Koerania

deur die Burgemeester se Bril

Die lekkerste lekker van Orania

 

Orania bly elke dag vir my ‘n nuwe, unieke en wonderlike plek. Selfs op die dae wat dit moeilik gaan. Ek wonder dikwels hoekom dit so is.
Miskien is dit omdat ons elke dag geskiedenis maak en omdat ons besluit het om deur die genade, die outeurs in ons eie verhaal te wees. Dalk het ons ook maar so ‘n tikkie hardkoppigheid om vir die wêreld te wys dat ons ís, en dat ons DV nog lank hier sal wees.
Dis baie lekker dat ons, onsself weer herontdek. Dat die jonges hier se oë blink as hulle bewus word van ons eie geskiedenis, dat ons feeste eg en Afrikaans is, dat ons simbole bekend en betekenisvol is en dat ons hierdie keer ons eie ekonomie met ons eie hande bou. Hoe wonderlik as ons nog ‘n nuwe instelling oprig wat in belang van ons gemeenskap optree en waar ons weet dat ons waardes weerspieël word.
Dit is elke keer ‘n vreugde om ons eie simbole te sien: ons vlag, oras, ons monumente, die groeiende gemeenskapskuns. Ons het al so ‘n besondere identiteit ontwikkel. Die lelike eendjie ontwikkel in ‘n pragtige swaan!
Watter voorreg dat ons self kan werk! Behalwe al die politieke en ekonomiese voordele wat dit bring, is dit bloot lekker as ‘n mens aan jouself bewys dat jy ‘n moeilike taak self kan verrig. Dit is veral ‘n plesier as ‘n mens begin dink oor jou take en besef dat jy beter maniere gevind het om dit te doen, omdat jy dit vinniger en meer doeltreffend wil doen. Daar is ‘n beloning in ‘n taak wat jy goed afgehandel het. En eie werk hou ons fisiek sterk en gesond, wat natuurlik bydra tot ons lewenskwaliteit.
O! Hoe geniet ek dit tog as almal probeer om Afrikaans haar mooiste baadjie te laat aantrek! Ons help mekaar reg as daar ‘n Engelse woord inglip. Ons skep nuwe woorde. Ons ontdek weer vergete vakterme en ons sing en aanbid in Afrikaans.
Kyk net hoe verskeie eetplekke sorg vir ‘n tradisionele dis op die spyskaart. Een van die groot lekkertes is steeds ons eie, egte Boeregasvryheid. Natuurlik gee dit ‘n gloed van genoegdoening as ons gekomplimenteer word op ons gasvryheid. Ons het al die kuns vervolmaak om lekker te kuier.
Ek is gelukkig as ek kindertjies sien fietsry en speel. Ek weet hulle glo dat Orania aan hulle behoort en dit is reg so.
Ek voel veilig as ek OVD op patrollie sien of as ek hoor dat ons manne selfs die omgewing se kriminele moeilikhede help oplos sodat ons in ‘n veilige omgewing kan woon. Watter voorreg is dit dat ons sterk roepingsbewuste manne het!
Dit is so heilsaam as ons soms net ‘n bietjie na ons eie foute en vratte kyk. In Orania is ons nie bang om dit te doen nie, wat ons voel gemaklik genoeg om na binne te kyk. Ons daag mekaar uit en verruim so ons denke.
My hart is trots as ek hoor hoe Orania ‘n onderwerp van akademiese studie is, en hoe die wêreld tog by ons leer, al is ons piepklein. Ek is dankbaar as ek hoor van al die beplanning wat in ons gemeenskap gedoen word, maar meer nog, dat dit uitgevoer word en dat ons hier weer beplek word.
Miskien is die grootste wonder en die grootste lekkerte van Orania dat dit ‘n ware tuiskoms is. Hier kan ons weer behoort en wees. Hier het ons ‘n taak en ‘n doel. Hier het ons ‘n toekoms. Daarvoor is ek opreg dankbaar.
Mag dit altyd wees: Aan God alleen die eer!

Post Views: 84