Tydens die afgelope KKNK-fees, wat ek namens Koerania bygewoon het, was dit weer met elke gesprek duidelik dat Orania op almal se lippe is. Ek is met vrae gepeper, maar 98% van die kommentaar was positief. Daardie kommentaar het van wit en bruin mense gekom wat ‘n belang het, Orania voorheen besoek het, wat daarna uitsien om Orania te besoek, of wat wyd lees en meestal ingelig is.
Wat wel duidelik was is dat die “verstaan” van die Orania-idee soms ‘n kuns is. Mense bejeën jou soms met agterdog as jy praat oor kultuur en taal. Hier is ons nou by ‘n Afrikaanse Kunstefees, maar die mense wat dit bywoon, en groot ondersteuners van die taal is, is onseker of taal en kultuur genoeg gewig dra om selfbeskikking te laat geld.
Die Afrikaner is nog gemaklik met hul bediendes, beskikbaarheid van winkels en vars produkte, slaggate en robotte wat nie werk nie. En dit is sekerlik hulle goeie reg! Die burgemeester van Oudtshoorn, Johan Allers, word redelik wyd gekomplimenteer met die verandering wat hy reeds in die dorp gebring het. Hy vertel dat dit nie ‘n werkie is waar jy na populariteit kan streef nie, want kritiek is maar deel van die mensdom. Johan het egter groot waardering vir mense wat ook hand in eie boesem steek om na oplossings te soek en daarvoor saamwerk.
Die Wes-Kaap is groen en daar word oral aan paaie en geboue gewerk. Vanaf Plettenbergbaai, Hoekwil, Sedgefield, George, Grootbrak, Danabaai en Oudtshoorn is daar vele plekke waar gewerskaf word.
Soos wat ons gery het, het ek besef dat ons in Orania aan ‘n dringendheid gewoond raak om herstel te bring. Ons wil optel. Ons wil regmaak. Kry ons dit altyd reg? Natuurlik nie, want dit is ‘n kuns!
Om die kuns te bemeester waar jy verstaan wat die wêreld ‘n beter plek maak, is ‘n enorme stap in die regte rigting. Dit word beslis in die klein dingetjies ook gevind. Daardie opregte glimlag, die wuif van ‘n hand, die klink van ‘n glasie, die hardop lag van genot… Alles tekens dat ons begeer om te verstaan.
Dit word koud en die winter wil inkom. Hou hom nog so bietjie op ‘n afstand met ‘n warm koppie koffie wat jy met ‘n geliefde of ‘n nuwe vriend en vriendin deel. Die lewe is hard! Deel jou sagte kant.
Doen jou deel! Bemagtig ander met die kuns van verstaan!