Tannie Lenie, soos almal haar noem, het op 1 Maart 2014 Orania haar tuiste gemaak. “Ek het afgetree, maar in Orania as Maatskaplike Werker kom aantree,” vertel sy met ‘n glimlag.
Lenie was ‘n Kovsiestudent en het in 1968 haar graad in Maatskaplike Werk verwerf. Sy het in Bloemfontein en Kimberley vir die Departement Volkswelsyn en Pensioene gewerk, maar Orania was deel van die streek waarbinne sy gewerk het. Nadat sy en Piet getroud is het hulle in Kimberley gewoon en sy het na haar swangerskap vir privaat welsynsorganisasies gewerk.
Lenie maak toe ‘n Vrystaatdraai by Geestes-gesondheid in Bloemfontein voordat KOVSIES haar opraap om van Augustus 1986 tot 2007 die welsyn van studente, dienswerkers en personeel te hanteer. Sy word deur die PUK genader om ‘n soortgelyke rol daar te vervul. Sy begin op 1 Februarie 2007 by hulle. Sy het Studentegesondheid gestig en daardeur ‘n verskeidenheid wonderlike projekte gedryf. Haar oë blink as sy van daardie pronkjare praat.
Sy sluit op 1 Maart 2014 in Orania by die Maatskaplike Raad aan. Dit was nie op daardie stadium ‘n geregistreerde welsynsorganisasie nie en sy het saam met ander rolspelers die administratiewe proses aangepak om die registrasie te formuleer. Die Orania Maatskaplike Raad was Lenie Kotze se vaandel en vele drome het deur hierdie organisasie as fondasie gestalte gekry.
Sy het op ‘n dag verby die huidige Karoosig Tehuis vir Bejaardes gery, maar die gebou het leeg gestaan. Sy het dadelik aangekondig dat sy dit in ‘n ouetehuis wou omskep. Daar het uiteindelik ‘n span individue aan die werk gespring om die gebou skoon te kry sodat die eerste bejaarde verwelkom kon word. Op 1 September 2014 het die eerste inwoner haar intrek geneem en om 12:00 kon sy ‘n gekookte ete geniet. “Tannie Mercia de Vries was die eerste inwoner. Sy het Tannie Betsie Verwoerd tot haar dood versorg,” vertel Lenie met ‘n vol hart.
Lenie moes staatmaak op borge om die projek suksesvol te laat vlot. “Die gemeenskap was so goed vir my. Ek het selfs borge uit Nederland gekry,” deel sy.
Sy het geweet dat vroeë kinderontwikkeling en ‘n dagsorgsentrum van kardinale belang was. “Alle mammas moes werk en daar was babatjies,” sê sy. Op 3 Januarie 2015 open Huppelkind se deure vir 3 kinders. Aan die einde van Januarie was daar 12 kinders en hulle het Februarie met 20 kinders afgeskop. “Ek is ‘n trotse stigter en die sentrum het ontstaan omdat kinders tussen 3 en 6 niemand gehad het om hulle te versorg nie. Dit was vir my ‘n ongelooflike belegging in ons Afrikanerkinders,” vertel sy met daardie kenmerkende blink in haar oë. “Prys die Here vir Esna wat kom oorneem het,”slaak sy ‘n sug van verligting.
Aan die einde van 2022 bedank tannie Lenie van die direksies waarop sy gedien het. “Dit is nou tyd vir die jonger geslag om die leisels oor te neem,” sê sy trots.