Koerania

Christo bou die stad so draf-draf

Daar waar Christo die geleentheid kry sal jy hom altyd met trots van Orania hoor gesels. Hy is trots op die Oraniavlag en hy lig met gemak sy kop omhoog waar hy buite sy dorp beweeg. Sy nuwe status as Stadsbouer van Orania motiveer hom steeds om ‘n verskil in mense se lewens te maak.
As ywerige drawwer deel hy graag die Orania-idee met wie gewillig is om te luister. Waar hy gaan is hy gewoonlik gewapen met ‘n paar Oraniatoffies of ‘n kenmerkende koffiebeker sodat hy dit as deel van sy bemarking van Orania kan uitdeel.
Christo en sy vrou Karin is nou reeds drie jaar in Orania woonagtig. Om presies te wees het hul op 2 Oktober 2020 vanaf Worcester na Orania verhuis. Hulle vorm ‘n gedugte span as die eienaars van die pragtige Hemel op Aarde gastehuis. Christo se praktyk as Pastorale Sielkundige lê hom baie na aan die hart.
Wanneer jy binne hul huis kom sien jy ook waarom hy die stigter van die Orania Atletiekklub is, wat by Atletiek Suid-Afrika (ASA) geregistreer is. Hy het vanjaar sy twintigste Comrades Marathon voltooi en het soos ‘n volbloed Oraniër met die Oraniavlag oor die wenstreep gedraf.
Christo ag sy Skepper as sy inspirasie. “Deur in Hom te groei word ek ‘n beter mens,” vertel hy opgewonde. Christo het agting vir ouer persone wat nie in die getal vaskyk nie, maar voluit leef. “Dis net fenominaal vir my as ek ‘n persoon baie jonger skat. My vrou lag altyd vir my as ek sê: So wil ek oud word.”
Christo en Karin het saam vier kinders uit vorige huwelike. Alhoewel slegs hul een seun in Orania woon is hul gedurig op soek na ‘n geleentheid om mekaar te sien. “Ons bly altyd fokus om ‘n sterk verhouding met ons kinders te behou.”
Hy vertel dat Orania hom leer dat hy kan trots wees op die Afrikanervolk en die beginsels kan uitleef. Hy beklemtoon dat dit harde werk verg om in Orania te woon, maar dat hy die vrugte van sy arbeid pluk.
As pastorale sielkundige bly genesing deur Jesus Christus vir hom ‘n prioritieit. Hoe meer mense ek tot genesing kan lei, hoe meer loop my beker oor. Dit is vir hom ‘n voorreg om mense uit die kloue van hul verlede te begelei sodat hul die volheid van hul lewe kan geniet.
Hy is die voorsitter van die Orania Atletiekklub en dié flukse drawwer smag na groter groei in die klub. Hy is ‘n groot voorstaander daarvan om mense bewus te maak van die voordele om fiks te wees sodat dit ‘n individu se fisiese en geestesgesondheid kan verbeter.

Post Views: 131