Redelik vroeg in Orania se geskiedenis vertel Ronel Coetzee ons van Permakultuur. Christiaan van Zyl ken dit ook. Gou ontstaan ‘n geesdriftige groepie rondom dié idees. Ons wil bewaar en bewerk waar ons bewoon.
Permakultuur bied selfs ‘n oplossing vir talle probleme rondom eie arbeid. So begin ons ‘n arbeidsbank. Dit beteken dat die lede van die groep om die beurt by mekaar werk. Prakties werk dit toe só: Elke Donderdagmiddag van vyf tot ses uur kom ons by een van die lede se huise bymekaar en vir een uur doen die sowat vyftien lede van die groep die werk wat die lid by wie ons dié dag werk, gekies het. Dit kan enige iets wees van vensters was, bome plant, sitrusskil opkerf vir marmelade, die motorhuis regpak, die werf skoonmaak of om ‘n modder-en-strooi-hut te bou. (Mens was veral dankbaar as die groep op ‘n Donderdag by jou kom werk het voor die familie die naweek kom kuier, want in een uur is daar dan vyftien man-ure se werk verrig!)
Die groep het gewerk met debiete en krediete, dus as die groep by die Strydoms kom werk het, is daar tien uur debiet op ons rekening geplaas. As ons gesin van vyf by enige ander lid van die groep gaan werk het, is ons beloon met ‘n krediet van vyf uur. Die stelsel het baie goed gewerk, veral omdat ons almal vriende was. Dit was nie nodig om enige iemand op te pas nie, want almal het verantwoordelik gewerk en die take wat gedoen moes word, verstaan. Almal bring sommer hulle eie toerusting saam en as ‘n mens net een uur het om te werk, dan klim jy in en doen so vinnig so veel as moontlik. Natuurlik is daar lekker gesels in die uurtjie, en dikwels is daar ook ‘n bietjie ná die werk gekuier.
Eie arbeid in ‘n gemeenskap was vir ons nuut en hierdie was ‘n baie praktiese oplossing daarvoor. Eie arbeid is een van Orania se kernbeginsels. Dit is eie arbeid wat ‘n demografiese verskuiwing veroorsaak en só ‘n nuwe werklikheid skep. Eie arbeid is duur, maar dit skep vir ons vryheid en voorspoed op die langer termyn. Deur eie arbeid herwin ons vaardighede wat ons verloor het en raak ons minder afhanklik van ander. Dit is veral eie arbeid wat Orania veilig maak – verstaan jy al hoe dit werk?
Soos ons die ure van eie arbeid in ons gemeenskap deponeer, belê ons in ons toekoms. Skep ons hoop. Staan ‘n volk weer op.
Bêre jy al hierdie beginsel in jou hart, soos in jou kop? As ons almal saam belê groei ons bankbalans baie vinnig. Hoe deponeer jy in ons gesamentlike arbeidsbank?
Laat weet!