Koerania

‘n Paar weke gelede skryf Dana Snyman in Rapport oor sy gesprekke met Eugene de Kock. Dit bring herinneringe terug na 24 Augustus 2016 toe ek self die voorreg gehad het om saam met die berugte, maar wyd gerespekteerde lang man oor ‘n koppie koffie te gesels.
Eugene het saam met Anemari Jansen, die skrywer van Sluipmoordenaar van die staat, wat in 2015 verskyn het, by Café 41 in Groenkloof op my en ‘n vriendin gewag. Hy wou my bedank vir die feit dat ek bereid was om hom na die BoekeJol en FilmRolfees in Pretoria as deelnemer aan ‘n gesprek, te nooi. Nadat die advertensie vir die gesprek verskyn het, het die parooloffisier my egter geskakel om te sê dat Eugene glad nie toegelaat word om in die publiek op te tree nie, ensovoorts.
Na ‘n gesprek met Eugene en Anemari is daar besluit om hom as deelnemer te onttrek, maar hy was steeds dankbaar vir die gebaar. Die ongeveer twee ure in sy geselsskap was ‘n ervaring wat my altyd sal bybly.
‘n Paar mans het hom daar, waar ons op die restaurant se stoeparea gesit het, met groot respek genader en sy blad kom skud of selfs gesalueer. Wanneer hul weggestap het kon hy die naam en van, rang en magsnommer van elke man opnoem. Hy het getoon dat hy ‘n merkwaardige geheue het. Hy het vertel dat hy goeie koffie gemis het.
Meer nog was dit sy nederigheid wat jou opgeval het. Hy het elke vraag geduldig beantwoord en ‘n paar staaltjies van sy jare in die tronk gedeel. Niks daarvan was humoristies of vrolik nie, maar het die karakter van man met ‘n uiters sterk mentaliteit weerspieël.
Ek het die artikel van Dana met belangstelling gelees en opgewonde gemerk dat sy verswakte oë, wat vir hom in 2016 ‘n baie groot bekommernis was, geopereer is en dat hy weer kan lees – een van sy baie groot liefdes.
Ek sien uit na ‘n volgende koffie en na die feit dat hy nou self sy storie gaan vertel. Dit is tyd!
Lees gerus Dana se skrywe op sy Facebookblad.

Dia van Staden en Eugene de Kock het minder as ‘n jaar nadat hy op parool vrygelaat is ‘n gesellige gesprek oor ‘n koppie koffie geniet.
Dia van Staden en Eugene de Kock het minder as ‘n jaar nadat hy op parool vrygelaat is ‘n gesellige gesprek oor ‘n koppie koffie geniet.
Post Views: 140