Die Tankwa Camino geskied vanaf Calvinia tot Op die Berg. Vanaf 31 Augustus tot 10 September 2023 moes die 32 dapper stappers die 235km binne 10 dae aflê. “Hierdie keer het ek nie vir ‘n fondsinsameling gestap nie, maar sommer vir my persoonlike ongerief,” skerts Pieter.
Dié groep het uit 24 vroue en 8 mans tussen die ouderdomme van 40 en 70 bestaan. “Jongmense is nie volop met dié staptogte nie, maar dit is moontlik werksomstandighede wat hul deelname beinvloed,” redeneer hy. Pieter vertel dat daar ‘n paar ystervroue is wat die tog aangedurf het en dat hul ‘n bewys is van vroue se uithouvermoë. Lené, Pieter se vrou, voeg by: “Julle moet onthou dat die kaalvoetvroue oor die berge is met lang rokke en kappies.” Ter voorbereiding het hy vir weke lank elke oggens 5km gaan stap en naweke nog verder. Hy het so twee maande vooraf met sy nuwe skoene begin oefen sodat hul uitgetrap kon wees vir die werklike ervaring. Hy erken dat hy nie die Karoo té gereeld met dié afstande in die somer sou aanbeveel nie, maar dat fiksheid tot jou voordeel is.
Die Red-‘n-plaas staptog wat Pieter in April 2023 aangepak het, het ‘n duidelike doelwit gehad, terwyl die Tankwa se 20 tot 27km per dag enige persoon tot ander insigte dwing. “Jy trek voor sonop weg sodat jy die 4 tot 6 ure se stap vir die dag teen ongeveer 13:00 kan afhandel,” verduidelik hy.
Wanneer elke individu op hul eie tyd by die oornagplek arriveer word daar tent opgeslaan, gewas, voete gedokter, geëet en gerus. Aangesien die nag dan nog effe ver is en daar geen almanak of selfoonsein is nie sorg dit vir genoeg gesels- of kuiertyd. “Jy beweeg saam met die son. Daar word geëet terwyl dit nog lig is. As dit donker word gaan klim jy in jou tent en slaap,” vertel Pieter. Hy voeg by dat hy nog nooit sukses met ‘n “afblaasmatras” gehad het nie en daarom dra hy ‘n oprolmatras, slaapsak, kombers en kussing vir slaaptyd saam. Ander belangrike inpakgoed is onder andere medikasie vir maagsake of pyn, krampgoed, pleisters, naald en garing vir waterblase, mercurocrome en spiritus vir jou voete. “Deur jou voete elke aand na die stap met spiritus te smeer maak die vel sterk en voorkom blase. Behoorlike stapskoene, wat aanvanklik seker jou grootste uitgawe is, goeie binnesole en ‘n paar pare kwaliteit sokkies is nie onderhandelbaar nie,” voeg hy by. Volgens hom is mense soms hardkoppig en hou aan stap terwyl hulle voete ooreis word. Dit is dan wanneer pynlike waterblase ontwikkel.
“Ek wil beslis ‘n eentonige lewe van werktoe en huistoe vermy. Die “ander” wêreld wat jy betree het my getrek.”
Iets wat Pieter telkemale met soortgelyke ervarings leer is om nie ‘n boek volgens sy omslag te beoordeel nie. “Daar is geleerdes in die groep en hulle voeg baie waarde tot gesprekke toe,” sê Pieter. Hy verduidelik dat baie mense stap om weer perspektief op die lewe te kry. Terwyl sommige persone verkies om alleen te stap en stil te wees, is daar ander wat oor die lewe en sy uitdagings praat en natuurlik leen die mooi natuur hom tot baie ditjies en datjies waaroor gesels, bespiegel en gefilosofeer kan word.
Aangesien die tog op ‘n grondpad is en nie in die veld nie, dra jy gelukkig net jou verversings vir die dag saam met jou. ‘n Sonhoed en sonskerm vorm ‘n onafwendbare deel van jou staptoerusting. Elkeen kan langs die pad rus wanneer hulle so voel. Pieter gee nie vir sy stapmaats baie tyd om verveeld te raak nie, want hy het tydig en ontydig ‘n geleentheid gesoek waar hy in ‘n sloot of agter ‘n wal sou wegkruip sodat hy iemand kon skrikmaak wanneer hulle ewe onbewus en in stilte verbystap.
Pieter vertel dat hy graag weer die kleiner groep se staptog sal aanpak, aangesien daar dan tyd is om met almal te kuier. Alhoewel hy lighartig kan wees kom daar ‘n ernstige trek op sy gesig terwyl hy sy kop stadig knik om die erns van die ervaring te beklemtoon. “So iets maak ‘n blywende indruk op ‘n mens se psige en bring verandering in jou denke.”
“Wanneer jy tuiskom waardeer jy weer wat jy het. Jy waardeer weer jou kwaai vrou, ‘n stort, spoeltoilet, warm bed en lekker kos.”