskanale gereeld openbaar gemaak word, natuurrampe die wêreld tref en mensehandel steeds onopgelos voortstu. Leef ons in ‘n gekkeparadys?
Kom ons hiberneer? Kom ons volg die volstruis-taktiek en steek ons koppe in gate sodat ons dié negatiwiteit kan misloop?
Dit is op so ‘n dag wat ‘n barmhartige samaritaan en kosbare vriendin my herinner het dat ek met die witbrood onder my arm sit en kla, want: My verwarmer werk nog. Ek het genoeg komberse om die ergste koue te bestry. My sykouse, al is sommige nie heeltemal heel nie, gee nog ‘n beskermende lagie onder ‘n langbroek. My ou rusbank is nog vir kuiergaste verwelkomend. My ketel kook aanhoudend vir nog koffie- of warmwatersakwater.
Dadelik besluit ek om met meer deernis te luister, te kyk en te glo dat die Vader my ook vir ‘n tyd soos hierdie geskep en voorberei het. In Shane Parrish se boek Clear Thinking lees ek die volgende waarheid raak: “What were you thinking, you idiot? The truth of the matter is, you weren’t thinking. You were reacting, exactly like the animal you are. Your mind wasn’t in charge. Your biology was.”
Wees hierdie winter die warmte in iemand se koue biologie! Gee om, sorg, vertroetel en help waar jy kan. Luister na daardie stemmetjie binne jou biologie wat jou sal aanspreek wanneer dit tyd is om te DINK!
My koffiebeker loop oor! Gryp die geleentheid aan om vir iemand ‘n bietjie warmte in hulle lewenskoppies skink!