Bo Karoo Vasbyt: 100 km binne 4 dae met ‘n tyd van 7 ure 24 min 53 s
In 2016 het hy sy eerste Bo-Karoo Vasbyt gedoen. Alhoewel hy nie elke jaar kon deelneem nie mik hy dat hierdie jaar omtrent sy sesde keer was met ‘n Ligloop iewers tussenin.
Joost Strydom, die Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging het die Vasbyt ook as ‘n goeie voorbereidingsgeleentheid vir Comrades gebruik. “Die kilometers is goud werd, want mens kan nie vir Comrades met daardie kilometers voorberei nie. Jy moet poog om 1000km op jou voete te kry voor Comrades gebeur.”
Hy beklemtoon dat Vasbyt uniek is juis omdat mens op moeë bene weer en weer moet hardloop, soos tydens ‘n Comrades. Dag drie was nog elke jaar vir hom die moeilikste en vanjaar was geen uitsondering nie. Dag een is mens vars al is hy die verste, dag twee is kort en vinnig.
“Ek het vanjaar ‘n persoonlike beste op dag twee gehardloop, en hoë spoed haal baie uit mens uit vir die volgende dag. Dag drie was my bene seer, ek was opgebruik na die eerste twee dae en daar was baie bulte op die roete. Dit was by verre die moeilikste dag en dit is ook die dag wat mens die meeste alleen hardloop,” vertel Joost.
Dit sit nie in elke persoon se bene om soortgelyke marathons aan te pak nie, daarom het Joost hierdie wysheid waaraan hy vashou: “Aristoteles of Durant of een of ander filosoof het gesê; “ons is wat ons herhaaldelik doen, uitnemendheid is dus nie ‘n aksie nie, maar ‘n gewoonte”. As mens wil goed wees in iets, moet mens op die slegte, besige, moeilike, swak dae rede soek om dit te doen, eerder as om rede te soek om verskonings te maak.”
Hy wil elke Oraniër aanmoedig om ten minste 5 keer per week te oefen. Of dit nou ‘n stappie of tien minute se oefening is, dit alles tel bymekaar aan die einde van die jaar. Hy beveel aan dat dit ‘n gewoonte is, want dan word dit maklik(er).
Hy vertel opgewonde dat hy van ten minste drie gesinne weet wat Orania deur Vasbyt ontmoet het, en nou verblyfreg het of reeds hier woon. Hy sien die Vasbyt as ‘n toerismegeleentheid waartydens elke Oraniër as ambassadeur moet optree. “Oraniërs moet elke so geleentheid sien as ‘n kans om mense vir ons saak te werf.”
Hy was trots om deel te wees van die projek wat hoofsaaklik deur Marieta Combrinck, Yolandi Swanepoel en hulle span aangebied is. Hy deel dat dit ‘n goeie geleentheid is waar hulle voortbou op wat dr Danie Brink in 2016 begin het.
Hoogtepunte vir Joost:
Vasbyt, soos enige uithousport, gaan oor mense wat gemeenskap in gedeelde swaarkry vind. Om ander atlete aan te moedig om hulle beste te gee, om te sien hoe mense se koppe hulle lywe oorwin, om te sien hoe mense met pyn aanhou probeer en om te sien hoe Orania se jongspan (Henry Roets,
Dawid Roets, die Murphy’s en Enrico Swanepoel) reeds die moed het om hierdie afstande aan te pak is vir my ‘n absolute riem onder die hart. Daarmee saam die gereelde deelnemers wat jaarliks terugkom, lekker atmosfeer, die sosiaal en tradisies, die wegspring met sweepslag ensovoort, is alles vir my belangrik. Die lekkerste is ‘n goeie wedloop op eie bodem! Mens kan deelneem en steeds om 10h30 weer by die werk wees, so eie aan Orania!