Oraniërs en talle besoekers herdenk jaarliks die Gelofte wat 185 jaar gelede deur ons voorgeslagte afgelê is. Vanjaar was weereens ‘n pragtige geleentheid wat op die grasperk by Aan-die-Oewer aangebied is.
Honderde mense het sommer vroeg al met hulle stoele aangestap gekom om onder die pragtige bome plaas te neem. Daar is oor-en-weer gegroet en gesinne en vriende was gereed vir ‘n oggend van samesyn rondom die gebeure wat tot die viering van 16 Desember gelei het.
Anje en Carel Boshoff in hul tradisionele kleredrag.
Riaan en Marcel Jacobs het die voorsang hanteer en daar is heerlik gesing. Ds. Willem Boshoff het die erediens waargeneem waarin hy beklemtoon het dat ons volk, soos die Trekkers van ouds, tot die Here moet vlug in tye van nood, maar ook in voorspoed. James Kemp het as spreker opgetree en die geskiedenis rondom die slag van Bloedrivier voorgehou. Hans van Staden het die Gelofte voorgelees.
Na afloop van die formaliteite is daar heerlike gemmerbier en koekies bedien terwyl die gesels en gekuier voortgeduur het.