Hy is nie meer ‘n kuiken nie, maar as daar van braaikuikens gepraat word, staan hy voor in die ry met kennis, ondervinding en slagplanne. Jannie Roux is sedert die stigting van Orania by die idee betrokke, en het in 2013 vanaf Kroonstad na Orania verhuis om sy entrepreneurwortels diep te kom plant.
As gesoute vleisboer en produsent het Jannie in 1998 ‘n hoenderabattoir gevestig, wat steeds van krag tot krag gaan. Hy het in 2005 sy aandele in dié betrokke besigheid verkoop om net verder met sy insig te woeker. Sy nuwe lappie grond in die Boesmanland, tussen Kenhard en Pofadder, het ‘n geleentheid tot ekstensiewe vleisproduksie opgelewer.
Jannie kan nie stilsit nie en tydens ‘n besoek aan NAMPO Wes-Kaap in 2010 het hy iets raakgesien wat hy in kon glo en wat hy in Orania kon uitbou. Orania Betonwerke het tot stand gekom, aangesien hy kon inkoop in die vervaardiging en gebruik van boublokke vir projekte.
“Die hele Kloekielaan in Kleingeluk se huise is met dié boublokke gebou,” vertel hy met trots. Hy verduidelik dat die boublokke ‘n goedkoper boukonsep toelaat en dat dit ‘n produk is waarmee maklik gewerk kan word. “Jy het nie spesiale vaardighede nodig om daarmee te bou nie. Ek gebruik dit vir al my bouprojekte,” voeg hy by. In 2019 verkoop hy die besigheid aan sy seun, Janneman.
Aangesien Jannie vinnig vertel dat hy in sy vryetyd werk, het hy ‘n nuwe uitdaging gesoek. NAMPO was weer die plek waar hy inspirasie gekry het. Hy het die eerste Eleksavoertuig daar aangeskaf en Sonja Roux ry steeds die eerste voertuig wat hy aan haar verkoop het. Hy het kort daarna die eerste 3-wiel bakkie (TailG) bestel en toe besluit om vanaf 2021 ‘n agentskap in Orania te bedryf.
Behalwe dat hy besighede in Orania vestig en daarmee werk skep het hy drie termyne as lid van die Orania Aandeleblok se direksie gedien. Vir 8 jaar het hy sy hoofrol as lid van die vergoedingskomitee ernstig opgeneem en ook daar sy insette gelewer.
Sedert die begin van die 70’s was Jannie al as lid van SABRA betrokke. “Ek glo absoluut in selfwerksaamheid, want so het ons ook groot geword. Dit was altyd die droom dat die Afrikaner homself kan vestig. Ek het selfs op my plaas Afrikaners in diens geneem. Selfwerksaamheid is die antwoord!” hou hy met oortuiging vol. “Jy kannie van iemand verwag om insette te lewer en jy gee hom nie ‘n aandeel daarin nie. Jy moet self in staat wees om te doen, en nie van ander verwag om werk namens jou te doen nie,” voer Jannie verder aan.
Vandag betonwerke begin is, het hy dié beginsel toegepas. Die personeel het spaarbydrae gelewer wat maandeliks verdubbel is. So kon hy mense bemagtig om later hul eie eiendom aan te skaf. ‘n Personeellid het binne 10 jaar sy eie eiendom afbetaal. “Eiendom gee vir jou die grondslag van trots, selfbeskikking en gemoedsrus vir jou oudag. As jy nie voldoende voorsiening gemaak het vir pensioen nie, het jy ten minste ‘n dak oor jou kop,” noem hy met erns.
Jannie glo daarin dat elke individu eienaarskap moet neem van die gemeenskap waarbinne jy woon. Dienslewering in praktyk is deel van sy lewensleuse en op die ouderdom van 70 bou hy voort. “Jy moet produktief bly solank jy die kennis en gesondheid het. Alle eer kom my hemelse Vader toe.”
Hy neem sy omgewing waar en het daardeur gesien dat baie Oraniërs sonder vervoer moet klaarkom en tevoet rondbeweeg. Sy nuutste toevoeging is ‘n pendelvervoerdiens wat deur elektroniese busse verskaf word. Die internasionale dekking wat dié twee busse gekry het, was verstommend. ‘n Hele klomp sosiale media platforms het behoorlik gegons oor dié vooruitgang in Orania. Die kritici se monde is meestal deur positiewe kommentaar en ingeligte opinies gesnoer.
Jannie glo in billike arbeidsverhoudinge en bevorder graag harmonie tussen werkgewer en werknemer wanneer hy by arbeidskwessies betrokke raak.
Dié entrepreneur voorsien kloksisteme wat die tydhouding van werknemers vir ‘n besigheidseienaar te vergemaklik. “Dit neem die angel uit arbeid,” glo hy.
Asof dit nie genoeg van sy tyd in beslag neem nie, is hy betrokke by die installasie van dieselbeheerstelsels in die landbouomgewing. “Jy moet meet om te kan weet,” glimlag hy. Hy bevestig dat SARS se dieselrabateise aan ‘n paar voorgeskrewe standaarde moet voldoen.
Een van Jannie, en sy vrou Rita, se vier kinders woon in Kanada. Hulle het gedurende September vir ‘n maand by hul oudste dogter en haar gesin gaan kuier om ook die kleinkinders te sien. Hul ander twee seuns woon met hul gesinne onderskeidelik in Witbank en Heilbron.
Sy raad aan persone wat Orania as hul Afrikanertuiste oorweeg is om te verseker dat dit ‘n roeping is om die Afrikanerkultuur uit te leef en selfbeskikking toe te pas. “Ons grondslag bly ononderhandelbaar en iemand sal teleurgesteld wees in Orania en dalk te laat besef dat hy of sy nie hier hoort nie. Indien iemand nie werk het nie moet hy of sy bereid wees om enige werk te doen en die ekstra myl loop vir ons doeldorp.”
Vir sy mede-Oraniërs wens hy dat elkeen eienaarskap sal neem vir waarmee hy of sy besig is. “Dit hang van jouself af of jy suksesvol sal wees,” beklemtoon Jannie. Hy begeer ‘n kultuur van samehorigheid waar elkeen verantwoordelikheid vir hul dade sal aanvaar.
Hy lê klem daarop dat Orania se skole en tersiëre sentrums vir studente verantwoordelikheid moet aangeleer, waar alle beginsels op die Skrif gegrond word. “Ons geestelike waardes binne Orania moet op ‘n hoë standaard bly en jou optrede moet van redding getuig.”
Daar bestaan nie vir Jannie Roux iets soos aftrede nie. Hy weet dat hy tot dusver ‘n vol lewe gehad het, en aangesien hy op die stem van die Heilige Gees vertrou, weet hy dat tyd sal leer, want hy weet nie wat die toekoms inhou nie.
Sy droom bly egter dat hy monumente binne Orania wil bou, vir Orania. Die Pendeldiensbusse is net sy mees onlangse monument.