Dit gebeur gereeld dat iemand ‘n versoek het waaraan jy nie letterlik kan voldoen of mee kan help nie. Dit is dan wanneer die woorde: “ek sal vir jou bid” maklik geuiter word. Ja, dit word met die beste bedoelings gesê, maar die vraag is of ek en jy dit die daad dan by die woord voeg… Bid ek en jy dan werklik vir daardie persoon en hul versoek, situasie of uitdaging?
Daar word dikwels na Christene verwys as hoogmoedig of selfsugtig as ons nie dadelik aan ‘n versoek kan voldoen nie. Ek kry té gereeld ‘n boodskap wat sê: “My pa het sy werk verloor. Het Orania vir hom werk en blyplek?” Jare terug sou my eerste instink wees om hulp te soek. Deesdae, na herhalings van dieselfde tipe versoeke, is my instink om te vra: “Wat doen jy om hom te help?”
In Potchefstroom is ek onlangs deur ‘n jongerige man genader waar hy vir geld vra sodat hy ‘n buskaartjie na ‘n volgende werksgeleentheid in ‘n ander stad kan koop. “Dit sal net R500-00 kos, mevrou.” Weer skop die oeroue instink in en ek wil vra: “Waar is jou familie?” Die tragiese is dat ek onder geen omstandighede hierdie betrokke persoon geglo het nie. Dit het nie geruik en gelyk asof hy ‘n buskaartjie benodig het nie.
En daar oordeel ek wragtig die persoon se intensies!
Ek glo sterk in onderskeiding en wil glo dat ek darem die leuen van die waarheid kan skei, maar wat is my rol as Christen? Daar is geen manier dat ek en jy elke behoeftige individu fisies met geldnood kan bystaan nie, maar vertrou ons die Vader genoeg om werklik vir daardie persoon te bid?
Daar is gegoede persone wat dalk nie die einde van hul skatte ken nie, en met daardie aanname kan ons vra: “Wanneer is genoeg, genoeg?” Wat iemand anders met hulle hard verdiende geld of sogenaamde trustbaba-geld doen het egter met my en jou niks te doen nie. Daar moet nie aan my verantwoording gedoen word nie. Slegs God vra rentmeesterskap van ons gawes, geld en talente.
Gee ek en jy genoeg van onsself? Is ons diensbaar?
Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing volgens Galasiërs 5:22.
Kom ons gee hier aan die einde van 2024 drukkies, omgee, tyd en gebed vir mekaar. Laat jou lig skyn.
Skink ‘n koffie voor jy jou stiltetyd by God se voete aan jou familie, bure, vriende, familie en gemeenskap wei. Dit is genadetyd! Mag die Vader se genade vir ons elkeen GENOEG wees!