Moedersdag en moederloos? Die sosiale media platforms begin knap na middernag kreun van al die gelukwense en geskrewe liefdesboodskappe vir moeders. Dit is mooi en goed. Ek wonder tog of diesulkes die oortuiging en moed het om dit vir mamma te sê terwyl hy of sy haar in die oë kyk?
My moeder is in 2009 as gevolg van nalatigheid van ‘n ginekoloog en uiteindelik absoluut nare vaginale kanker oorlede. Sy was my lewenskompas. Die gemis is knellend, maar ek dink die algemene lewensuitdagings van 2024 sou haar nie, soos baie van ons, opgewonde maak nie. Sy sou moedig bly, en saam sou ons allerhande voorstelle vir oplossings kon bepraat.
Ek kan Nataniël se woorde 100% beam: “Een van my stokperdjies is huil, dis die een ding wat sorg dat ek nooit die kluts sal kwytraak nie.
Ongelukkig het ek af en toe ’n goeie of besige week en kry dan nie tyd of rede vir ’n behoorlike tranedal nie.”
Trane was die gemoed skoon. Dit laat kortisol vlug. Dit vervaag realiteite vir ‘n rukkie, voordat jy weer die werklikheid vierkantig moet aangluur.
Ma se lesse was legio. Elke “wees ‘n dame” het ongelukkig op dowe ore geval. Hoe doen mens dit met vier broers in die omte? Haar kook, bak, naaldwerk, musiek en kunsvernuf het sy aanhoudend ontwikkel. Wat ‘n voorbeeld van variasie en altyd leerbaar wees!
‘n Ma bly onlosmaaklik deel van ons DNS. Sy is jou sekuriteit, jou manière, jou maniertjies, jou motivering, jou disprin, jou klop op die skouer as jy goed gevaar het en jou vashou as jou hart pyn.
Ons moet tyd koester – kwaliteit tyd. Nie net sommer leeglê en geen waarde toevoeg nie. Moenie ander se ore as jou asblik gebruik nie. Gesels deur die moeilike goed en groei in die proses. Ons is slegs vir mekaar geleen.
Onthou om die koffie te skink voor jy die geklets begin. Laat jou woorde waar, respekvol en van alle leuens verwyder wees.
Sien jou in die strate of tussen die blaaie van Koerania!