Ronald Lamola, minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, is van mening dat die Vierkleur, ’n vlag wat teen 1902 (lánk voor apartheid) nie meer in gebruik was nie, ’n simbool van apartheid en kolonialisme is. As ’n kersie op die koek, neem Lamola dit selfs verder en beweer dat die Vierkleur gelykstaande aan die ou landsvlag is.
Hierdie uitspraak volg na ‘n insident op Groblersdal waar lede van die publiek hierdie vlag gewapper het tydens ‘n betoging.
Dit is jammer dat opportunistiese die vlag by geleenthede gebruik vir politieke standpunte eerder as ’n kultuurvlag soos dit bedoel is.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuur-vereniginge (FAK) verwerp hierdie bewerings wat ’n drakoniese wanvoorstelling van die ware geskiedenis en simboliek van die Vierkleur is.
Die Vierkleur is vir Afrikaners ’n simbool van die karakter van die Afrikaner; ’n nasie wat tydens die Anglo-Boereoorlog tot die bittere einde toe geveg het met die wete dat hul vroue en kinders onder haglike omstandighede in konsentrasiekampe regoor die land vergaan.
Ons kultuur is al lankal in die regering se visier en verduur aanslag op aanslag deur lede wat die Afrikanerkultuur minag en probeer uitroei.
Die vandalisering van ons erfenisterreine en ons monumente is aan die orde van die dag en daar is geen erns by die regering oor enige Afrikanersaak nie.
Hul visier val nou op die Vierkleur en die kwansuise rasse-afmaking van ’n vlag wat 120 jaar laas gewapper het – bykans 50 jaar voor daar enigsins sprake van apartheid was.
Die Vierkleur is nie ’n vlag waar wit teen swart, of soos Lamola beweer, wit oor swart geplaas word nie.
Hierdie vlag gaan oor kultuur. Hierdie vlag gaan oor ’n nasie se strewe na onafhanklikheid van die Britse imperialisme en ’n strewe na selfbeskikking. Hierdie vlag is ’n herinnering aan die meer as 34 000 vroue en kinders wat gesterf het in Britse helkampe. Hierdie vlag is nié ’n middel om haat aan te vuur nie, maar ’n herinnering van die Afrikaner se moeilike stryd in Suid-Afrika.
Daar is opnuut debatte ontketen, soos die debat tussen EFF-lid, Carl Niehaus en Ernst Roets, die hoof van beleid by Solidariteit.
Niehaus sê dat die vlag tot haatspraak verklaar moet word, terwyl Roets hierdie oproep verklaar as ’n misbruik van gebeure soos dié vir politieke gewin en dat die regering eerder moet kyk na sy eie mislukkings binne die regering.
Die FAK sal nie die verdere aanslag op ons kultuurhistoriese erfenis duld nie en moedig die gemeenskap aan om die FAK te ondersteun sodat die aanslag op die Vierkleur en ons kultuur gestuit kan word.
Om hierdie vlag, so eie aan die Afrikaner van vandag, se identiteit te ontneem, is ’n skreiende skande en ’n minagting van die Afrikaner se historiese impak en konteks in Suid-Afrika.
Staan op vir jóú erfenis en sê nee vir regering-inmenging in ons kultuur.
https://forms.gle/TBhiJrqoMvZV4eyN9