Koerania

Abigail Ackermann begin die storie van haar lewe voor haar stompie by die feit dat haar ma haar op 5 jarige ouderdom reeds skooltoe gestuur het. “Ek was seker baie stout, want ek is onseker of ek emosioneel gereed was.”
Abi matrikuleer aan die Hoërskool Lydenburg en moet uitspring om te gaan werk, want vir studies was daar nie geld nie. Haar ma was die hoofsuster by die hospitaal en verpleging was amper ‘n logiese keuse. Sy was besig met haar derdejaar in verpleegkunde by Middelburg se hospitaal toe twee traumatiese ervarings haar die handdoek laat ingooi.
Sy en haar eerste man trou in 1986 en sy besluit om in Witbank by ‘n kettingwinkel as krediteureklerk te gaan werk. Dié blootstelling gee haar die moed om by ‘n juwelierswinkel as verkoopsdame te begin, maar sy word uiteindelik ‘n areabestuurder terwyl sy haar graad aan Unisa in Besigheidsbestuur voltooi het. “Drie kinders en ‘n egskeiding later word ek by die hoofkantoor van die juwelierswinkel in Johannesburg aangestel,” verduidelik sy. Enkelma met drie kinders wat aktief is, is nie noodwendig ‘n maklike balanseer van pligte nie.
Haar ouers besef dat dit sal help as sy in ‘n meer ondersteunende omgewing is en stel voor dat sy Polokwane toe verhuis, waar hulle ook gewoon het. Sy kry in 2000 haar vinger op die pols van ‘n besigheid wat in spysenering spesialiseer en waar sy naweke tyd aan haar kinders kon spandeer.
Sy trou in 2003, maar dit werk nie uit nie, want haar kinders moes koshuis toe gaan en dit was nie vir haar aanvaarbaar nie. “Ek het my werk as verteenwoordiger geweldig geniet. Dit het my staande gehou.”
Op 14 Februarie 2006, net buite Polokwane, kry die bestuurder van ‘n motor nie sy draai nie, en hy ry in Abi se voertuig vas. Twee van haar seuns was saam met haar in die 1400 bakkie. Louwtjie het agterop die bakkie gesit en is afgeslinger. Herman het snye opgedoen as gevolg van die voorruit se glas wat hom getref het. “Die bakkie se enjin het op my linkerbeen beland.”
Dit is waar die nagmerrie begin. “Ek het twee dae na die ongeluk eers in die intensiewesorg van Medi Kliniek in Polokwane wakker geword. Dokter van Zyl het haar meegedeel dat dit die lelikste vergruising van ‘n been was wat hy ooit gesien het. Van die linkerfemur was 5cm vergruis, sowel as die knie. Daar is ‘n plaat met 10 skroewe ingesit, want ek het aangedring daarop dat ek moet terug werk toe omdat ek nie kon bekostig om my werk te verloor nie.”
Na 14 dae in die hospitaal en nog twee weke tuis het sy in die oggende begin werk en kliënte telefonies begin diens. Die skroewe het losgetrek en is met vlekvrye staalpenne deur die knie vervang, met gips van heup tot tone. Twee maande later kon Abi die pyn nie meer hanteer nie. ‘n Pen het dwarsdeur haar vel gedruk. Selfs ‘n tweede opinie in Pretoria stuur haar terug Polokwane toe om die proses te voltooi.
Die volgende operasie was om saamgepeserste beenblokkies van Amerika af in te voer en by die knie in te plant. Hier begin sy moedeloos raak toe sy haar werk, waarvoor sy baie lief was, verloor. Haar eggenoot sien toe nie kans vir dié meulsteen om sy nek nie en verlaat haar en een van die drie seuns wat nog skoolgaande was.
Sy begin ‘n nuwe lewe in Belfast waar haar suster Nicky woon. Die uiterste koue kon verdryf word omdat die gemeenskap vir haar so goed was. Sy het die mooiste kosmandjie op ‘n ou stootkarretjie gemaak en het begin kos maak vir ‘n inkomste. ‘n Vlytige vrou het vroegoggend met die stootkarretjie geloop om die verkope te hanteer, terwyl Abi weer voorbereidings getref het vir die volgende dag se kos.
Intussen is daar geen einde aan die operasies op haar been nie. “Aangesien ek geen onderhoud gekry het nie, het ek by die Here gepleit dat ek net genoeg inkomste moes kry om alle uitgawes te betaal.”
Die beenblokkies uit die VSA wou nie werk nie en haar liggaam verwerp die kalfsbeen wat ingeplant was. Sy tree met haar kurk uit die stort uit en val sleg op die beseerde been.
Die tiende operasie eis ‘n fiksator met penne wat in die been ingaan wat jy self daagliks moes stel om beendigtheid te bevorder sodat dit kon groei. Na ses maande was daar steeds geen beengroei nie. Die dokter hou vir haar ‘n laaste opsie voor en sy gryp die geleentheid aan om haar vergruisde femur te laat verwyder en die knie te vervang. Sy was egter met ‘n fiksator gestrand en kon nie beweeg nie. Sy vertel dat sy op pynpille geleef het. “My liggaam hou nie van narkose nie, maar die Here het steeds vir my gesorg,” deel sy.
Sy neem op 4 April 2009 ‘n uiters moeilike besluit om te laat amputeer. “Die Here het vir my reëndae in Belfast gestuur sodat ek pannekoek kon bak en byna nie kon voorbly nie. Ek kon steeds elke maand betaal wat ek moes betaal.”
Toe word dit tyd vir ‘n been. “Ek kon nooit met die prostese loop nie. Ek moes R74 000 vir my eerste been betaal wat nie gewerk het nie. Ek het die dokter by die mediese raad vir nalatigheid aangegee. Hy het nooit gepoog om ‘n gepaste been te maak nie.” Februarie 2010 het die derdeparty-eis uitbetaal.
Na nog pogings kry sy die naam van ‘n dokter in Somerset-Wes wat met groot sukses vir haar ‘n prostese gemaak het. Die prostese het ‘n knie gehad, maar dit het beweging bemoeilik en Abi het gereeld geval. Die been het ‘n silikoon stompkous wat oor die stompie pas, maar sy het sere van die geskuur gekry. Ek is nou in ‘n gemaksone met ‘n stoel. Daar is min wat ek nie kan doen met my stoel nie. “Ek is met Paul Ackermann getroud terwyl ek die vals been gehad het, maar dit is ‘n mooi verhaal vir ‘n ander dag.”
Sy doen graag wateroefeninge, het die vloer van haar huis geteël terwyl sy en Paul verbeteringe aangebring het. “Daar is nog baie werk, maar noudat Paul weg is, is dit moeilik om alles self te doen.”
Paul is onlangs oorlede en Abigail stry die stryd moedig voort!

Foto Dia van Staden

Abigail Ackermann is ‘n dapper weduwee wat haar rolstoel haar beste vriend gemaak het. Sy beweeg baie flink in en uit die stoel. Orania is ongelukkig nie baie rolstoelvriendelik wanneer dit by inkopies kom nie, en sy moet vindingryk wees om by winkels in en uit te kan kom.
Post Views: 54