Koerania

Hommeltuig-vlieg is nie kinderspeletjies nie

Die wetlike aspekte wat in ag geneem moet word voordat die vlieg van ’n hommeltuig vir private doeleindes oorweeg word, verseker die veiligheid van die operateur, omstanders en die omgewing. So verseker Ettiene de Lange, Hoof: Veiligheid ons, nadat hy sy weeklange opleiding voltooi het en daarmee sy lisensie vir die hantering van ’n Klas 1A of 1B RPA-hommeltuig verwerf. Dié lugvaartuig kan tot 7 kg saam karwei en word aangewend in situasies waar daar veral magsvermenigvuldiging benodig word. “Die tuig is vinniger, sien verder as ’n mens, en dien as effektiewe inligtingsbron,” vertel Ettiene.

Hy het jare terug ’n vlieglisensie gehad vir die vlieg van ’n ligte vliegtuig en daarom was die leerkurwe vir hom redelik maklik.
“Sodra inligting met sekuriteit en veiligheid te doen het, spits my ore,” sê Ettiene. Hy vertel dat die Direktoraat van Burgerlugvaart (SACAA) die lisensies reguleer en indien ’n hommeltuig val dit as ’n vliegongeluk beskou word en volledige ondersoeke volg. “Dit is eintlik vreesaanjaend as jy daaraan dink dat jy met ’n masjien ter waarde van φ100 000 vlieg en dit met slegs twee vingers beheer.”

Ettiene verduidelik dat voet- en voertuigpatrollies daagliks gedoen word, maar dat sekere areas nie toegangklik is vir voertuie of voetgangers nie. Indien daar ’n situasie ontstaan waar dit nodig is om sulke onbegaanbare gebiede te bespied, word die hommeltuig ingespan.

’n Lugbandradio word gebruik om volledige inligting te deel voordat die hommeltuig in die lug gestuur mag word. Die vlieënier meld aan met sy naam, waar die vlug plaasvind, hoe lank hy beoog om te vlieg en meld wanneer die vlug beëindig word.

Een van die voorskrifte van die vlieg van ’n hommeltuig is die beperkte visuele lyn wat gehandhaaf moet word. Dit beteken dat ’n operasie binne 500 m van die afstandbeheerder en onder die hoogte van die hoogste hindernis binne 300 m van die tuig af, wat die vlieënier ononderbroke visuele kontak met die tuig moet handhaaf om sy vlug te bestuur en voldoen aan skeidings- en botsingvermydingsverantwoordelikhede, plaasvind.

Die feit dat ’n hommeltuig nie naby bemande vliegtuie, binne verbode lugruim of 10 km of nader aan ’n vliegveld mag vlieg nie is deel van die veiligheidsaspekte. Die tuig mag in daglig en gedurende die nag met helder weerstoestande opstyg.

Die vlieënier moet alle statutêre vereistes met betrekking tot aanspreeklikheid, privaatheid en enige ander wette afdwingbaar deur enige ander owerheid in ag neem. Swaar boetes word vir oortreders opgelê.

Die toevoeging van ’n watervleuel vir Orania se veiligheid

Die totstandkoming van ʼn watervleuel het tydens die soektog na die liggaam van Clarissa Joubert na haar verdrinking in die Oranjerivier in Januarie 2020, ʼn werklikheid geword.

Die aankoop van ʼn geskikte reddingsboot was die begin van die proses. Ettiene het bevestig dat die reddingsboot aangekom het. “Daar is reeds ʼn lang lys met name van persone wat belangstel om hul vernuf met swem, noodhulp, lees van kaarte, lees van strome en hantering van toerusting te toon of te verbeter,” noem Ettiene.

Hy stel dit ten doel dat die span altyd op ‘n gereedheidsgrondslag sal wees om die rivier te patrolleer. Die lisensies en veiligheidstoerusting van privaat tuie wat op die rivier vaar moet nagegaan word. Mauritz Meyer staan tans aan die hoof van die watervleuel. “Ons wil onsself kan help, maar ook beskikbaar wees vir ons omgewing, aangesien hier baie water is,” sê hy. “Veilige Orania, veilige streek.”

Snytoerusting se onskatbare waarde
Dit is ʼn gerusstellende feit dat die beskikbaarheid van snytoerusting na ʼn motorongeluk van onskatbare waarde kan wees.

Dissie Kruger, ʼn boer buite Orania, het sowat 18 maande gelede die belangrikheid daarvan persoonlik beleef toe hy ongeveer 20 km buite die dorp in ʼn ongeluk betrokke was. Die wrak van sy voertuig was so beskadig dat die snytoerusting gebruik moes word om hom uit die wrak te bevry.

Volgens Ettiene de Lange is dit nie ingewikkelde masjinerie nie, maar dit moet met groot omsigtigheid hanteer moet word. Nadat die naburige brandweer onlangs erken het dat daar binne 250 km vanaf Orania nie werkende toerusting beskikbaar is nie, is dit goeie nuus vir Orania-inwoners dat Orania Veiligheidsdienste oor al meer toerusting beskik.

Post Views: 160