Koerania

Hanlie wil BKO op almal se lippe hoor

Hanlie Pieters het op 1 Augustus by die BKO-span aangesluit en sien daarna uit om as hul nuwe bemarkingsbestuurder die naam van BKO uit te dra. Sy is baie gou ingespan toe die Bo-Karoo Opleidingsentrum by KragDag ‘n stalletjie vir bemarkingsdoeleindes hanteer het. Hannelie se man, Marnus, is steeds in Pretoria werksaam, maar hul sorg dat daar kwaliteit tyd beplan word om mekaar te sien en te kuier.
Hanlie se missie is om die naam van BKO so bekend te maak dat dit as ‘n eerste opsie deur ouers en voornemende studente genoem sal word wanneer studiekeuses gemaak word.
Koerania het ‘n paar vrae aan Hanlie gerig en deel graag haar insiggewende antwoorde.

1. Vertel ons van jou beroepsgeskiedenis?
Ek het my loopbaan begin in kommunikasie en bemarking en het amper 30 jaar se ondervinding in verskeie korporatiewe rolle opgedoen. Ek het ‘n passie vir strategiese bemarking, wat my gelei het na verskeie suksesvolle projekte en langtermyn besigheidsverhoudings. My studies in bemarking het ‘n sterk grondslag gelê vir my loopbaan en het my vaardighede verskerp in die hantering van komplekse kommunikasie-uitdagings.

2. Hoekom Orania?
Ek was aangetrokke tot die gemeenskap se visie vir selfstandigheid en glo dat dit die perfekte plek is om ‘n bydrae te lewer tot ‘n gemeenskap wat aanhou groei en vooruitgaan.

3. Waarom bemarking?
Bemarking is ‘n instrument wat gebruik kan word om ‘n gemeenskap se ware waarde uit te dra. Dit stel my in staat om die boodskap van BKO en sy visie te deel, nie net met huidige studente nie, maar ook met potensiële nuwe leerders wat ons toekomstige leiers in beroepsvaardighede kan wees. Dit is die kern van enige suksesvolle instelling se groei.

4. Jou toekomsvisie vir BKO?
Ek sien BKO as die voorloper in beroeps-opleiding, nie net in Orania nie, maar regoor die land. Ons droom is om ‘n impak te maak deur duisende jongmense toe te rus met skaars vaardighede wat hulle vir die toekoms sal bemagtig. Ek sien hoe ons opleiding verder ontwikkel met nuwe kursusse en innoverende metodes wat die behoeftes van ons gemeenskap en mark aanspreek. BKO gaan groei tot ‘n instelling wat erken word vir sy hoë standaarde en die gehalte van sy studente.

5. Jou opinie oor die rol van vroue in ‘n gemeenskap?
Ek glo vroue speel ‘n integrale rol in enige gemeenskap. Ons bring nie net organisasie en leierskap na elke faset van die lewe nie, maar ons dra ook by tot die bou van gesonde gesinne en sterk, ondersteunende omgewings.

6. Wat is jou uitnodiging aan studente vir 2025?
BKO is gereed om 2025 aan te pak met nuwe kursusse, meer geleenthede en ‘n groter fokus op praktiese vaardighede wat regtig ‘n verskil kan maak. As jy ‘n toekoms wil bou en ‘n hoopvolle toekoms wil hê, is BKO die enigste keuse!

Post Views: 100