Koerania

Verskeie organisasies van die Solidariteit Beweging, waaronder die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), het vandag in ’n perskonferensie ’n verenigde front aangekondig om teen die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA) te staan.
Die koalisie van sewe instellings het aangekondig hulle sal die regsroete volg om die wetsontwerp se nadelige uitwerking op die outonomie van skoolbeheerliggame en die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal in skole te weerstaan.
Die BELA-wetsontwerp, wat na verwagting Vrydag deur president Cyril Ramaphosa onderteken sal word, dreig om sleutelbesluitnemingsbevoegdhede wat verband hou met skooltoelatings en taalbeleide te sentraliseer. Hierdie verskuiwing, voer die koalisie aan, sal gemeenskapsgedrewe onderwys ondermyn en die regte van ouers, onderwysers en skoolbeheerliggame aftakel om te besluit wat die beste vir hul kinders is.
Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die FAK, het tydens die perskonferensie die koalisie se bekommernisse passievol verwoord: “Ons kinders is pionne in die regering se skaakspel en hulle gee nie om om die toekoms van ons land op te offer vir hul eie selfsugtige gewin nie. Een van die voorwaardes vir die Regering van Nasionale Eenheid was dat die BELA-wet, soos hy nou staan, nie onderteken sal word en in werking sal tree nie.”
Pretorius sê ‘Los my Afrikaans!’ is nie meer net ’n slagspreuk nie.
“Dit is ’n oproep om die nalatenskap en toekoms van Afrikaans in ons skole te beskerm. Die BELA-wet het ten doel om die magte van die beheerliggame weg te vat oor onder meer taalbeleide en dit te sentraliseer in die regering se kloue. Dit ontneem gemeenskappe van hul reg om te besluit wat die beste vir hul kinders is.”
Die regering is aggressief besig om rassewetgewing te druk.
“Daar is nou 142 rasgebaseerde wette wat in die struktuur van ons land se bestuur ingebed is. Hul volgende teiken is Afrikaans, aangesien hulle stelselmatig poog om dit uit skole uit te wis, net soos dit reeds van verskeie universiteite gestroop is,” sê Pretorius.
As Afrikaans nie meer die onderrigtaal in skole is nie, word ’n stadige uitwissing in die gesig gestaar. Is die regering se volgende doelwit om die derde mees gesproke taal in Suid-Afrika uit te roei? Afrikaans is een van die jongste tale ter wêreld, en in minder as ’n eeu het dit gegroei tot ’n ten volle ontwikkelde wetenskapstaal. Tog dreig die regering nou die 2226 openbare Afrikaanse skole in ons land. Ons kan nie bystaan en dit laat gebeur nie!
“Die handskoene is af. As president Ramaphosa die BELA-wetsontwerp onderteken, sal ons hom in die hof sien!” sê Pretorius.
Die koalisie beskou die BELA-wetsontwerp as ’n algehele aanval op die regte van ouers, gemeenskappe en skole om die beste opvoedkundige omgewing vir hul kinders te bepaal. Die wetsontwerp se bepalings, wat skoolbeheerliggame van hul gesag oor taalbeleide en toelating ontneem, kan lei tot die sistematiese erosie van Afrikaansmediumonderrig regoor die land.
Die boodskap van vandag se perskonferensie is duidelik: “Los My Afrikaans uit!”
Dit is meer as ’n stryd vir ’n taal — dit is ’n stryd vir die toekoms van gemeenskapsgedrewe onderwys in Suid-Afrika. Die FAK glo vas dat die BELA-wetsontwerp sal lei tot die geleidelike uitwissing van Afrikaans as onderrigtaal in skole, tensy daar onmiddellik opgetree word.
Die koalisie staan gereed om die regte van ouers, onderwysers en gemeenskappe in die hof te verdedig, en sal voortgaan om steun regoor die land te werf.
Vir verdere inligting, kontak vir Gerhard Pretorius, kommunikasiehoof van die FAK, by gerhard@kultuurtuiste.org

Post Views: 60