Koerania

Vroeg in 2016 het Hannes en sy gesin Groblersdal in Mpumalanga met moeite verlaat om hulself in Orania te kom vestig.

Hannes het geen begeerte gehad om in dié rassistiese dorp enige voetspoor te laat nie. Sy vrou Antonette word genooi om haar getuigskrif te stuur vir ‘n pos by die Yo-Yo tenkkantore in Orania. Hannes se herwinningsbesigheid was nie op daardie stadium kookwater nie, en hulle moes na ander opsies kyk.

Hannes het geen begeerte gehad om in dié rassistiese dorp enige voetspoor te laat nie. Sy vrou Antonette word genooi om haar getuigskrif te stuur vir ‘n pos by die Yo-Yo tenkkantore in Orania. Hannes se herwinningsbesigheid was nie op daardie stadium kookwater nie, en hulle moes na ander opsies kyk.

Antonette se onderhoud was suksesvol, maar wat nou gemaak? Met ‘n rammelkasbakkie en meer as 1000km tussen hulle en ‘n nuwe toekoms het die prentjie maar donker gelyk. Met die intrapslag het vroulief egter verduidelik dat hul omstandighede dit nie toegelaat het om te trek nie. Haar nuwe werkgewer betaal R20 000 in haar rekening om die bakkie rybaar te maak, om brandstof in te gooi en ‘n deposito op hul nuwe huis te betaal. Kort daarna stop twee vragmotors met sleepwaens voor hul Groblersdalhuis om die meubels te laai. Dit is hoe Hannes toe in ‘n dorp beland waar hy nooit wou wees nie.

Hannes se plan was om so gou moontlik blyplek in ‘n ander dorp te kry. Die noodlot werk egter nie altyd saam met ‘n mens se vooropgestelde planne nie. “Binne ‘n kwessie van ‘n uur nadat ons arriveer het, kom stel die bure hulleself aan ons voor. Ons word dieselfde Saterdagaand na ‘n braai by Stokkiesdraai uitgenooi,” vertel Hannes.

Binne ‘n week het sy opinie oor Orania as ‘n veragtelike rassistiese dorp in die middel van nêrens, na ‘n dorp waar sy mense bly, verander. “Nou ja, ons is steeds in die middel van nêrens, maar ek sou dit nooit vir enige ander plek verruil nie.”

Hannes skryf graag, maar hy is vinnig by die bedrywighede van Radio Orania betrek. Die begindae by die stasie was taai, want hy het homself nooit agter ‘n mikrofoon kon indink nie. Hy is ‘n man wat stilte en meer intieme groepies verkies.

Hy kon nog nooit sy groot liefde vir die kweek van plantjies afskud nie. Aangesien die radiowerk baie van sy tyd geeis het, was die kweek van mikrospruite sy fokus. Dit was nie ‘n rykwordplan nie, maar die hoeveelheid vriende wat hy ontmoet het wat graag by hom van die spruite aankoop, maak alles die moeite werd. “Die positiewe terugvoer omdat mense dit geniet het en die vreugde om iets te sien groei is vir my heerlik,” sê Hannes.

Hannes geniet ‘n bord boerekos, sonder vleis en peusel graag aan neute en sade. ‘n Stasiekoffie is vir hom lekker maar kom nog nie naby ‘n dik pepermentgeur melkskommel met stukkies pepermentsjokolade in nie. “Ek sou dit elke dag geniet het, as ek gedink het dit sou wys wees,” lag Hannes.

Hy het ‘n groot liefde vir die tagtigs se popmusiek. “Ek moet erken, soos ek ouer geword het, en natuurlik met die invloed van die radio, het die spektrum waarna ek luister baie verbreed. Ek luister graag na uitgesoekte Christelike musiek en ek geniet Countryklanke, maar selfs klassieke musiek val in my smaak,” vertel hy ewe dromerig. Daar is soveel gunsgtelinge, maar Bonnie Tyler is beslis een van sy gunsteling vroulike kunstenaars.

Die nuwe radiostasie waarby Hannes nou betrokke raak maak hom opgewonde. Hy besef dat elke nuwe wending in ‘n mens se lewe met uitdagings kom, maar hy weet waar sy hulp vandaan kom. “Ek hou my hande oop om deur ons Hemelse Vader gelei te word. Ek hoop en bid dat wanneer my lewe tot ‘n einde kom, ek steeds vir Hom sal werk.”

Christus Adventis Radio, Hannes se nuwe landingsplek, se doel is om soveel mense as moontlik aan die hand van die Heilige Gees te bereik. Hannes sien daarna uit om ‘n bietjie regstreekse uitsaaiwerk, redigering en skedulering van alle goedgekeurde programme te doen, asook musiek by die programinhoud te voeg.

Hannes bly dus steeds ‘n Oraniër en sy spore gaan steeds ‘n verskil maak.

Post Views: 91