Koerania

Tientalle energieke bejaardes het vanoggend saam met die FAK baljaar met liedjies uit hul prille jeug. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Woensdagoggend 24 April na die gemeenskap uitgereik met ’n saamsingoggend by NG Kerk Raslouw.

Nege vrouens reëls maandeliks ’n saamkuieroggend vir die bejaarde gemeentelede en hierdie keer het die FAK gesorg vir ’n makietie met liedjies uit onder meer die ikoniese FAK-Sangbundel.
Lieandri Ackermann, projekbeampte by die FAK, se die hele oggend se tema was FAK.

“Die kleurskema op die tafels was groen en oranje. Die tafels was versier met Afrikanerblommetjies en regte Afrikanerkos is bedien: boontjies, pampoen, bobotie met groen en oranje jellie vir nagereg,” sê Ackermann.
Dié wat die geleentheid bygewoon het, het heerlik saamgesing met ’n huppel in hul stap.

“Vandag was wonderlik! Ek het dit baie, baie geniet. Dit het my baie laat dink aan my volkspeledae toe ons nog lekker volkspele kon speel. Dit was regtig baie lekker gewees,” vertel tannie Rosy Paige.

“Dit was nou regtig besonders. Ek dink elke gemeenskap of organisasie moet die FAK by hulle kry. Dit was besonders leersaam en ek wat glad nie kan sing nie, het tot twee hoogtes hoog gesing,” vertel Annelie Henning.

Die FAK het selfs sangbundels as dekor vir die geleentheid verskaf, die sang gelei en ook die gehoor meer vertel oor die FAK se projekte in sy 95ste bestaansjaar.

Aan die einde van die geleentheid is ’n gelukkige trekking gehou en die wenner kry ’n naweek weg na Udolpho Rivierplaas. NG Kerk Raslouw het ook ’n skenking aan die FAK gemaak.

Dit is vir die FAK ’n voorreg om uit te reik na ons gemeenskappe en musiek na die gemeenskap te bring. Die FAK werk ook saam met die sanger, Stefan Jansen, wat as ambassadeur vir die FAK optree. Jansen besoek ouetehuise waar hy FAK-musiek vir die bejaardes speel.
Jansen reis binnekort na Nederland waar hy die mense daar sal blootstel aan Afrikaanse musiek en kultuur.

Jou vriendskap kan ons help om ’n verdere verskil in die gemeenskap te maak.

Post Views: 100