Die geleenthede wat voor Orania staan is verbysterend en die verantwoordelikhede enorm. Ons bou aan ‘n plek vir ons nageslag. Wat sal hulle van ons onthou as hulle in die toekoms deur hierdie strate stap? Wat sal hulle sien? Van al die dinge waarmee ons tans besig is, wat sal hulle inspireer?
Een van die belangrikste nalatenskappe wat reeds oor eeue besiel, is skoonheid; mooi dinge. Miskien is dít wat ons steeds aantrek na Europese stede, selfs al verskil ons tans ideologies soveel. Die mooi geboue en kuns orals inspireer. Dit laat ‘n mens soms verwonderd, dit laat jou nadink, dit lig die gees.
‘n Mooi omgewing is op soveel maniere belangrik. Dit laat mense gelukkiger voel, dit verminder stres en donker buie, dit bou geestelike gesondheid en bevorder menslike interaksie, dit dra by tot identiteit en gemeenskaplikheid en volgens verskeie studies verhoog dit die waarde van eiendom. Dit kan selfs rykdom bevorder.
Lees gerus die mooi verhaal van die Guggenheim Museum in Bilbao in Spanje, ‘n stad wat verval het, ‘n ekonomiese krisis beleef het, ontvolk het, hoë vlakke van werkloosheid en sosiale verval beleef het, en dit was vuil en lelik. Dalk nie die plek wat iemand sou kies om ‘n ikoniese gebou op te rig nie. Maar tog, die oprigting van dié bekende landmerk het ten doel gehad om te transformeer en het skitterende sukses behaal. Dit het ‘n ekonomiese inspuiting in die gebied verskaf en gelei tot toestroming van toeriste met gepaardgaande ekonomiese voordele. Natuurlik het werkskepping gevolg. ‘n Kulturele Renaissance was die vonk wat inwoners weer trots gemaak het en hoop gegee het, dit het verder gelei tot groot beleggings in die gebied. Die museum se teenwoordigheid het ander ontwikkelings in die gebied aangetrek en ‘n hele vervalle omgewing het lewe gekry en begin sprankel.
Die Bybel leer ons dat innerlike skoonheid baie belangrik is. Tog is daar spesifieke opdragte vir kuns in die Bybel, maar altyd tot eer van God. In Eksodus lees ons van die bouwerk aan die Tempel en die voorskrifte dat vaardige ambagsmanne die meublement moes skep en dat God aan hierdie manne die wysheid en vaardigheid geskenk het om pragtige dinge tot stand te bring. Selfs die kledingstukke van die priesters is versier met goud en edelgesteentes, nie net ter wille van die mooi voorkoms nie, maar met ‘n dieper betekenis. Alles wat ons doen of skep, moet God erken en eer. Miskien is dít deel van die antwoord oor die aanskoulike Europese argitektuur en kunswerke.
Ons het reeds begin om Orania mooi te maak. Daar is pogings om parke te bou, daar is pragtige openbare kuns en beloftes van nuwe mooi geboue. Maak dit saak hoe Orania lyk? Openbaring 14:13 leer ons dat ons werke ons sal volg wanneer die nuwe aarde aanbreek. Dit beteken dat ons opregte werke, wat aan ons Skepper toegewy is, sal bly staan. Ook die argitektuur en kuns in Orania.
Die geleenthede wat voor Orania staan is verbysterend en die verantwoordelikhede enorm.
Soli Deo Gloria!