Die Voortrekkermonument (VTM) is elke dag ’n miernes van bedrywighede en hiérdie Erfenismaand was geen verskil nie, met verskeie feeste én die eerste Nagtoermaraton wat vir groot opwinding op die terrein gesorg het.
Meer as 12 000 mense het die monument en terrein deur die maand besoek en dit sluit die feeste uit.
Erfenisdag is jaarliks ’n groot hoogtepunt op die VTM-kultuurkalender en vanjaar het duisende mense weer op dié dag by die monument kom kuier om hul kultuur te vier, maar die kersie op die kultuurkoek was verreweg die nagtoere wat tussen 20 en 27 September aangebied is.
Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die VTM dat dié Nagtoermaraton aangebied is en honderde mense, insluitend besoekers uit Hongarye, Duitsland en Nederland het die opwindende toere meegemaak.
Christa van de Wetering het ses Nederlandse studente van die Greijdanus School in Zwolle, Nederland, na dié toere genooi as deel van die jaarlikse Sparkles Exchange-uitruilprogram van die Gereformeerde Skool Dirk Postma in Waverley.
Sy vertel dat dié uitruilprogram die leerlinge blootstelling gee aan ander kulture en hul geskiedenis, en die nagtoer was vir haar die perfekte manier om die jong Nederlanders aan die Afrikanerkultuur voor te stel.
“Die Voortrekkermonument was vanjaar ’n groot hoogtepunt vir die studente veral omdat hulle die geskiedenis van die Groot Trek op so ’n unieke manier kon leer.”
“Die toneelspel en beligting was asemrowend, tog was die lekkerste deel van die toer volgens al die studente die boerebederf voor die vertonings,” sê Van de Wetering.
Die groep het ’n behoorlike kultuurinspuiting by die monument gekry en heerlike potjiekos en tuisgebakte brood hiér geniet.
“Daar’s min dinge so eg Suid-Afrikaans as ’n lekker bord potjiekos, so dit was ’n heerlike verrassing tydens die nagtoere,” sluit Van de Wetering af.
Die Nagtoer was vanjaar ook vir die eerste keer in Engels aangebied en een van die besoekers, Agnes Feher, sê dit was ongelooflik om die geskiedenis op so ’n skouspelagtige manier te kon leer en ervaar.
“Ons het die toer baie geniet. Daar is soveel van die stories wat ek reeds geken het, maar om dit só te ervaar en déél te word van die vertelling was werklik asemrowend,” sê Feher.
Christiaan Jordaan, toerismehoof van die VTM, sê hy is baie opgewonde dat die monument vanjaar tydens Erfenismaand weer bewys het waarom dit as een van die gewildste toeristeaantreklikhede in die land bestempel word.
“Erfenismaand was beslis ’n hoogtepunt vir ons by die VTM met meer as 12 000 mense wat vandeesmaand die monument en terrein besoek het, dan praat ons nie eers van dié wat hier kom kuier het op Erfenisdag, tydens ons Nagtoere of met die afgelope naweek se Wyn en Wildsfees nie,” sê Jordaan.
“Die monument is werklik ’n tuiskomplek vir almal wat hul kultuur wil kom uitleef en dit maak ons baie trots om te sien dat dit nie net plaaslike besoekers is nie, maar mense van alle uithoeke van die aarde wat inkoop in die verhaal wat ons hier vertel. Met die nagtoere het ons ook op die laaste aand ’n 10de verjaarsdagpartytjie aangebied wat net weer bewys dat ons land se jongmense ook ’n groot liefde het vir hul kulturele erfenis en dit gee my baie hoop!”
Jordaan sê hy hoop dat hierdie Erfenismaand mense geïnspireer het om nie net een keer ’n jaar hul kultuur te vier nie, maar dit elke dag uit te leef, en waar beter om dit te doen as by die Voortrekkermonument?