Koerania

deur die Burgemeester se Bril

Orania, vlam van hoop

 

In 2007 publiseer Robert Putnam, ‘n vooraanstaande politieke wetenskaplike en skrywer, uitgebreide navorsing oor die invloed van etniese verskeidenheid in gemeenskappe. Sy bevindings onthul dat etniese diversiteit komplekse en soms uitdagende gevolge op samehorigheid en gemeenskapsvertroue kan hê.
Ondermeer is hierdie gemeenskappe geneig om in hulleself te keer, minder interaksie te hê, minder aan gemeenskapsaktiwiteite deel te neem en minder vrywilligerswerk te doen. Sosiale kapitaal, of netwerke van verhoudings en vertroue wat die gemeenskap in staat stel om doeltreffend te funksioneer is gewoonlik laer in etnies diverse gemeenskappe met gevolglike laer vlakke van vertroue.
Roger Scruton, ‘n konserwatiewe Britse filosoof, beaam Putnam se siening. Volgens hom is homogene gemeenskappe meer stabiel en met ‘n groter samehorigheidsgevoel hoofsaaklik as gevolg van ‘n gedeelde kultuur, waardes en geskiedenis. Hierdie gedeelde elemente bevorder ‘n sterk gevoel van identiteit en tuiskoms onder lede van die gemeenskap, wat weer lei tot wedersydse vertroue en sosiale samewerking. Scruton het geglo dat wanneer mense binne ‘n gemeenskap ‘n gemeenskaplike begrip van sosiale norme, tradisies en morele waardes het, dit makliker word om sosiale orde te handhaaf en konflik op te los.
In ‘n homogene gemeenskap skep die gedeelde identiteit ‘n natuurlike band tussen lede, wat dit meer waarskynlik maak dat individue saamwerk na gemeenskaplike doelwitte en mekaar ondersteun in tye van nood. Die gevoel van solidariteit dra by tot die algehele stabiliteit en veerkragtigheid van die gemeenskap.
Scruton het ook aangevoer dat ‘n gedeelde kulturele agtergrond die potensiaal verminder vir misverstande en konflikte wat kan ontstaan as gevolg van verskillende oortuigings of gebruike. Die kulturele samehang help om ‘n meer voorspelbare en harmonieuse sosiale omgewing te skep wat die gemeenskap se stabiliteit en samehorigheid verder versterk.
Oor die afgelope twee jaar het ‘n verskeidenheid van afgevaardigdes uit Europa en Amerika Orania besoek om Orania se model onder die vergrootglas te neem, veral omdat hulle al hoe meer uitdagings as gevolg van diversiteit beleef. Verskeie oorweeg om ons model vir hulle omstandighede aan te pas. Hierdie soekers na oplossings vind partypolitiek al hoe minder aantreklik. ‘n Sweedse besoeker het aan die vooraand van sy vertrek uit Orania gesê dat hy weet dat die Swede mal geword het, maar nadat hy Orania besoek het, het hy besef dat hulle stapelgek geraak het. In Swede het hy geen gemeenskap met mense meer beleef nie.
Orania is so bitterklein, maar as ons biddend bly doen wat reg en regverdig is, word ons ‘n vlam van hoop. Mag dit so wees.
Soli Deo Gloria!

Post Views: 67