Om op Tiktok te kuier en rond te blaai veroorsaak gereeld ‘n oorlading van goed en lelik en sleg en gemeen. Hoe kry iemand dit reg om so gemeen te wees? Hoe kan dit so maklik wees om ‘n ander lewende wese met jou tong so te vertrep, te verneder en te vermorsel?
En dan rol jy ‘n pragtige opbouende boodskap raak wat die wind behoorlik uit jou seile neem. Een wat jou herinner om elke dag voluit te lewe. Een waarin iemand vertel van hul eie trauma, maar uiteindelike vreugde, sukses en voorspoed. Ek kan nie anders as om trane te stort oor die geluk van ‘n ander persoon nie.
Die lekkerste soort storie om na te luister is een waar daar ‘n breë glimlag op die verteller se gesig is. Dit hoef nie ‘n aardskuddende verhaal te wees nie, maar net daardie totale oorgawe en lekkerkry op iemand se gesig spreek reeds boekdele. Wanneer laas het jy vir iemand ‘n verhaal vol vreugde vertel?
Winter gee jou en jou gesin mos ‘n geleentheid om vele familiebeddens te maak! Skuif die meubels weg. Gooi die matrasse op die vloer. Trek daardie snoesige kombers wat ouma nog gebrei het nader en vind ‘n hoekie op daardie matras waar jy jou lyf kan laat lê. Nabyheid, omgeestories en familie kan hier gedeel word. Niemand is werklik immuun teen ‘n drukkie of ‘n herinnering wat die lewe soeter laat smaak of ligter laat weeg nie.
As jy nie ‘n gesin of familie het nie moet jy met jou vriende planne beraam vir so ‘n matrasuitspan.
Skink koffie of sop, maar deel die stories en die drukkies met ‘n glimlag!