Daar word gedurende die aanloop na die feestyd al meer kriminele misdrywe verwag, maar die AfriForum protospan en OVD se taak- en reaksiespanne het op Dinsdag 5 November berugte kabeldiewe met leë hande gelaat.
Dié arrestasies volg nadat ’n nommer-plaatuitkenningskamera (LPR-kamera) van Stroomop Boerevereniging Maandag 4 November buite Hopetown ’n verdagte voertuig, wat voorheen met kabeldiefstal in die omgewing verbind is, uitgeken het. Die betrokke voertuig is hierna op verskeie plekke in die gebied opgemerk en AfriForum se protospan en die OVD taak- en reaksiespanne is tersluiks geaktiveer.
Omstreeks middernag het ’n veldkamera die vermeende diewe bespeur waar hulle besig was om kabels te steel. Die verdagte voertuig het hierna, om ongeveer 04:00, vanuit Petrusville in die rigting van Orania gery en het hul makkers met hul buit langs die R369 opgelaai.
’n Groep AfriForum-protospan- en OVD-reaksiemaglede wat die bibberkoue nag in die veld deurgebring het, het hul agternagesit en die voertuig ongeveer 2 km suid van Orania van die pad af gedwing. Die res van die veiligheidspan, wat in die omgewing ontplooi was, het bystand gelewer met die aankeer van die verdagtes. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is van die operasie verwittig en het kort hierna die verdagtes op die toneel gearresteer. Sowat 250 kg se koperkabels ter waarde van sowat R30 000 is in die verdagtes se besit gevind.
“Hierdie kabeldiewe teister en ontwrig die gemeenskap van Orania en omliggende dorpe nou al vir ’n geruime tyd,” sê Daniël Coetsee, AfriForum se Orania-protospanleier. Volgens Coetsee is die sukses van dié operasie te danke aan goeie beplanning, doeltreffende bevel- en beheermaatreëls en uitstekende samewerking tussen AfriForum se protospan en Orania Veiligheidsdienste. Volgens al die betrokke groepe bly samewerking die sleutel tot die doeltreffende beveiliging van die Bo-Karoo.
Daar is verskeie sake by Hopetown en Vanderkloof se polisiestasies aanhangig gemaak. Dié bende is dus al ‘n geruime tyd in die omgewing met hul kriminele aktiwiteite besig. Die skade stop nie by die verlies van kabels en herstel van die terreine nie, maar sluit die finansiële skade aan oeste in wat nie besproei kan word nie, weens die afwesigheid van elektriese toevoer vanaf waterpompe.
Die SAPD se ondersoek na die verdagtes se betrokkenheid by kabeldiefstal in die omgewing duur voort.