Ek wil vertel van die malvalekker-eksperiment wat Walter Mischel in die sestiger jare gedoen het. Dié eksperiment wou ondersoek instel na hoe kinders die versoeking van ’n onmiddellike beloning weerstaan ten einde later ’n groter beloning te kry.
’n Kleuter is alleen in ’n kamer geplaas met ’n enkele malvalekker en dan die keuse gegee: hy kon of die lekker onmiddellik eet, of ’n ruk wag, waarna hy dan ’n ekstra lekker as beloning kon ontvang. Die belangrikste bevindinge van dié eksperiment was dat kinders wat kon wag en die tweede lekker dan verdien het, geneig was om beter
lewensuitkomste op die lang termyn te vertoon.
In Orania is dit dikwels soortgelyk. Ons moet dié dinge doen wat op die langer termyn sal voordeel bring, selfs al is die huidige toestand bittersoet. Soos om ’n heffing vir ’n sonkrag-battery te betaal wat vir almal tans ’n bietjie duurder sal wees, maar sodat ons uiteindelik almal beter daaraan toe sal wees.
Ons het reeds eerstehands ondervind dat beurtkrag die laaste spyker in die doodskis vir sommige van ons klein ondernemings was. Ander moet ten duurste self alternatiewe voorsien om net aan die lewe te bly. Talle werksgeleenthede kom in gedrang as energie onbetroubaar is. Daarom wil ons ten opsigte van energie waarlik op ons eie bene staan.
Prof Jannie Rossouw, besoekende professor aan Wits, is tans betrokke by Orania se volgende ekonomiese ont-wikkelingsplan en het onlangs die volgende berekeninge gemaak:
Beurtkrag het Orania se ekonomie in 2021 ongeveer ϕ5miljoen vir die jaar gekos. Beurtkrag (sonder die Orasol-battery) sal, volgens prof Jannie, ons ekonomie in 2024 ϕ7,42m kos.
Om onder die juk van ’n onbetroubare energieverskaffer uit te kom, moet Orania vir sy eie energiebehoeftes verant-woordelikheid neem. Verder is dit interessant dat die rykste lande in die wêreld ’n oorvloed van energie beskikbaar het.
Hoekom is dit belangrik?
Orasol het twee aandeelhouers: Orania Infrastruktuur (Edms) Bpk, ’n volfiliaal van Orania Dorpsraad, met 60% en Vluytjeskraal 272 Eienaarsvereniging MSW, met 40%. Oraniërs is dus die aandeelhouers in hierdie maatskappy. Net soos OSK Koöperatiewe Bank aan Orania-aandeelhouers behoort, so behoort Orasol aan Orania-aandeelhouers en het dit die gepaardgaande voordele van ’n gemeenskapsinstelling. Verantwoordelikheid lê plaaslik, nie êrens ver in ’n sentrale sisteem waartoe niemand toegang het nie.
In Orania is reeds voorsiening gemaak vir kleinskaalse ingebedde kragopwekking (KSIKO’s) en dus privaat-kragopwekking wat teen vergoeding in die netwerk kan terugvoer. Maar om desentraliserende vryheid te bevorder word ekonomie van skaal vereis, daarom éís dit ’n gemeens-kapsoplossing: daar is krag in getalle. Net soos met die malvalekker is daar nou ’n bietjie dissipline nodig sodat ons almal later die soete beloning kan smaak!
Ons dank die Here vir toegewyde, roepingsbewuste manne wat hulle verantwoordelikheid opgeneem het om in Orania se onmiddellike energie-behoeftes te voorsien. Ons sien uit na die langtermyn voordele!
Soli Deo Gloria!