Koerania

Sedert 2020 het Theuns Wessels, die hoof van Weerbaarheid in Orania en Jeugkorps instrukteur, jongmense tussen die ouderdomme van 17 en 23 begin voorberei om patriotisme vir Orania te ontwikkel.

Die Jeugkorpsprogram sluit ses naweekkampe gedurende die jaar in wat aktiwiteite soos marsjeer,  noodhulp, veldkuns, skietkuns en ons ryk geskiedenis insluit. Dit is vir die instrukteurs belangrik om die Orania-idee by die jeug tuis te bring.

Theuns vertel met trots wat die sukses van die program duidelik is aangesien lede gereeld na hul ervaringe, maklik en uitdagend, verwys wanneer hul daaroor uitgevra word. “Ons jongmense het begronding nodig en aangesien hulle die toekoms van Orania is, is hierdie die ideale voertuig om daardie kwaliteite en kennis oor te dra,” sê Theuns.

In haar toespraak het Magdaleen Kleynhans, ‘n instrukteur, gesê: “In hierdie uitdagende opleidingsproses leer die Jeukorpsrekrute nie net om individueel uit te blink nie, maar om as ‘n onverslaanbare eenheid op te tree. Of dit nou navigasie, taktiese vaardighede of kommunikasie was, julle het nie net bestaande vaardighede verbeter nie, maar ook nuwes ontwikkel.”

Ander persone wat as instrukteurs optree is Phillip Myburgh, Cobus Kirsten, Guilaume van Rensburg en Stefan Human. Die 2023 lede van die korps sal gedurende 2024, met die hulp van die Taakspan, as mentors opgelei word sodat hulle stelselmatig ‘n meer formele rol binne die program kan vervul.

Op 31 Januarie om 17:30 sal daar ‘n inligtingsessie en inskrywingsgeleentheid by die Gemeenskapsveiligheidsentrum vir persone wat hierdie waardevolle program oorweeg, aangebied word. Kontak Theuns Wessels by  071 3522 754 vir meer besonderhede.

Links: Theuns Wessels, Jeugkorps-instrukteur in die middel met Eldien Kirsten en Hermanus Havenga, die twee top presteerders van die 2023 rekrute.

Presteerders in 2023

Eldien Kirsten is aan die einde van 2023 as ‘n lid van die Jeugkorps as top presteerder aangewys. Eldien is ‘n werkende jong dame wat balletklasse gee, ‘n afrondingskool begin het en ‘n werkende lid van ons gemeenskap is. “Ek is deur my broer, Cobus Kirsten, oortuig om deel te word van die Jeugkorps, aangesien hy die program voltooi het. Ek het dit as ‘n uitdaging gesien en ‘n geleentheid om iets nuut te leer,” vertel Eldien. Die program het haar geleer dat sy tot meer in staat is as wat sy ooit vermoed het.

Die grootste les, volgens haar, was om al die nodige warm klere in ‘n sak te pas sodat sy in die middel van die winter in die veld kon slaap en oorleef. “Ek was hoogs onsuksesvol,” spot sy. Sy vertel dat sy beslis iemand sou aanbeveel om die program te volg. “As jongmense kan verstaan dat jy BUITE jou gemaksone moet leef om persoonlike groei te kan beleef, sal hulle hiervan deel word!“

Eldien voel dat die jeug in dié moderne tye moet leer dat hul slegs op God kan vertrou. “Ek het hoop vir ‘n goeie toekoms, maar meer van die jeug moet erns maak met die toestand waarin ons land is en hulself met die nodige vaardighede bemagtig om ‘n verskil te kan maak,” sê sy op ‘n ernstige noot.

Haar slagspreuk: “The best time to raise dragon slayers is in a time of dragons.”

Eldien sien daarna uit om uitdagings in die toekoms met meer selfvertroue aan te pak.

Hermanus Havenga is trots om as ‘n Jeugkorpslid van 2023 erkenning te kry vir sy volgehoue lojaliteit en uithouvermoë. Hy werk tussen die pekanboorde by Vluytjeskraal 272. Alhoewel Cobus Kirsten hom ook oortuig het om by die program aan te sluit wou hy nuwe vaardighede buite sy gemaksone aanleer.

Sy grootste les was dat jy jouself moet toelaat om foute te maak.  “Om ‘n besluit te in ‘n gegewe situasie te neem en nie te lank te wag voor jy die besluit maak nie, is belangrik. Ek maak liewer die verkeerde besluit en leer daaruit as wat ek geen besluit neem nie,” sê Hermanus.

Hy vertel dat dit ‘n uitdaging was om ‘n seksie te oortuig dat almal hul insette kan lewer en dat kommunikasie belangrik is. “Leierskap verg baie van ‘n individu,” noem hy.

Hermanus sal graag ander lede van die jeug aanmoedig om deel te word van die Jeugkorps, want jy leer nuwe vaardighede aan en die hele proses toets jou fisiese- en emosionele vermoë.  “Die Jeugkorpskampe druk jou fisies en emosioneel tot op ‘n plek waar mens nie gewoonlik uitkom nie, want ‘n mens gee op voor dit erg raak,” vertel hy. 

Hy wil die jeug motiveer om soms die nar in ‘n situasie te wees, met die wete dat jy dalk ‘n fout gaan maak. “Hoe gaan jy weet as jy nie probeer nie?”

Hermanus is ‘n man wat graag eendag wil trou maar hy hou vol dat hy vanjaar meer aktiwiteite buite sy gemaksone gaan aanpak en dat sy besluitneming vinniger sal geskied.

Post Views: 131