Koerania

In ‘n onderhoud het Riaan Jacobs, Voorsitter van die Orania Verteenwoordigende Raad, en Carel Boshoff, Onder-Voorsitter van die OVR beklemtoon dat die voorgestelde Memorandum van Ooreenkoms en Voorneme nog nie van die onderhandelingstafel afgesmyt is nie.

Die Memorandum van Ooreenkoms en Voorneme laat humeure onnodig opvlam

In ‘n onderhoud het Riaan Jacobs, Voorsitter van die Orania Verteenwoordigende Raad, en Carel Boshoff, Onder-Voorsitter van die OVR beklemtoon dat die voorgestelde Memorandum van Ooreenkoms en Voorneme nog nie van die onderhandelingstafel afgesmyt is nie.
Orania bestaan uit verskeie instellings en die OVR se rol daarin is om interne samehang en gedeelde belange tussen die instellings te versoen. Verder is die OVR vir politieke skakeling op ‘n nasionale en selfs internasionale vlak verantwoordelik.
Die afgelope nasionale verkiesing het die ANC in die Noord-Kaap gedwing om met die VF+ hande te vat, aangesien hul ondersteuning baie afgeneem en daar nie meer ‘n volstrekte meerderheid was nie. Die ANC het ‘n stabiele vennoot in hulle kamp benodig, aangesien hul steeds ‘n lid van die ANC as premier verkies wou kry. Die VF+ het nog altyd ‘n goeie verhouding met die provinsiale regering gehandhaaf en in ruil vir dié ondersteuning is daar primêre behoeftes deur die VF+ aangevoer.
Carel Boshoff deel sy opinie dat politieke verhoudings op belange gebou word. Juis daarom maak dit verskille moontlik, want dit bedreig nie die algemene doelwit nie. Hy noem dat die Ooreenkoms se doelwit is om erkenning te gee aan wat Orania oor die afgelope 33 jaar bereik het, met die inagneming van die oorlegsone wat reeds gevestig is. Hy is van die opinie dat die groepering van ‘n hele paar kleiner ooreenkomste beter formulering en sterker betekenis kan kry indien dit saamgevat en bevestig word. “Alhoewel daar geen risiko vir Orania in hierdie Ooreenkoms skuil nie, kan dit die pad vorentoe net makliker maak,” deel Carel.
Die Voorneme, wat deel vorm van die Ooreenkoms, beteken dat die groei van Orania as ‘n opbouende gemeenskap, provinsiale ondersteuning sal geniet. Die aanvaarding van die Voorneme kan praktiese implikasies inhou wat byvoorbeeld potensiële onderhandeling oor stadsuitbreiding of die aansoek vir grond wat by die oorlegsone bygevoeg mag word, beinvloed. Indien die Voorneme ook nie aanvaar word nie sal selfs dit nie Orania se groei kelder nie.
Riaan het bevestig dat die oponthoud vir die ondertekening van die Ooreenkoms volgens hom eerstens die kompleksiteit van die samestelling van die regering van nasionale eenheid was. In die harwar is daar wel genoem dat die provinsiale regering nie sou teruggaan op hul onderneming nie.
Die media het egter die storie opgeblaas tot moontlike onafhanklikheid vir Orania, wat bloot nie die feite was nie, maar wat die ANC die harnas ingejaag het en negatiewe dekking veroorsaak het. Fikele Mbalula, die Sekretaris-Generaal van die ANC, het tydens ‘n radio onderhoud gemeld dat die ANC nie ‘n onafhanklike Orania sal aanvaar nie. Carel Boshoff reageer met die volgende: “Op dié tydstip in ons vryheidsstryd is onafhanklikheid nie op die tafel nie. Binne ‘n politieke konteks is onafhanklikheid ‘n baie groot woord, waar artikel 235, wat aan Orania erkenning gee, op selfwerksaamheid fokus. Die weerstand wat nou ontstaan het is eintlik onnodig en ongegrond. Die persepsie van die inhoud van die Memorandum het weerstand by opposisie partye veroorsaak wat hul messe vir die ANC in het. Die Memorandum is daardeur onder verdenking geplaas.”
Carel stel dit dat konstitusionele advies daarop gewys het dat die inhoud van die Memorandum nie vir enige persoon wat dit bestudeer problematies behoort te wees nie. “As Oraniërs moet ons besef dat ons besig is om die katedraal met klein steentjies te bou. Ons moet ook politieke vaardigheid aan die dag lê tot die ondertekening geskied,” voeg hy by.
Riaan sien daarna uit dat die provinsiale regering by hul ooreenkoms hou, alhoewel die druk op die ANC as party swaar weeg.
Dr Wynand Boshoff, parlementslid en leier van die Vryheidsfront Plus in die Noord-Kaap lewer ook sy kommentaar op die uitstel van die ondertekening van die Memorandum van Ooreenkoms en Voorneme: “Politieke ooreenkomste is altyd ingewikkeld, veral as dit met jou grootste opponente is. Die ANC is tot ‘n gesentraliseerde eenheidstaat verbind en die VF Plus tot selfbeskikking. Daar is nie ‘n manier waarop albei hierdie wense ten volle vervul kan word nie.
Orania het die werklikheid van selfbeskikking oor dekades geskep en die regering het geen keuse as om dit in praktyk te erken nie. Die feit dat die ANC nie ‘n meerderheid in die Noord-Kaap kon behaal nie, het die geleentheid vir ‘n simboliese erkenning geskep.
Terwyl Orania versigtig was om nie onnodige knoppies te druk nie, het ander instellings dit wel gedoen. ‘n Teenreaksie het gevolg, wat die ANC se nasionale struktuur beweeg het om die saak uit die provinsiale struktuur se hande te neem.
Dié verwikkeling skep, verrassend genoeg, ‘n geleentheid. As hierdie ooreenkoms deur die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee aanvaar word, het ons ‘n nasionale ooreenkoms, pleks van provinsiaal.
Die risiko wat mens óók dadelik raaksien, word aktief bestuur. Informele gesprekke tussen die ANC se regspan en kundiges soos Carel Boshoff en prof. Koos Malan is aan die gang, terwyl ek self met die premier, dr. Zamani Saul, in aanraking bly.
Ons het dekades gewerk om te wees waar ons is en ons toekomsbeeld strek veel langer. Daarom benader ons hierdie ooreenkoms liewer met geduld as om later te moet erken: Hoe meer haas, hoe minder spoed.
Daar is natuurlik ‘n mening dat hierdie soort onderhandelings onnodig en selfs onwenslik is. Vryheid, het Carel Boshoff al opgemerk, is selfstandigheid wat erken word. Ons het die selfstandigheid; ons kan nie van die aandrang op erkenning wegskram nie.”

Post Views: 133