Op Sondag 16 Junie word Vadersdag gevier. Dit is ‘n dag waarop kinders, ma’s, pa’s en families vaderskap kan vier! Pa’s kan geïnspireer word met hartlike wense, geskenke, foto’s en woorde van waardering. Tegnologie maak dit natuurlik maklik om jou liefde en gevoelens uit te druk. Niks sê dit egter beter as ‘n drukkie, in die oë kyk en om persoonlik vir hom te sê: “Ek is baie lief vir pappa!”
Koerania het vir ‘n paar vaders gevra watter raad hulle graag vir hulle kinders gegee het of tans gee en waarteen hulle hul kinders waarsku. Lees lekker saam aan die verskeidenheid kosbare antwoorde.
“Moet nooit vir my of enige iemand anders jok nie. Hulle het dalk probeer maar baie gou agter gekom dit werk nie.”
“Leef elke dag voluit! Wees nederig en geanker in jou geloof en gryp geleenthede met oop arms aan, want die lewe is net genade. Moet nooit iets doen waaroor jy later spyt sal wees nie.”
“Jy het net eenkeer ‘n goeie naam, werk hard om dit so te hou. Vra altyd: Wat sê die Here daaroor?”
“Ek waarsku my kinders om nie rondom stilstaande voertuie te speel nie, want dit gebeur té gereeld dat ouers oor hul eie kinders ry. My raad aan my kinders is om elke dag eerlik te wees, dit maak nie saak hoe moeilik dit soms is nie.”
“Neem goeie besluite, want jy is alleenlik verantwoordelik vir jou geluk en sukses. Doen jou werk of wat jy ookal doen goed, en lewer ‘n goeie produk of diens.”
“Die beste raad wat ek aan my kinders kan gee is ook die raad wat my pa aan my gegee het: Geluk werk partykeer, maar werk werk altyd.”
James moedig sy dogtertjie aan om altyd haarself te wees en daarteen te waak dat ander aan haar voorskryf wie en wat sy moet wees.
“Moenie die fout maak en dink jy het genoeg Bybel gelees nie.”
“Net omdat almal iets doen, beteken dit nie noodwendig dat dit reg is nie. Ek moedig my kind aan om vir homself te evalueer of wat hy doen reg is en op die regte manier gedoen word.”
PSALMS 119:9: Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na U woord.