Die Federasie van Afrikaanse Kultuur-vereniginge (FAK) se voetspore lê diep in die grond van Suid-Afrika en nou loop dié spoor nog weier tot in die Noord-Kaap.
Die FAK het vanjaar ’n nuwe kultuurnetwerk-tak in Orania gestig met die energieke jong Cara Tomlinson aan die stuur van sake. Die FAK is opgewonde om Tomlinson te verwelkom as die kultuurkoördineerder vir die Noord-Kaap-streek.
Die 24-jarige Tomlinson, oorspronklik uit die Paarl, is al vir jare aktief betrokke by die doen en late van Orania se gemeenskap, na sy in 2014 daarheen verhuis het om haar hoërskoolopleiding te voltooi.
Sy het haar akademiese strewes aan die Noordwes-Universiteit bevorder en ’n BA-graad in Kommunikasie en ’n NGOS-kwalifikasie verwerf. Met haar uitgebreide agtergrond en passie vir taal en kultuur is sy uitgeknip om hierdie nuwe inisiatief te lei.
Tomlinson kan nie wag om aan die werk te spring nie. “Ek is baie lief vir mense, my taal en my kultuur, en ek geniet dit baie om mense bymekaar te bring en netwerke te bou.”
“Toe ek van hierdie pos hoor, het ek besef dat ek uitgeknip is daarvoor en ek is opgewonde oor die geleentheid om kulturele bewustheid in Orania te kweek,” sê Tomlinson.
Tomlinson se verbintenis met haar erfenis loop diep. Sy verwys liefdevol na haar kinderjare; gevul met volksliedjies, FAK-musiek en haar voortdurende belangstelling in die Afrikaner se geskiedenis, insluitend die Groot Trek.
Haar liefde vir Afrikaans en die rol daarvan in haar identiteit is duidelik. “’n Mens se identiteit word grootliks gebou deur jou geloof, taal, kultuur, en die omgewing waarin elkeen van ons geplaas is. As jong Afrikaner leef ek elke dag met passie, en dit is iets wat my identiteit definieer. Afrikaans is die taal waarin ek droom, dink en doen.”
Tomlinson se nuwe rol by die FAK spring met ’n vol kulturele kalender in Orania af wat verskeie feeste en aktiwiteite soos die komende Orania-karnaval, Erfenisdag in September, Heldedag in Oktober en Geloftedag in Desember insluit.
Sy vertel dat sy gretig is om by te dra tot hierdie geleenthede en meer. “Daar is baie opwindende dinge wat in Orania voorlê en ek sien daarna uit om deel daarvan te wees. Die mense hier verstaan dat die behoud en uitbreiding van ons kultuur noodsaaklik is en dit is wonderlik om daardie toewyding te sien.”
Terwyl Tomlinson haar rol as kultuurkoördineerder inneem, is sy toegewyd daaraan om saam met die FAK Orania se ryk kulturele erfenis te bou en te bewaar. Haar rol sal deurslaggewend wees in die bevordering van ’n dieper kulturele verbintenis binne die Orania-gemeenskap.
Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK, sê hy is opgewonde dat dié organisasie ook nou in Orania kan vlamvat. “Ons (die FAK) is baie opgewonde om te sien wat Cara kan vermag in die Noord-Kaap. Na die stigting van die FAK-jeug in 2023 het ons al hoe meer jong mense ontmoet wat die ‘kultuurfakkel’ wil opneem en die lig van hoop die toekoms indra, en sý is ’n sprekende voorbeeld hiervan.
“Daar is soveel potensiaal in die Noord-Kaap en ons is werklik opgewonde om te sien hoe sy die FAK daar kan laat vlamvat,” sê Müller.