Koerania

deur die Burgemeester se Bril – Jan 24

Beskik ons oor die woordeskat vir ons vryheidstrewe?

Afrikaners is so lank verkneg deur die gebruik van vreemde arbeid dat hulle nie meer weet hoe dit voel om vry te wees nie. In Orania is ons besig om vryheid te herontdek.  ‘n Stadige proses omdat ons dikwels nog verlang na ons verknegting, dalk omdat ons niks beter ken nie?

As ons vryheid wil konkretiseer, moet ons dit verstaan. Om dit te verstaan het ons woorde nodig. Ons sal ons woordeskat moet uitbrei en nuwe woorde skep. Wat is jou woorde vir vryheid?

Vryheid het ‘n onderbou, ‘n on-geskrewe kontrak wat ons met mekaar, maar ook met ander moet onderneem. Vryheid is ‘n wilsbesluit, dikwels teen die heersende denke. Vryheid is om ‘n basis te kies en daarby te hou. Vryheid is om ons wortels te herontdek en te leer uit ons foute. Vryheid is verantwoordelikheid. Vryheid is ‘n roeping waaraan ons as gelowiges gehoorsaam moet wees. Vryheid is om te onthou dat Afrikaners vryheid as ‘n opdrag in Christus vind.

Ons het reeds ooreengekom op drie vaste pilare: eie arbeid, eie instellings, eie grond. Ons kies opnuut ons Afrikanerkultuur. Afrikaans is die taal van ons harte en dus van ons keuse. Laat ons dit maar weer vir mekaar sê: in woorde!

Konsentrasiepolitiek, meerder-
heidsbesetting
en demografie word voor-afgegaan deur eie arbeid. Ons weet dat ons grondgebied klein genoeg moet wees dat ons dit self kan bewerk. Ons doen dit tree vir tree, terwyl ons nuut en skeppend dink, want die roete is nog ongekaart.

Is ons in wese Volkstaters of Republikeine? Verstaan ons dat Orania baie meer is as ‘n klein, wit dorpie? Daarom leef ons in Orania nie in isolasie nie, ons is nie bang vir besoekers nie en ons weet dat ons nog baie sal onderhandel, selfs met ons vyande. Want ons is besig met groot dinge.

Alvin Toffler skryf: Selfs  as ons klein dingetjies doen, moet ons dink aan die groot dinge waarmee ons besig is, sodat al die klein dingetjies in die regte rigting sal gaan.

Ons dink idealisties, maar werk realisties, soms pragmaties. Ons skep eie simbole, bou eers ‘n stad, terwyl ons werk aan ‘n streek, vestig die kiem van onafhanklike regspraak. Ons vestig selfvoorsiening ten opsigte van energie, die voorwaarde vir ontwikkeling.

Oom Dirk Viljoen, ‘n stigterlid van Orania, skryf in 1991: “As die wil bestaan, kan die stryd vir vryheid van ‘n volk aangeknoop word.” Die voorwaarde is die wíl. Daarna volg stryd. Om vryheid te kry is nie maklik nie. Dit kom teen ‘n prys.  Dit is soms om strategies te kies om dinge te doen wat ‘n mens eerder sou wou nalaat. Vryheid is soms om moeilike onpopulêre keuses te maak, omdat dit die regte ding is om te doen. Die stryd word opgeneem deur dié wat in vryheid glo.

Vryheid vra dat jy meer moet gee as waarop jy gereken het, want ons bou ‘n stad op ‘n berg.

En uiteindelik is alles net genade.

Soli Deo Gloria!

Post Views: 99