Die persoonlike doelwitte wat Dantél Oosthuizen vir haarself tydens die voorbereidingsproses gestel het, was vir haar die grootste uitdaging.
Sy voel tevrede met haar finale week se voorbereiding waar sy ervaar het dat dit baie meer van ‘n sielkundige stryd was. “Jy kan vir ‘n week geen sout eet nie en jou waterinhoud word drasties gesny,” vertel die fikse dame. Sy glo dat haar liggaamlike voorbereiding vir dié kompetisie voldoende was. Daardie laaste slukkie water wat sy 19:00 die vorige aand mag geneem het, en dan eers weer nadat sy op die verhoog verskyn het, was moeilik.
Dantél vertel dat, alhoewel dit ‘n klein kompetisie was, het die vlak van professionaliteit nie geskort nie. Daar het ongeveer 20 mans en dames deelgeneem en sy het self aan die “strand bikini” en die “bikini fiksheid” afdelings deelgeneem. Sy het goue toekennings vir albei afdelings verwerf.
Dié wenner is oorgehaal om nog soortgelyke uitdagings aan te pak. Sy beskryf die ervaring waar sy op die verhoog moes verskyn en spesifieke posisies moes inneem vir die beoordelaars om die spierdefinisies goed te kan waarneem, as opwindend. “My kop was orals, want ek wou net daarop fokus om alles reg te doen,” sê sy.
Dit was vir haar ‘n eerste kompetisie en sy sien daarna uit om haar verhoogwerk te ontwikkel. “Ek sal ‘n afrigter moet kry wat met posering help,” verduidelik sy. Die regte manier van staan en draai en spiere vertoon is ‘n kuns op sy eie.
Die vriendelike en behulpsame personeel het volgens haar bygedra tot die lekkerte van die kompetisie. “Jy bly beslis jou eie grootste kompetisie. Alhoewel almal mekaar bekyk en jy elke individu se harde werk kan admireer, moet jou eie dissipline jou grootste uitdaging bly.”
Sy is oortuig dat elke individu werklik hard gewerk het om genomineer te word vir deelname aan die kompetisie. Daar is egter niks anders wat haar sou kon uitdaag om deel te neem, behalwe haar eie oortuiging nie. “Wat jy aanpak moet jy vir jouself doen. Dit maak nie saak of jy eerste of laaste kom nie, werk hard daarvoor. As alles in die lewe maklik was, dan het niemand dit gedoen nie,” eindig Danté met wysheid af.