Koerania

Van vroegoggend het mense na die Voortrekkermonument gestroom om die jaarlikse Militêre Fees by die Voortrekkermonument by te woon. Dit is die derde jaar wat dié fees in samewerking met die Pro Patria Museum (PPM) gereël is.

Volgens Leonie Marais, direksielid en kurator van die PPM, asook erfenisspesialis van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), is dit die grootste Militêre Fees in die afgelope drie jaar wat getalle betref waar duisende mense opgeruk het na die Voortrekkermonument.

Henk Maree, funksies en feestebestuurder by die Voortrekker-monument, is dankbaar om soveel voete te sien. “Vir die Voortrekkermonu-
ment is dit net weereens die grootste voorreg en ondervinding om saam met die Pro Patria Museum die Militêre Fees by die Voortrekkermonument te kan aanbied. Ons sien vandag weer, ’n mens se gemeenskap is baie breër as wat jy dink. Die opkoms is ongelooflik goed en daaroor is ons baie dankbaar. Ons sien daarna uit om die fees elke jaar net groter en beter te maak.”

Die fees bied verskeie aktiwiteite vir jonk en oud. Meer as 80 stalletjies, uitstallings en ook
kosstalletjies het vanjaar bygedra tot die fees se reusesukses.

Volgens afgetrede genl.maj. Lawrence Smith, voorsitter van die Pro Patria Museum, is daar vanjaar 25% meer militêre veterane-organisasies wat deelgeneem het aan die fees.

Om 09:00 is ’n optog gehou om die fees in te lei waar Skotse doedelsakspelers die mense vermaak het met pragtige spel. Motorfietse en jongmanne geklee soos soldate het ook deel uitgemaak van die optog.

Verder is lesings deur veterane, wat stories uit die oorlogdae vertel, aangebied. George Richter is die eerste spreker wat meer vertel het oor die Recces. Richter was ’n lid van die Suid-Afrikaanse Weermag se spesiale magte. Hy het gedien in 1 Recce, 4 Recce en 5 Recce. Hy het verskeie operasies gedoen in die Bosorlog en ook Mosambiek.

Ander sprekers het gesels oor afdelings in die oorlog waarvan hulle deel uitgemaak het, soos die 32 Bataljon.  

“Die Militêre Fees is ’n geleentheid vir oupas om makliker met hulle kinders en kleinkinders te praat oor die bydrae wat hulle vir die land gelewer het. Die fees is ook ’n geleentheid vir ou kamerade om weer met mekaar te gesels,” sê Smith.

Johan Harmse, oudlid van die Suid-Afrikaanse Weermag, het vandag vir die eerste keer die Militêre Fees bygewoon. “Ek het nou drie van my oud-Seniors hier raakgeloop. Dit is wonderlik, want ek het nie gedink ek gaan hulle ooit weer sien nie.”

Cornell Louw besoek elke jaar die Militêre Fees saam met haar man. “Vanjaar is veral vir my besonders lekker. Dit is lekker om soveel mense hier te sien. My man was in die weermag, so ons kom elke jaar. Dit beteken vir hom so baie om ou vriende raak te loop.”
Duisende mense het na die Voortrekkermonument gestroom vir die fees en kan al reeds nie wag vir die volgende een nie.

Jou ondersteuning kan die Voortrekkermonument se hande sterk maak om nog meer geleenthede soos hierdie aan te bied. Klik op hierdie skakel: www.vtm.org.za/donasies/

Post Views: 112