Oraniërs het vroegoggend op Donderdag 10 Oktober bymekaargekom om Heldedag te vier. Dié dag is jaarliks ‘n amptelike vakansiedag in Orania.
Lede van die gemeenskap het al stappende deur die dorp beweeg. Daar is by verskeie bakens stilgehou en kundige sprekers het die geskiedenis van Afrikaner volkshelde voorgehou.
Ds Durandt du Preez het die verrigtinge geopen voordat die groep na die Beeldekoppie gestap het vir ‘n baie interessante aanbieding deur dr Louis Bothma oor Hendrik Verwoerd se rol in die Afrikaner se geskiedenis.
By die Ierse Monument het Joost Strydom oor die Iere se rol in die Tweede Vryheidsoorlog gesels. Die rol van vroue binne die vryheidsstrewe is deur Lida Strydom by die Koeksistermonument hanteer.
Carel Boshoff het by die Mosaiektrappe meer oor die Oraniapioniers gedeel voordat ds Ronald Bain by die voorgestelde stadsplein van President Paul Kruger se Afrikanerskap getuig het.
Die oggend se interessanthede is met koffie en koeksisters gevier en afgesluit met ‘n toer deur die Kultuurhistoriese museum.