Tyd vir stilstaan en wonder wat om volgende aan te pak is in Orania ‘n luukse. Soveel besoekers en vriende vra gereeld: “Wat doen julle heeldag met julleself?” Die antwoord is maklik, soms uiteenlopend, maar beslis een wat nie werklik verstaan word nie. “Ons werk, ons bou, ons arbei, ons breek soms af voordat ons bou, ons grou en grawe, ons ontwikkel.”
Die Noord-Kaap se klimaat maak dit nogal uitdagend om goedsmoeds hier te vestig. Dit is ‘n gebied van uiterstes en daarom is vasbyt ‘n eienskap wat elke voornemende inwoner moet hê. Jy trotseer ‘n vrekwarm, droë somer en ‘n bibberkoue winter. Waarom dan die besluit neem om hier te woon en werk?
Carel Boshoff 4 het onlangs in ‘n onderhoud met Boermedia ‘n perfekte beskrywing gegee van mense wat na Orania trek. Hy het onder andere genoem dat dit ‘n demografiese besluit is, aangesien Afrikaners ook as trekkers bekendstaan, en dat gekonsentreerde demografie, ook in getalle, hegte alliansies na binne vorm. “Dit is nie een teen die ander nie, dit is saam vir dieselfde ding, op verskillende manière,” het hy gesê.
Hy het die spyker op die kop geslaan! Dit is eintlik so eenvoudig. As ek terugdink aan hoe ek aan vriende verduidelik het hoekom ek hierheen trek was dit omdat ek ‘n verskil wou maak vir my eie mense. Ek het soveel jare gewy aan die opheffing van ander volke, dat dit nou tyd was om iets terug te gee aan my eie volk. Een wie se geskiedenis, goeie werk, taal en tradisies in die reënboog van Suid-Afrikaanse kulture vir my verlore geraak het.
Hier is nie tyd en ruimte vir spyt nie. Dit is nou moue oprol en doen wat gedoen moet word. Bou wat gebou moet word en die deponeer van kennis waar jy kan. Selfbeskikking is harde werk wat die geleenthede vir groei skep. In dié proses van gee KRY jy soveel meer!
Kom ons klink ‘n koppie koffie op Afrikaners! MY mense!
Spreuke 6:6: Gaan na die mier, luiaaard, kyk na sy weë en word wys!
Luister hier na Carel Boshoff van die Vryheidstigting se onderhoud met Boermedia:
Is jy besig om die geskiedenis te skryf? Waarheen is ons op pad? ~ Onderhoud met Carel Boshoff IV (youtube.com)