Koerania

Terloops is die naam van Carel Boshoff en Frans de Klerk se duo-orkes. Dié twee se vriendskapsverhaal klink soos ‘n Vinkel en Koljanderstorie wat in die vroeë jare van Orania afspeel. Hulle het onlangs ‘n splinternuwe Afrikanerlied die lig laat sien en hulle hoop om met dié lied die vryheidstrewe van die Afrikaner te beklemtoon.

Vry is die titel van hulle enkelsnit en daarmee aksentueer hulle die dade van ‘n paar van hulle jeughelde uit ons geskiedenis. Dié besonderse saamsinglied beklemtoon ook die belangrikheid van taal, kultuur en vryheid. Die lirieke, wat in die skryfproses eerste vorm aangeneem het, en melodie neem jou op ‘n opwindende reis waarvan jy vinnig deel voel. Carel vertel dat die titel eers na die opname, toe die klankregisseur ‘n naam gesoek het waaronder hy sy werk kon stoor, gekies is. “Ons het vinnig gebreinstorm, en die titel het vir ons na die mees natuurlike een gevoel.”

“Ek en Frans het vroeg in ons hoërskoolloopbane saam begin musiekmaak en liedjies skryf.

Ons het besluit ons wil nie oor ons orkes spog nie, en dat ons mense net so terloops daarvan sal vertel. Vandaar die naam Terloops!” noem Carel.

“Ons veldspeletjies en bendesamestellings het meermale gespruit uit die stories wat ons ouers ons van die boerehelde vertel het,” dui Frans aan. Vandag nog kyk hy met trots terug op die jonger helde soos Japie Greyling en Dirkie Uys wat onwrikbaar in hulle geloof was wanneer hulle met die dood gekonfronteer was. Frans admireer sy pa, Frans, wat vir hom, sy familie en sy gemeenskap in oormaat van homself gee.

Carel het ‘n hoë agting vir Generaal Beyers aangesien sy familie van die Waterberge afkomstig is en hul dus in sy kommando geveg het. Sy oupa, prof Carel Boshoff, is sy rolmodel wat soveel vir vryheid gedoen het, maar ook omdat hy ‘n ywerige liedjieskrywer was.

Op die vraag na hulle musiekvoorkeure lewer dit uiteenlopende reaksies. Frans kies Frank Sinatra, want daar is vir hom so baie gunstelinge, en Carel se keuse is Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band.

Wanneer hulle begin opweeg waarop die muntstuk vir hulle eie klank moet val dan kies hulle albei musiek waarmee jongmense hulself kan vereenselwig. Carel sê: “Musiek is ideaal om gevoelens te deel. Selfs al leer mens nie noodwendig nuwe feite deur ‘n liedjie nie, kan ‘n liedjie jou lei om meer van ‘n onderwerp te leer.”

Die trots vir hul Afrikanerskap loop dik in die twee se are. Carel noem dat Afrikanertrots nog nooit vir hom ‘n moeilike konsep was nie. “Ek verstaan dat dit nie vir alle jong Afrikaners maklik is nie, veral nie as al wat hulle van ons geskiedenis geleer het uit die staat se voorgeskrewe werk kom nie.” Hy raak opgewonde wanneer hy verduidelik dat ons voorvaders vir vryheid getrek, geveg en onderhandel het. Sy twee seuntjies het die voordeel dat pappa daarvan hou om vir hulle speelgoed uit hout te maak.

Frans en Carel hou albei daarvan om te skryf. Wanneer hulle saam begin werk aan ‘n projek soos wat hulle sedert hoërskooljare al doen, dan vloei die kreatiewe idees vryelik. Hulle getuig: “Daar is sedert Bok van Blerk se De La Rey heelwat liedjies oor ons volk, taal en geskiedenis geskryf. Ons wil graag die onderwerp van vryheid deel van daardie gesprek maak.”

Frans is oortuig dat Afrikanertrots en identiteit iets is wat gevier moet word, maar nie afgedwing moet word nie. Albei wil jongmense aanmoedig om ander bronne as die voorgeskrewe skoolboeke te gebruik om meer van die geskiedenis te leer. “Al leer iemand iets van ons geskiedenis deur ons liedjie, dan het ons in ‘n doel geslaag.”

Carel speel kitaar en Frans geniet dit om sy mondfluitjie en ukelele nader te trek. Hulle hoop dat Vry rondom menige braaivleisvure, by familiekuiers, musiekfeeste en by dansbane sal speel. Hierdie is nie hulle eerste lied as duo nie, en beslis nie hulle laaste nie. Frans sê dat hulle eerlike Afrikaanse musiek sal aanhou maak wat die Afrikanerjeug met trots kan geniet.

“Ons is trots Afrikaans
en ons streef na ‘n vrye
Afrikanertoekoms!”

Volg hulle op Facebook en Instagram: @terloops_official op Instagram en Terloops op Facebook.

Post Views: 224