Elred Ferreira is ‘n bekende gesig, Orania Aandeleblok direksielid, lid van die arbeidspaneel en sosiale media stem in Orania. In Junie 2023 word hy met ‘n vroeë stadium 4 klierkankerdiagnose getref.
Non-Hodgkin’s Limfoomkanker se prognose kan soms ‘n donker wolk oor ‘n pasiënt se kop laat hang, aangesien, soos in Elred se geval, dit ‘n laat diagnose was en baie kliere reeds aangetas was. Dr Smalberger, Onkoloog in Kimberley, het Elred bemoedig deur te noem dat klierkanker een van die kankers met die heel beste oorlewingsyfers is. “Ek is die tipe wat altyd oorleuen na die mediese wetenskap en nie alternatiewe oorweeg nie. Aangesien daar gesê word dat chemoterapie suksesvol toegepas word op pasiënte met klierkanker, vertrou ek die dokters. Hulle het studeer vir die kennis wat hulle het, daarom bly ek geneig om daardie roete te gaan,” sê Elred met oortuiging.
Die berugte “rooi duiwel”-chemoterapie word toe vir Elred voorgeskryf. Elke 21 dae, vir ongeveer vier maande moes hy ses sessies van ses ure elk deurstaan. “As hierdie sterkste behandeling nie suksesvol was nie sou ek sekerlik alternatiewe opsies oorweeg het.”
Koerania wou by Elred weet wat met sy psige gebeur na so ‘n diagnose. “Jy wil jouself jammer kry en dan herinner jy jouself aan 9 en 11 jarige kinders wat deur kankerbehandeling moet gaan. Skielik besef jy dat dit jou op 61 eers tref en dan kom alles min of meer weer in perspektief.”
Hy erken dat wanneer selfbejammering soms die houvas op hom wou kry, hy homself moes herinner aan die miljoene mense wat al aan kanker dood is, en dan kon hy berusting vind omdat hy homself nie beter as ‘n ander kankerpasiënt kon ag nie.
In Elred se loopbaan het hy gereeld met Joodse gemeenskappe gedeel. “Hulle aanvaar nie verloor nie. Daar bestaan by hulle ‘n ongekende gesindheid van deursettingsvermoë. Ek het weer uit daardie bron krag geput,” vertel hy.
In die chemosaal, vertel hy, heers daar ‘n neerdrukkende atmosfeer. “Dit is jy en die naald en allerhande pakke medikasie om jou immuniteit te bou. Die laaste pak is die rooi duiwel. Jy is omring met mense wat ook met naalde in hulle arms sit. Sommige is in ‘n gevorderde stadium van hul behandeling en/of die siekte.” . Die geselsies wat hy met mede-lyers aangeknoop het, het nie na dieper verhoudings gelei nie. “Almal wil dit net verby kry!”
Elred se grootste motivering was die spesiale aanbod op ‘n gourmet pizza wat hy na afloop van elke behandeling by ‘n gewilde restaurant gaan geniet het.
“Chemoterapie is nie jou maat nie. Dag 2 en 3 begin hy jou vat tot dag 11 en 12. Dan voel jy net ‘n week redelik goed voordat die volgende behandelingsessie gebeur. Jy is naar en jy voel siek soos wanneer jy Covid het. Ek het gelukkig geen braking beleef nie, maar jy voel 24 uur van ‘n dag naar en mislik!”
Gedurende hierdie vier maande het hy geen verblyfregsessie, direksievergadering of ander vergadering waarby hy normaalweg betrokke is, gemis nie.
Elred is na ongeveer vier maande “skoon” verklaar. Dit is vir hom baie duidelik dat die “rooi duiwel” die kanker platgeslaan het. Na vier sessies het die skandering reeds getoon dat die grootste gedeelte van die kanker gewyk het.
Hy vertel hoe vriende en familie hom wou besoek om moontlik te groet. Sy dogter het uit Bettiesbaai vir hom kom kuier omdat sy bang was dat dit dalk die laaste keer sou wees. Hy is egter opgewonde daaroor dat dié besoek hul verhouding versterk het. “Jy het heeltemal ander planne, want wat jou betref gaan jy nêrens heen nie. Dit is ander wat dink jy gaan sterf.”
Elred verduidelik dat hy die erns van kanker besef, maar dat ‘n oorlewingsdrang hom oortuig het om nie in ‘n swart gat te verval nie. “Dit maak nie saak hoe tough of hardegat jy is nie, kanker is ‘n ernstige siekte wat jou kan doodmaak. Ek het dit as ’n moeilike tyd in my lewe gesien waardeur ek moes gaan, sodat dit aan die ander kant daarvan beter sal gaan.”
Die skaal staan weer op 102kg, sy normale gewig, en sy hare het terug gegroei. Na ‘n jaar is hy dankbaar vir ‘n byna “normale” liggaam. Na ‘n jaar sal die opvolgbesoeke elke drie maande moet plaasvind, en daarna elke ses maande. “Dit is maar soos ‘n swaard wat oor jou kop hang. Die uitslae van bloedtoets of skandering gaan vir jou een van twee antwoorde bring: meneer Ferreira jy is skoon, of meneer Ferreira, hul het iets opgetel… Dit is nie ‘n lekker swaard om oor jou kop te hê nie. Jy kan net hoop vir die beste,” deel hy.
Hy het gereeld ‘n gevoel van “ag shame” van mense beleef, maar die gemeenskap en gebedsgroepe het hom gedra. ‘n Vriendin uit die Kaap het hom vir drie maande in sy besigheid kom bygestaan. Hy spreek ook sy dankbaarheid teenoor Ria en Chris Welgemoed uit wat hom in dié tyd geweldig ondersteun het.
Elred is onlangs met Toinette getroud en sy het, volgens hom, nuwe opwinding in sy lewe gebring. “Ek het weer lus vir die lewe. Ek moes vir drie jaar alles wat met besigheid, my diere en die perseel te doen het alleen doen. Sy het my in staat gestel om weer te leef,” vertel hy met ‘n stuitige glimlag.
Hy wil nog ‘n daadwerklike bydrae lewer om te verseker dat Orania sal aanhou groei en ontwikkel en ‘n vooruitstrewende Arikanergemeenskap sal wees. “Ons is dit reeds, maar het getalle nodig om ‘n faktor te wees. Ek is positief oor die toekoms van Orania. Ons sal al hoe meer op mense se lippe wees, alhoewel ons dalk ‘n relatiewe kleiner gemeenskap sal bly. Ek voorsien nie ‘n volkstaat nie,” sê hy.