Afrikaners is nog versigtig vir die idee van ‘n stad. Dit maak logies sin om nou ‘n Afrikanerstad te bou, maar ons bedink dit nog met die verstand, dit het nog nie ons harte vol gemaak nie. Tog het ons nou die geleentheid om ‘n unieke stad tot stand te bring. Hoe sal ‘n stad lyk waarin Afrikaners kan tuiskom?
Ons wil ‘n mooi stad hê, ‘n mensvriendelike, stapvriendelike en ‘n fietsvriendelike stad, maar wat beteken dit? Want oor mooi, lelik en lekker stem ons nie altyd saam nie. Gelukkig is daar briljante denkers wat reeds beginsels neergelê het oor skoonheid. Roger Scruton, ‘n filosoof, beklemtoon die belangrikheid van orde, tradisie en harmonie, terwyl Mies van der Rohe, ‘n bekende argitek, eenvoud, funksionaliteit en die idee dat “minder meer is” omhels.
Breë, boomryke sypaadjies met gerieflike sitplekke en groen areas nooi mense uit om te wandel en te vertoef. Scruton se idee van harmonie rig ons tot samehangende stedelike uitleg waar argitektoniese style mekaar aanvul in pas met die Afrikanerstad se historiese konteks.
Fiets-vriendelike infrastruktuur gee ‘n pragtige dinamika aan ‘n stad. Mies van der Rohe se beginsel van funksionaliteit is in pas met die skep van doeltreffende en veilige fietspaaie. Hierdie bane moet vloeiend in die stedelike weefsel geïntegreer word, ‘n simbiotiese verhouding tussen fietsryers, voetgangers en die res. Groen korridors, geïnspireer deur Scruton se klem op kontak met die natuur kan dien as fietspaaie en sodoende ‘n harmonieuse samevloei van funksionaliteit en estetika bied.
Openbare ruimtes speel ‘n sleutelrol in ‘n mensvriendelike stad. Mies van der Rohe se beginsel van “minder is meer” sal daartoe bydra dat ons oop pleine skep met minimalistiese, toeganklike ontwerpe. Deur Scruton se idee van tradisie hierby te integreer kan hierdie ruimtes kulturele geleenthede aanbied waar die erfenis van die stad omarm word terwyl dit ontmoetings met mede-Oraniërs bevorder.
Ten opsigte van die argitektoniese voorkoms kan Mies van der Rohe se oproep tot eenvoud in balans gebring word met Scruton se beklemtoning van tradisie deur historiese strukture te bewaar en in moderne ontwerpe in te sluit. Hierdie benadering gedenk nie net ons geskiedenis nie, maar verseker ook ‘n dinamiese, visueel aantreklike omgewing.
Hoe lyk die stad wat jy graag wil hê? Onthou, die uitnodiging staan dat jy jou insette kan lewer: lees Cobus Pretorius, Hoof: Beplanning en Grondgebruik by Orania Dorpsraad, se kennisgewing van 25 Januarie waar Oraniërs genooi word om insette rakende die beplande plein in S-blok te lewer. Raak gerus betrokke!
My stad moet tydloos wees, elegant in voorkoms, aantreklik vir oud en jonk, en somtyds ‘n bietjie spelerig! Ons stad moet ons inspireer om gedigte te skryf en te sing, om bly te wees en God te eer. Ek wil inspraak en deelname van Oraniërs sien. Ek wil graag ‘n stad hê met genoeg ruimte, maar veral een saam met my mense waar ek werklik sal tuis voel. Hoe lyk jou stad? Laat weet!