In Mei 2024 kon James Kemp en sy vrou tien jaar in Orania vier. Vanaf September 2024 breek ‘n nuwe seisoen egter vir die egpaar en hul dogtertjie aan, want James is onlangs as die nuwe Stasiebestuurder van PretoriaFM aangekondig.
“Ons basis gaan nou in Pretoria wees, maar my Oraniahuis sal ons behou en ons beskou onsself steeds as inwonende Oraniërs,” vertel James tydens ‘n onderhoud met Koerania. Hy is sedert 2006 ‘n lid van die Orania Beweging en spreek homself gereeld sterk uit oor die waardes van Orania en die Orania-idee.
Pretoria, waar heelwat van hul familie en baie vriende wooon, is vir dié gesin baie bekend, maar die finalel besluit om te verhuis was nie ligtelik geneem nie. “Ek gaan nie ligtelig met die term om nie, maar ek voel geroepe tot hierdie taak. Twintig jaar gelede het ek my heel eerste nuusberig by Radio Pretoria geskryf en was ek deurlopend by die stasie betrokke. Radio is vir my ‘n passie,” vertel James met sy hart op sy mou, terwyl Lillie-Marie met groot oë vir haar pappa kyk.
Die feit dat Orania nie meer James se voltydse adres gaan wees nie gaan vir hom met bepaalde heimwee gepaard. “Om hierdie rol te kan beklee is in ‘n groot mate iets wat waar word, wat ek nie eers geweet het ek het in my nie. Die keuse het my laat worstel, maar ek het in my binneste gevoel dat hierdie iets is wat ek MOET doen.”
Aangesien ‘n stasiebestuurder, volgens ICASA se voorskrifte, nie as omroeper mag optree nie gaan hy nie meer op die lug gehoor word nie. Politiek is sy kos en die verkiesingsdekking gaan hy beslis mis. “Vanaf 2014 het PretoriaFm regstreeks vanaf die nasionale uitslagsentrum uitgesaai. Ons moes daarvoor baklei, want die onafhanklike verkiesingskommissie het ons as streeksender beskou. Ek is trots om dit na te laat en in my nuwe posisie verhoudings voort te bou.”
Verandering bring egter nuwe geleenthede en James sien uit na die prominente digitalisering van PretoriaFM waar hul op potsendings, Youtube nuusaanbiedings en die uitbreiding van hul sosiale media platforms gaan fokus. “Ons gaan ‘n groter kuberteenwoordigheid handhaaf, want dit vorm deel daarvan om in pas te bly met tegnologie,” beduie hy opgewonde. Hy beaam dat tradisionele nuusbronne nie meer so gereeld aangewend word nie en dat toepassings op ‘n selfoon en rekenaar enige nuusbron se gehoor verbreed. Alhoewel hy kennis neem van ander radiostasies, noem hy dat PretoriaFM eerder sy eie grootste kompetisie is. “Ons waak teen stagnering en wil die Afrikaanse, en selfs Engelse mark, deurlopend en met kwaliteit inhoud bereik.”
Enige persoon wat meer as 30 minute in James se geselsskap is sal gou agterkom hoe groot sy nuus- en sosiale netwerk is. “Oor jare het ek myself omring met mense wat ek respekteer. Ek sukkel om oor ‘n lang tydperk met persone verhoudings te bou indien daar nie respek is nie.” Hy geniet dit om wysheid en leiding te put uit vriende of kollegas in sy werksomgewing. Sy vele nuuskontakte sal voortaan deel van sy kollegas se databasis word. Esmari Ysel is as die nuwe Hoofredakteur: Nuus en Aktualiteit by PretoriaFM aangestel.
Hy kan nie anders as om ‘n paar goed te noem wat hy gaan mis nie. “Visvang met my dogtertjie, ‘n koue bier saam met goeie vriende en my byna daaglikse Melk en Heuning-besoeke.”
James het sy rol in die Oraniagemeenskap hoog geag en was onder andere as lid van die uitvoerende raad by die Orania Beweging, die regsplegingpaneel, cantus, Raar maar Waar-fondsinsameling, Kaalvoetkonsert, Orania Skouspel en vele ander gemeenskapsprojekte betrokke.
Orania en sy selfwerksaamheidsbeginsel, ryk kultuur en vele tradisies laat geen individu onaangeraak nie. James vertel dat hy as man in Orania geleer het dat dit belangrik is om sterk te staan, maar dat dit nie onaanvaarbaar is om soms te erken dat jy kwesbaar is nie.
As leier het die dorp hom geleer dat enige posisie van mag met baie verantwoordelikheid gepaard gaan en dat dit belangrik is om nie te vergeet dat leierskap net rentmeesterskap vereis van iets wat aan ‘n klomp ander mense behoort.
Hy neem sy vaderskap ernstig op en het hier geleer dat die eenvoudigste dinge wat pa en dogter saam doen, die kosbaarste herinneringe bring en grootste trefkrag het. In sy vriendekring het hy geleer dat dit soms beter is om te luister as wat dit is om advies uit te deel.
Karin, sy vrou, is ‘n optometris wat steeds maandeliks haar kliënte in Orania sal diens. As eggenoot het James in Orania geleer dat hy nie moet huiwer om vir sy vrou te vra of alles reg en onder beheer is nie.
James se dae as rubriekskrywer vir Baba en Kleutertydskrif is verby aangesien sy dogter en hy dié tydperk ontgroei het. Daar kan egter uitgesien word na ‘n potsending-reeks waar James eersdaags met ander pa’s oor hulle ouerskap en vele interessante onderwerpe onderhoude gaan voer.
Daar word geskerts dat James nou stasiebestuurder deur die dag sal wees, maar in ‘n lid van Soms wen die wolf in die nag verander. “Ons gaan binnekort ateljee toe en tussen Oktober en Desember gaan ons orkes baie optree. Aanhangers kan kyk hoe ons oorskakel na die volgende rat, want ons is reg vir dit.” Dié luide musiek wat meestal uit hul eie penne kom, bestaan uit vier professionele beroepsvriende wat dit as ‘n prettige uitlaatklep beskou.
Hy vrees dit om wakker te word en uit te vind dat hy dalk sy lewe droom. “Ek voel soos Liewe Jesus se witbroodjie. Ek besef daar is algemene uitdagings wat waag, maar ek kan nie vir meer vra as wat ek nou het nie.”
Hy eindig met sy wens vir Orania: “Oraniërs, hou die doel voor oë en wees bewus daarvan dat niks vanselfsprekend is of vanself sal kom nie.”
Koerania wens James Kemp en sy gesin ‘n wonderlike toekoms toe!