Orania is in die afgeleë Noord-Kaap gesetel en het op Donderdag 25 April ontvangs geneem van ‘n reuse batterysisteem wat die geleentheid sal skep vir die dorp om voortaan tussen 06:00 en 22:00 beurtkragvry te wees.
Die drie vragmotors het skuins voor 08:00 die dorp binne gery en ‘n groot groep uitbundige inwoners het die konvooi verwelkom. Daar was ‘n energieke geskarrel by die plek wat vir die battery as staanplek voorberei is. Die elektriese span van die Orania Dorpsraad en verskaffers was byderhand om seker te maak dat hulle presies weet waarmee hulle vir die volgende maand of twee gaan werk.
Die elektrisiteitsverskaffer, Orasol, deel Koerania mee dat die 4.8MWh BESS 4.3MWh bruikbare kapasiteit met ‘n maksimum uitset van 2.75MWh bied. Mauritz Meyer, hoof van elektries by die Dorpsraad verduidelik dat daar nog baie werk is voordat die battery operasioneel sal wees. “Ons wag nog vir heelwat toerusting van verskaffers in Gauteng af voordat ons sekere noodsaaklike koppelings kan doen,” vertel hy.
Volgens Mauritz moet die skakeltuig wat in die skakelkiosk geinstalleer moet word nog arriveer, maar die basis waar hy moet staan is reeds voltooi. Die skakelkiosk sal gekoppel word aan die hoofsubstasie in die netwerk.
Tans is die elektriesespan se fokus om die kabels tussen al die tipes toerusting gekoppel te kry. Mauritz vertel dat die gelykstroomkabel reeds gekoppel is, en dat sekere kontrolekabels tussen die beheerkas, wat nog moet arriveer, en die batterye tans gekoppel word.
Die hele proses van koppeling en toetsing behoort ten minste twee maande te neem voordat die stelsel in volle werking gestel sal kan word. Die gemeenskap sien daarna uit om produktief te wees sodat die ekonomie kan floreer.
Die multi lithium-ioonbatteryselle bevat ‘n vloeistofverkoeling wat tot optimale temperatuurbestuur sal lei. Die huidige kragbehoefte in Orania is tans ongeveer 1.2MW en bereik soms ‘n piek van 1.9MW. Alles dui daarop dat die battery vir die hele dorp krag kan voorsien vir 2 ure in piektyd en 3 tot 4 ure gedurende ander tye wanneer die battery ten volle gelaai is. Orasol se sonplaas verskaf reeds 1.25MW wat 40% van Orania se elektrisiteitsbehoeftes dek.
Terwyl daar nie ‘n bedrag bekendgemaak is vir die batterykoste nie vertel Riaan Jacobs, Projekbestuurder van Orasol, dat onafhanklike akademici beraam dat die dorp se jaarlikse ekonomiese verlies wat aan beurtkrag toegeskryf kan word, meer as dubbeld die prys van ‘n battery beloop.
Dit is vir Orasol se bestuur belangrik dat die hele gemeenskap by die proses moet baat. “Die droom is om elektrisiteit uiteindelik goedkoper te kan verskaf, sodra die skuld grootliks gedelg is,” vertel Riaan.
“Orania groei tans met tussen 10 en 16% en die toekomstige uitbreiding van Orasol sal van die inwonertal se groei en ESKOM se vermoë om aan behoeftes te voorsien afhang,” sê Jacobs.