Ek het onlangs teruggekom van Duitsland af. ‘n Lieflike land waar ‘n mens baie kan leer.
Hoe langer ‘n mens daar is, hoe meer kom jy egter agter dat daar sekere dinge is wat totaal onaanvaarbaar is. Om ‘n straat oor te steek by enige ander plek as by ‘n voetgangeroorgang en ‘n groenlig, kan lei tot ‘n boete, dus kan jy nie vinnig oor die straat hol as daar ‘n opening in die verkeer is soos wat ons in Suid-Afrika geneig is om te doen nie.
Waag om onder die prop op jou fiets te ry en jy kan jou bestuurslisensie verloor. As jy per fiets ‘n rooi verkeerslig oorsteek, kry jy baie maklik ‘n negatiewe punt op jou bestuurslisensie. Sondae is die winkels volgens wet toe en mag trokke nie op die pad wees nie. Op sekere vakansiedae is dans verbode – daar was juis ‘n berig dat 300 gaste by ‘n nagklub aangekeer is omdat hulle op Goeie Vrydag gedans het.
In verskeie geboue is daar die reël dat daar nie toerusting soos stofsuiers of wasmasjiene gebruik mag word tydens rustye nie. Dit is byvoorbeeld tydens middagete, saans na agtuur en Sondae. In woonbuurte geld dieselfde reël betreffende grassny, blasers wat die erf skoonblaas, boor of kap met hamers. ‘n Mens pla dus nie jou buurman op ongeleë tye met geraas nie. In die hele tydperk wat ek in Duitsland was, het ek nie een keer iemand anders se harde musiek gehoor nie. Dit was werklik salig.
Duitsland het selfs reëls oor snoeidatums vir bome, sodat voëls se neste nie versteur word nie.
Ek sou ook graag wou sien dat ‘n nessie met eiertjies geleentheid gegun word om uit te broei vóórdat ‘n tak afgesaag word. Ek hou baie van stilte en ek wens my buurman het nie vroegoggend ‘n blaser gebruik om sy terrein mee skoon te blaas nie, want ek hou nie van geraas nie. Ek hou nie van die doef-doef wat ek so dikwels al in die vroeë-more-ure hoor nie. Maar moet ons nou ‘n reël maak oor elke klippie in die skoen?
Ek sou graag eerder in ‘n Orania woon waar daar geen reël is nie, maar waar ons aan mekaar regdoen uit respek en konsiderasie. Dink net as alle bure mekaar in ag geneem het ten opsigte van lawaai dan het ons nie nodig gehad om ‘n reël oor sluitingstye vir kuierplekke te maak nie. Of as almal verantwoordelikheid geneem het vir hulle diere, dan het ons nie dierereëls of ‘n skut nodig gehad nie. Óf iemand wat dit moet afdwing nie. Hoe wonderlik sou dit wees as iemand anders nie verantwoordelikheid hoef te neem vir die onbeheerste aanteel van katte nie. Dink net as dit nie nodig was om spoedwalle op te rig of toerusting aan te koop om spoedvrate mee uit te vang nie; as almal in Orania hou by veilige spoedgrense sal ons kinders altyd in die strate kan speel.
Lukas gee ‘n mooi opsomming van hoe ons met ons naastes moet omgaan: En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.
Hoeveel reëls sal in Orania genoeg wees? Ons, die Oraniërs, sal dit bepaal met ons gedrag. Mag dit ook tot Sy eer wees.
Soli Deo Gloria!