Koerania

deur die Burgemeester se Bril

Een liggaam met baie dele

 

Orania is ‘n besige klein gemeenskap. Dit is ‘n gemeenskap waar dinge gebeur. Dinge gebeur egter nie vanself nie, dinge gebeur omdat mense dit láát gebeur.

Die afgelope tyd is daar ‘n wonderlike nuwe gees in Orania: Al hoe meer Oraniërs laat dinge gebeur. Hulle laat hierdie dinge gebeur, nie net vir hulleself nie, maar tot voordeel van alle Oraniërs. Dit is ‘n pragtige gees van saam-verantwoordelikheid neem wat ‘n kragtige sinergie skep.

So het die Forum vir Gestremdes tot stand gekom en die Vellievoetefees aangebied,

‘n maandelikse Aandmark met

‘n nuwe, vars baadjie is geïnisieer,

‘n groepie het verantwoordelikheid geneem om die muurbalbaan te herstel en ‘n klub begin,

‘n dans is ten bate van vloedslagoffers gereël,

stappers reël ‘n gesellige saamstap op Saterdagoggende,

‘n Woensdag-wedloop vind weekliks plaas,

die speletjiesaand: Raar maar Waar samel geld in vir die Forum vir Gestremdes,

Orania Dieresorg sorg vir weesdiere in Orania,

‘n leerlingraad reël ‘n stap vir Bybels,

‘n noodhulpgroep is letterlik dag en nag beskikbaar om te help,

‘n stap om vir leiers te bid vind binnekort plaas,

‘n groep werk kliphard aan ‘n rolbalbaan vir Orania,

nog ‘n groep versorg diegene waar ‘n geliefde gesterf het.

Die lys gaan voort.

Hierdie is Oraniërs wat met trots eienaarskap van hulle gemeenskap neem. Hulle raak betrokke en vestig samehorigheid, hulle bou bande en skep verhoudings, hulle is kreatief en innoveer, waar daar gebrek is aan bronne, maak hulle self planne. Hulle maak ander mense deel van die kring en werk saam na ‘n gemeenskaplike doel. Hierdie mense bring positiewe energie en skep ‘n veerkragtige gemeenskap wat daar is vir mekaar.

Daar vir mekaar. As’t ware deel van dieselfde liggaam. Een liggaam met baie lede. Ons lees hiervan in 1 Korinthiërs 12. En ons lees van die gawes wat ons ontvang, maar dat ons uiteindelik self die gawe ís wat ons vir ander moet aanbied.
Hierdie is ‘n gemeenskap wat my hart bly maak, want die nuwelinge in die gemeenskap trek volwaardig saam in die juk. Hulle het nou die aflosstokkie oorgeneem. Hulle verstaan die wese van Orania, dat dit baie meer volhoubaar is as die gemeenskap self verantwoordelikheid neem en nie wag vir die owerheid (of vir iemand) om alles vir hulle te doen nie. Hierdie is ‘n gemeenskap wat besig is om volwasse te raak. Hierdie is die gemeenskap waarin ek wil woon en waar ek hoop dat my nageslag sal tuis wees.

Mag ons die krag en genade ontvang om in Orania verder te bou aan ons gemeenskap. Dat ons dit sal vorm soos wat dit behoort te wees. Dat ons mekaar sal raaksien. Dat ons na mekaar sal omsien. Een liggaam met baie lede.

Soli Deo Gloria!

Post Views: 85