Dia van Staden – Redakteur
Die 22 jarige man was 13 jaar oud toe hulle na Orania getrek het. Hy het pas sy Baccalaureusgraad in Argitektuur verwerf en sien daarna uit om ten minste vir ‘n paar maande in Orania te werk.
Emile Janse van Rensburg se hart trek na ‘n unieke bou- en ontwerpstyl wat Biomimicry and Green Building genoem word. Dit is ‘n ontwerpstyl wat deur die natuur geinspireer word. Volgens hom hou hy van die feit dat die boustyl kosteeffektief is, en dat daar sterker, ligter en minder arbeid daarvoor gebruik hoef te word. Die veelsydige aanwending daarvan in enige modern of selfs Romeinse boustyl beindruk dié jong argitek.
Nadat Emile in 2019 gematrikuleer het, het hy in 2020 sy studies in Hoër Sertifikaat vir Sportwetenskap en Opvoeding (HCSSE) aan die Universitiet van Pretoria begin. Die grendelstaat het toegeslaan en hy was gedwing om huis toe te kom. Hier het hy die geleentheid gekry om by die plaaslike hospitaal sy praktiese ure, wat in lyn met my studies was, te doen. Dit wou voorkom asof sy mediese droom daarmee heen was omdat hy nie aanvanklik daarvoor keuring gekry het nie.
In die middel van 2020 het hy by die Universiteit van die Vrystaat aansoek gedoen om argitektuur te studeer, want ‘n vriendin het hom met feite oortuig van die waarde van die beroep. Sy liefde vir bou en ontwerp het as klein seuntjie begin waar hy toegelaat is om te ontdek terwyl hy speel. Hy was eers in HTS John Voster waar hy blootgestel is aan Tegniese Tekeninge. Hy het nie so waffers daarin gevaar nie, maar het dit geniet.
In 2015 het hul gesin na Orania verhuis en het hy sy Graad 9 by die CVO-skool begin. Die aanpassing was nogal groot van die groot skool na Kleiner klasse met meer individuele aandag. Hy het egter gou die vrugte van die Kleiner klasse en meer individuele aandag begin pluk. Sy IGO (Ingenieurs en Grafiese Ontwerp) onderwyser het sy entoesiasme gemerk en ‘n groter kennisraamwerk beskikbaar gestel.
Emile het reeds vroeër jare by Christiaan van Zyl aangeklop vir advies ten opsigte van die begin van sy Argitektuurstudies. Christiaan se woorde was dat daar nie ‘n reg of verkeerd is nie, maar eerder grys. Daarmee het ek verstaan dat almal anders dink. Dit kon ek ten volle verstaan en in my eie lewe sien. Daarom, ten spyte van die feit dat sy lektore nie altyd mal was oor sy projekte nie, was die terugvoer van sy medestudente en nagraadse studente positief.
Hy vertel: “Argitektuur is baie omvattend en sluit vele kategorieë soos fotografie, modelbou, sketse, plakkaatontwerp, boumetodes en persoonlike ondekking in.” Hy verwys trots na ‘n paar projekte wat hy gedurende sy studies voltooi het wat vir hom hoogtepunte was.
Hy moes ‘n Hadeda-woning in sy eerstejaar ontwerp. Die vryheid van ontwerp het hom toegelaat om sy gedagtes vrye teuels te gee.
In sy tweedejaar moes die studente ‘n kliniek uit skeepvraghouers ontwerp waar hy nog sy finale planne met die hand geskets het. “Tydens die voorlegging van my projek het my lektore dit as ‘n voorbeeld gebruik vir wat hulle verwag vir die res van die jaar. Om erkennig te ontvang vir kreatiwiteit en harde werk is iets onbeskryflik.”
Nog ‘n hoogtepunt was die uitdaging wat hulle gegee is om in die middestad van Bloemfontein, met geboue omring, Dit is hier waar hy biomimicry ontdek het. Hy het sy eie grense geskuif en met ‘n unieke ontwerp nav ore gekom wat teen alle norme indruis. Hiermee het hy geleer dat mense se smake en perspektiewe verskil.
Dié man skuif graag grense maar terwyl die ontwerp van geboue steeds uitdagend is, wil hy die ontwerp van produkte soos windturbines ook ‘n kans gee. Hy voel dat ontwerp se krag in baie meer as net geboue lê. Hy noem sommer gou ‘n paar opsies soos die ontwerp van produkte, bemarkingsmateriaal, die kunste en nog vele meer.
Orania is vir hom meer van ‘n tuiste as wat hy voorheen in die stad beleef het. Hy beaam dat niemand ‘n prys kan heg aan die veiligheid en vryheid wat ‘n Oraniër ervaar nie. Hier is menslikheid te vinde, en dis daarom dat hy Orania sy tuiste noem. Hy sal graag eendag sy kinders in Orania wil grootmaak met die wete dat hulle veilig en vry kan wees.
Sy toekomsplanne in Orania is om te verseker dat die idee van Orania voortleef. Emile wil ‘n bydrae maak om te verseker dat die Afrikaner se nageslagte veilig kan wees en in ‘n omgewing kan woon waar hul aan Afrikanerwaardes en kultuur blootgestel word.
Wanneer hy wil dink gaan ry hy fiets. Dit is wanneer hy probleme oplos en hy geniet dit om liggaamlik en geestelik gesond te wees. Hy probeer om ‘n oormaat suiker uit sy dieet te hou en verkies dan om tee te drink. Hoender is ‘n lekkerte op sy bord, maar braaityd kan ‘n biefstuk maar nader staan. Emile geniet enige musiek wat ‘n tempo van 130 tot 160 slae per minuut het, want dit help om die intensiteit van sy fietsry hoog te hou. Wanneer hy in ‘n rustige bui is verkies hy die musiek van Hans Zimmer.
Wanneer die geleentheid hom voordoen is tyd saam met vriende in enige vorm welkom. Om tyd te maak vir die mense wat jou ondersteun en bystaan is vir hom belangrik. Hy geniet ‘n rustige dag by rivier waar hy kan roei of net die natuurskoon kan waardeer.
Hy skep asem voordat hy raad wil gee aan toekomstige studente. “Moenie onsekerheid vrees nie. Die illusie van een pad kies, en dit is al wat jy vir die res van jou lewe gaan doen is nie die realiteit nie. Mens moet ‘n pad kies wat jou in staat stel om te groei en uiteindelik ‘n sukses daarvan te maak. Mens se keuse moet jou die dryfkrag gee om jou doelwitte te bereik,” spreek hy met wysheid.
Tot wanneer Emile eendag sy Land Rover ry, die prys van petrol en diesel ter syde gestel, sal hy met sy moderne meubels ‘n ordelike ruimte skep waar hy sy rekenaarspeletjies met ‘n wye aanlynvriendekring kan deel.