Koerania

Ek vermoed dat ons almal ‘n maand vol verandering agter die blad het. Die winter het voluit sy ysbere gebring. Huiskos verander na warm knuskos. Die somersklere word vir wol, warmer lyfkouse, langer moue en snoesige serpe verruil. Ligte lakens word met koesterkomberse vervang en bedtoegaantyd word al vroeër, want opstaan word elke oggend so bietjie meer uitgerek.

Die kragrekening mag dalk ook ‘n hupstoot kry met verwarmers wat die koue moet help verdryf. Alhoewel daar ‘n rumoer in die land aan die gang is oor die nasionale stemuitslae en koalisies oral meer vernaam raak, bly die binnegeveg die belangrikste faktor.

Wat doen jy om die koue in jou hart te verdryf? Watter gesprekke knoop jy met jou vriende, familie, bure en ander landgenote aan? Dit is goed en wel om aktuele sake te bespreek, maar word daar na oplossings toe gewerk of bepraat jy die klaende norm?

Elkeen se klein aandeel begin in jou onmiddellike kring. Daar waar jy elke dag beweeg, gesels, werk en woeker. Hoe lyk die ontlonting van konflik daar? Hoe neem jy leiding om daadwerklik ‘n oplossing op vrae te vind? Prioritiseer jy die struikelblokke om uiteindelik die dramalysie korter te maak?

Dit is Sondag Vadersdag. Indien jy nog so gelukkig is om ‘n pa naby jou te hê moet jy die genade van God daarin sien. Leer by hom. Sit op sy skoot. Vra baie vrae, want hy kan nie vervang word nie.

Mag daar warmte in elkeen se hart wees, terwyl die koue buite woed. Dit is ‘n nuwe seisoen. Leer om waar te neem en gebruik jou sintuie optimaal. Moet nie dat verandering jou wen nie. Speel die kaarte wat jy kry met oorgawe en leef voluit! Wees ‘n voltydse student van die lewe.

Hierdie maand gaan jy warm sjokolade, koffie, chai tee of suurlemoenwater kan drink terwyl daar geklets word. Skink vir jou bure ook ‘n koppie.

Geniet die nuwe maand saam met Koerania!

Post Views: 120