Een van die oudste dorpe in die land is nou in die regering se visier en loop die risiko om sy kosbare historiese identiteit te verloor. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het met groot teleurstelling en verbasing verneem van die voorstel om Graaff-Reinet se naam te verander.
Hierdie is die nuutste poging in ’n reeks van absurde probeerslae van die regering om Afrikanergeskiedenis uit te wis.
Graaff-Reinet is die vierde oudste dorp in Suid-Afrika. Die dorpie is vernoem na die destydse goewerneur, Cornelis Jacob van de Graaff en sy vrou, Reinet, en dit maak vir ’n kosbare en unieke geskiedenis.
Voortrekkerhelde soos Piet Retief, die eerste goewerneur van die Voortrekkers, Gerrit Maritz en Andries Pretorius, hoofkommandant van die Slag van Bloedrivier, het almal hul pad op die Groot Trek by Graaff-Reinet afgeskop.
Nou wil die regering hierdie pragtige kultuurhistoriese konteks totaal en al van hierdie dorp stroop, ter wille van “inklusiwiteit.”
Die departement van sport, kuns en kultuur het aan die einde van 2023 aangevoer dat Graaff-Reinet se naam verander moet word na Robert Mangaliso Sobukwe, stigter en die eerste president van die Pan Africanist Congress (PAC).
Ironies genoeg is die PAC deur Sobukwe gestig omdat hy nie saam met die visie en die roete waarin die ANC beweeg het, saamgestem het nie.
Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die FAK), sê sulke kultuurverwoestende besluite mag nie die lig van dag sien nie.
“Die regering neem ondeurdagte besluite, wat onafwendbaar sal lei tot nuttelose en verkwistende spandering. Daarom is dit nie net op kulturele front wat hierdie naamsverandering sinneloos is nie – dit is belangstingbetalers wat gaan moet opdok vir die miljoene rande se onkostes om hierdie naamsverandering deur te voer,” sê Pretorius.
Verder word daar ook aangevoer dat Adendorp na Kwa Mseki Bishop Limba verander moet word, Aberdeen na Camdeboo en Nieu-Bethesda na Kwa Noheleni. In geen opsig is daar problematiese kwessies rondom die geskiedenis van hierdie dorpe wat ’n naamsverandering regverdig nie.
Sedert 2019 is daar ‘n astronomiese 103 geografiese naamsveranderinge wat plaasgevind het, net in die Oos-Kaap.
“Die regering is besig met geteikende kulturele massa-uitwissing van die Afrikaners se geskiedenis en erfenis,” sê Pretorius.
Met naamsveranderinge soos dié moet daar ‘n openbare deelnameproses plaasvind. Die FAK het ’n petisie van stapel gestuur om hierdie sinnelose voorstel te stuit.
Die vorige keer wat die regering aangedring het om die Afrikaanse Taalmonument se naamsverandering, in 2022, deur te voer, het die FAK 30 000 mense se stemme laat hoor. Só is die voorgestelde naamsverandering gestuit. Só sal ons weer saamstaan en ons erfenis beskerm.
Neem standpunt in. Teken hierdie petisie en help ons om die miskenning van jou erfenis te stuit.
https://forms.gle/KrJt5ZRPfUncxCDH8
Vriende van die FAK help ons om erfenis te beskerm, te bevorder en uit te bou. Maak ons hande sterker en word ’n vriend. https://fak.org.za/vriende-van-die-fak/ .
Vir enige navrae, kontak gerus vir Gerhard Pretorius – gerhard@kultuurtuiste.org.za.