Vir elke tweede persoon wou ek die afgelope maand sê dat ‘n sagte woord die grimmigheid afkeer, want die negatiwiteit en kritiese uitlatings, soms sonder konteks, is genoeg om enige positiewe mens se energie te steel! (Spreuke 15:1)
Wat maak jy met kritiek? Met leuens? Met pessimiste? Met lamsakke?
Ons kry elkeen met ons eie porsie van lafaards te doen. Daardie een wat sy mond so graag as sleutelbordsoldaat uitspoel. Dit is ‘n plek waar hy of sy sommer persoonlik raak. Daar word nie tydens daardie relaas aan ‘n ander persoon se gevoelens gedink nie. Emosionele intelligensie vlieg by die deur uit wanneer die eerste pappert lostrek met beledigings en ongegronde kritiek. Dit is asof daardie eerste wandaad aan almal die reg gee om die wapen van die tong (of die vingers wat tik) op te neem… Wie op aarde dink jy is jy?
Kritiek is natuurlik nie noodwendig sleg nie. Inteendeel, dit kan my en jou laat groei en tot hoër hoogtes lei. Dit moet egter gegrond wees. Waarheid wees. Respekvol wees.
Enige persoon wat dink hy is oor ‘n ander een aangestel, het dit mis. In die sweet van ons aangesig sal ALMAL van ons die brood op ons tafels verdien. Om nederig te bly terwyl iemand die wêreld verander is ‘n wonderlike gesindheid. Dit is ‘n skaars kwaliteit in dié tyd van selfies en smaakmakers en eiewys wees.
‘n Verstandige persoon wat tussen reg en verkeerd kan onderskei is ‘n voorloper. Daardie onderskeidingsvermoë kan maak dat so ‘n persoon ‘n groot groep kan mobiliseer en motiveer om mekaar by te staan en te ondersteun, eerder as om mekaar te verskeur.
Ons Afrikanervolk het in Orania en in Suid-Afrika baie werk. Dit is beslis harder werk om te bou as om af te breek. Dit is moeiliker om iemand te bemoedig as om iemand te ignoreer. Dit neem ernstige oortuiging om iemand positief te beinvloed, eerder as om negatiwiteit op te dis.
Wat is jou mantra? Hoe klink jou selfgesprek as jy vanoggend of vanaand voor die spieël staan? Benader jy jou dag met ‘n wig in jou hart of spring jy weg met ‘n huppel in jou stap?
Kom ons huppel die naweek binne? Laat jou selfgesprek vol belofte en opregte energie wees! Maak ‘n verskil!
Moenie dat die koffie koud word nie! Deel ‘n lekker stomende koppie met ‘n geliefde, met ‘n vreemdeling, met ‘n kennis of met ‘n gelowige vertroueling.
Slurp daai lekker koffie slukkie-vir-slukkie!