Dantél Oosthuizen is nie ‘n dame wat jy sonder handskoene wil aanvat nie. Daar is baie skop in daardie lyfie wat tans hard werk om op 8 Junie aan die IFBB-kompetisie (International Fitness and Bodybuilding Federation) in Kimberley deel te neem.
Sy het besluit om aan die Fiksheid en Bikini-afdeling deel te neem, waar jy die vorm van jou spiere vertoon en nie soos ‘n kragopteller lyk nie. Dantél sê sy wil nie werklik bonkige spiere bou nie, want dan beweeg jy na ‘n volgende vlak van oefen en dieet toe. “My man het gesê hy sal vir my aandui wanneer dit genoeg is,” vertel sy laggend.
Dié dame sou in Maart 2024 aan ‘n soortgelyke kompetisie in Kathu deelneem, maar dit is 4 dae voor die kompetisie gekanseleer as gevolg van te min inskrywings. Dit het egter die pad gebaan dat sy outomaties na die provinsiale kompetisie kon deurdring. Die liggaam se herstel na so strawwe voorbereiding toon skoksimptome, want die inname van rooivleis het haar aanvanklik nie goed laat voel nie.
Haar bikini wil sy nog nie vir ons wys nie, maar sy het dit by ‘n voormalige deelnemer aan ‘n soortgelyke kompetisie bekom. “Dit is ‘n duur kompetisie om aan deel te neem, aangesien die vereistes vir klere, skoene, grimering, hare alles deur die federasie bepaal en verskaf word,” verduidelik sy.
Tydens ‘n seminaar wat onlangs oor die kompetisiereëls en deelname aangebied is, is sy beindruk met die organiseerders se voorbereiding en toepas van reëls wat ook deelnemers se veiligheid en gesondheid beklemtoon.
Dantél oefen tweekeer per dag, en dit is buiten die ongeveer drie klasse wat sy daagliks in skopboks en fiksheid in haar gimnasium tuis aanbied. Die intensiteit van haar program neem drie weke voor die kompetisie toe. Dan word een spiergroep per dag streng geoefen vir daardie finale afronding. “Dit is maklik om spiere te verloor, want dit wys deur wat jy in jou mond sit,” vertel die selfversekerde vrou.
‘n Streng dieet vol hoë proteiene en geen suiker of sout vir die laaste drie weke voor die kompetisie, is vir haar die uitdagendste. Aangesien suiker spiere afbreek en sout vog bou word dit drasties verminder. “Ek gebruik pienk sout in plaas van tafelsout.” Die inname van genoeg proteiene bied meer krag en die geleentheid om met swaarder gewigte te oefen.
Haar hoogtepunt van elke dag vir die laaste drie weke sal die proteienmelkskommel wees wat sy mag drink. Dit sal minimum vrugte insluit. Die laaste 10 dae voor die kompetisie moet sy daagliks tyd in ‘n sauna deurbring om die vog van die spiere af te verlaag. Die maksimum water wat sy mag inneem gedurende die hele laaste week is 500ml. Sy erken dat dit nie gesond is nie, maar is dankbaar dat dit net ‘n kort tydjie is. Krampe is iets wat opduik as gevolg van die min vog, maar vir haar is dit nie so erg dat jy dit nie kan hanteer nie.
Op die dag van die onderhoud het Dantél 50.5kg geweeg en sy verduidelik dat sy nog nooit so lig was nie, maar voeg by dat dit is omdat sy baie min vet om die lyf het en daar op spiere gefokus word.
Koerania hou duimvas vir dié ma van drie kinders wat nou haar wens om aan so ‘n kompetisie deel te neem, gaan vervul. Haar man, Arnold verwys trots na sy vrou: “Dié vrou is iets anders!”