Johan en Chantelle Labuschagne is op 1 April 2023 by die De Oude Kraal Country Estate and Spa buite Bloemfontein getroud. Hulle was albei haasbekkies in Mik Hoog Laerskool in Luckhoff. Chantelle het aan die Noord-Kaapse kant van die Oranjerivier groot geword en Johan aan die Vrystaatkant.
Hul hoërskoolloopbane het hul onderskeidelik in Grey en Landboudal voltooi voordat elkeen weer in hul eie rigting beweeg het om te studeer. Johan het Landbou aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en Chantelle het Somatologie by Isa Carstens in Stellenbosch gaan studeer. Chantelle het vir vier jaar op plesierbote en privaat seiljagte gaan werk terwyl Johan plaas toe is om te begin boer.
Hulle het jare later weer voor tannie Zettie se kafee ontmoet en aan die gesels geraak. Een koppie koffie het tot meer gelei en daardie soen op haar ma se stoep het gemaak dat sy haar hart verloor het.
Na jare se reis oor die groot waters het Chantelle die voorreg om die man anderkant die rivier lief te hê, en eendag sal hul kinders in dieselfde riviersand speel waar hulle self gespeel het. Met die woorde “sien jy ook n toekoms hier?” het Johan op 14 Augustus 2022 op sy knie afgesak en die ja-woord gevra. “Ek het my spanmaat gekry, my lewensmaat!” vertel die gelukkig dame.
Johan is volbloed boer en hul springmielie- en koringboerdery eis sy voltydse aandag. Die springmielies word skoongemaak, verwerk en verpak en dan aan ander besighede gelewer. Chantelle bestuur die vakansieoord, Sandgat, saam met haar ma, Liza. “Ek doen die besprekings van die karavane en organiseer die funksies wat op die terrein aangebied word.
Die egpaar maak tyd vir die buitelewe en geniet die natuur saam met hulle twee wolfhonde. Johan is lief vir jag en vroutjie neem graag die kamera op om met haar fotografie te eksperimenteer. Saam is hulle aktief en stap graag in die natuur, swem of spandeer tyd op die rivier met hulle jetski. Familietyd is vir hulle kosbaar.
Chantelle vertel dat hulle troue die lekkerste projek is waaraan sy nog ooit gewerk het. Hulle is ‘n moderne troue in ‘n klassieke omgewing beplan. Vir hulle het die Karoo, plaas, elegansie en romanse saamgesmelt om die perfekte dag te laat ontvou. ‘n Wit ou plaashuis met houtvloere en groen dak, die dam met ganse wat in die water baljaar en die reuk van dennebome en skape wat wei, het die perfekte agtergrond en atmosfeer vir hulle spesiale dag geskep.
Die gemis na haar oorlede pa was vir Chantelle hartseer, maar met haar arm by haar broer ingehaak kon sy tot by haar bruidegom stap sodat hulle trou aan mekaar kon beloof.
“Ek lig my glasie ekstra hoog vir my mooie ma se hulp, liefde en elke myl wat sy ekstra stap. My ruiker wat ek aan haar kon oorhandig was vir my baie spesiaal.” Die musiek wat hulle saam uitgekies het was meer met die hart as die hand gekies, en dit het die geleentheid perfek gekomplimenteer.
Terwyl die heerlike geure van die spitbraai die lug gevul het kon die egpaar al hulle spesiale mense bedank vir hul teenwoordigheid en ‘n glasie is op vriende en familie gelig.
“Ons dag was propvol spesiale oomblikke. Omblikke van stilstaan en alles probeer inneem, oomblikke van lag, emosiebelaaide oomblikke, nederige, dankbare oomblikke. Alles was prentjieperfek!”
Asof haar perfekte dag nie genoeg was nie, het sy besluit om vir Beeld se Bruid van die Jaar kompetisie in te skryf. Chantelle beskryf die glansgeleentheid van 9 Junie as pragtig en vertel dat sy vreeslik opgewonde was om as ‘n finalis genomineer te wees. Toe die aankondiging kom dat sy die naaswenner is, was daar ‘n gevoel van nederige dankbaarheid wat haar hart gevul het. “Alles wat om my gebeur het, het werklik alle verwagtinge oortref,” vertel sy met ‘n breë wen-glimlag.