Klanke en Klingels in die Karoo

Die Karoo Klanke en Klingels Musiekskool het op 30 Oktober hulle jaar afgesluit met ‘n pragtige verskeidenheidskonsert waarin hul studente getoon het hoe hul musikale vermoëns ontwikkel.
Ciska de Wet en Christelle de Villiers is die twee talentvolle dames wat die studente help om hoër hoogtes te bereik. Die Huppelkindsaal is in ‘n luisterryke plek omskep om al die sang en instrumentale optredes van individue, duette en groepe te akkommodeer.

TAGS:

Volkskool se Senaat tree aan

Dié 2 leiers is dit eens dat woorde wek, maar voorbeelde strek. Vir hulle is respek, hulpvaardigheid en goeie manière kwaliteite wat hulle wil oordra en kweek tydens hul termyn as lede van die Senaat. Daar word heelwat projekte beplan waardeur hulle hulp wil verleen aan dieresorg en hulle wil onder leiding van oom Jacob Middel groente plant om aan die gemeenskap vars groente te verskaf.
Hulle sal Volkskool weer as ‘n skool kies, want dit is hier waar hulle vriendskapsbande gebou het wat vir altyd sal hou en waar hul teen hul eie tempo kon studeer. “Leeropsies het daartoe bygedra dat ek baie meer van myself geleer het,” voeg Franco by.
Hulle boodskap aan toekomstige leerders: “Volkskool vorm kinders om hul beste self te word.”

TAGS:

Orania CVO-Skool Nuus

Die Orania CVO-skool matriekafskeid

Die Orania CVO-skool matriekafskeid is op 15 Oktober in ‘n swierige skuur van ‘n plaas gehou. Daar was geen tekort aan liggies en blink dekor nie. Dit was ‘n uithang-geleentheid waartydens elke leerder hul mooiste vere vir ‘n bederfaand kon regskud.

Spanspelers aan die stuur

Ernst Kleynhans en Jana Hugo is spanspelers wat daarin glo dat elke sterk individu ook ‘n uitmuntende spanspeler kan wees. Albei lig hul moeders uit as rolmodelle by wie hulle baie van leierskap en vasbyt geleer het. Hulle twyfel nie dat selfvertroue ‘n belangrike eienskap is waarmee ‘n leier die nodige leiding moet neem nie. Ernst glo dat ‘n goeie luisteraar waarde tot ‘n uitdagende situasie voeg en Jana wil ‘n voorbeeld vir ander stel.
Dié 2 ekstroverte gaan poog om hulle mede-skoliere se stemme na die volwasse leierskap van die skool te wees. Aangesien hulle daarvan hou om verhoudinge te bou wil dit voorkom asof daar groot dinge vir CVO-skool in 2025 wag. Hul praat met agting van hulle mede-leiers en hulle wil graag ‘n blywende verskil maak om hul skool trots te maak en na nuwe hoogtes te lei.

Marathon bring fondse in

Die Orania CVO-skool het hul jaarlikse 24 uur fietsry- en stapmarathon op Vrydag 25 Oktober om 12:00 begin en op Saterdag 26 Oktober om 12:00 afgesluit. Al die deelnemers het, soos gewoonlik, behoorlik gekuier, gestap en fietsgery. Heelwat spanne het volgens ‘n tema aangetrek en daar is op die grasperk voor die skool uitgekamp, kos gemaak en tussenin speletjies gespeel om wakker te bly en die energievlakke hoog te hou. Die gelag en gesels van deelnemers kon ver gehoor word.
Volgende jaar sal daar weer op dié wyse fondse ingesamel word!

TAGS:

Oraniamodes in die tuin

Dit is byna vakansietyd en ‘n feestyd kan behoorlik gevier word wanneer jy ‘n somersdag in die tuin, met ‘n piekniekmandjie en kombers in jou hande, bywoon.
Koerania en die Okkasie Hasie bied op Saterdag 14 Desember om 16:00/16:30 ‘n Son, Styl en Safari Modeparade in Aan-die-Oewer se tuin aan. Orania se eie mans en dames gaan as modelle optree en die klere van Orania se winkels ten toon stel.
Daar kan ‘n unieke haarafdeling verwag word met Weltevreden Haarsalon wat saam met Virtrou Bloemiste vir ‘n paar verrassings sal sorg. Die eienaars van Cia-Mari Boetiek, Klein Reus se Niggie, Orania Uitrusters en Kroon tot Toon sal hulle beste winskopies vir die feestyd vir die geleentheid insluit. Kreatiewe bybehore sal te sien wees.
Inwoners en besoekers kan hulle stoele of komberse uithaal en die piekniekmandjie pak om saam in die tuin te kom kuier. Kaartjies kos slegs R100-00 per persoon en is by die kantoor van Aan-die-Oewer beskikbaar. Daar sal vure beskikbaar wees vir diegene wat na afloop van die modeparade hul eie vleis wil braai en steeds wil saam kuier. Almal bring hul eie eetgerei, bykosse en vleis vir die kuiertyd.
Kontak Dia by 083 726 1180 met jou navrae.

TAGS:

Erkenning vir gryse wyses

Daar is gedurende die week van 21 tot 25 Oktober ‘n verskeidenheid vreugdevolle aktiwiteite vir die bejaardes van Orania aangebied om aan elkeen erkenning te gee vir hul bydrae tot die bou van die dorp.
Dit is die sewende agtereenvolgende jaar dat Orania Helpmekaar Bejaardeweek aanbied, moontlik gemaak deur verskeie instansies en die gemeenskap wat bydraes lewer. Heidi Smit het die voortou geneem om hoededag, bingo, konsert, voetetroetel en ‘n afsluitingsbraai op die Vrydag vir die goue oues te reël.
Pierre Fourie, bestuurder van die Karoosig Aftree-oord vertel dat dié ‘n baie spesiale week op die kalender uitmaak omdat die gemeenskap die bejaardes bederf en deel van die dorp laat voel. “Dit is ‘n tyd om saam te lag en net vrolik te wees en waartydens ons bejaardes met liefde en respek herinner word dat hulle kosbaar is en onthou word.”
Plakkate met foto’s van Orania se bejaardes pryk oral op die pale in die dorp gedurende dié week en die gemeenskap word daaraan herinner om elke geslag te waardeer vir die kosbare bydraes wat hul gelewer het en steeds met hul lewensondervinding kan lewer.
Tydens die gesamentlike braai in die Oewer se tuin die Vrydagmiddag, is daar heerlik geskerts, gekuier en onderling gegiggel terwyl die bejaardes in ligte luim sosiaal kon verkeer.
Tot volgende jaar!

TAGS:

Saffierstraat se Badenhorsts

Hulle eerste en enigste adres in Orania was sedert hul trek nog altyd Saffierstraat 3, want dit is die huis wat Wessel vir Christa in April 1994 gewys het, en sy was dadelik ingenome daarmee. “Hierdie huis was vir ons bedoel,” sê Christa gou.
Die afstand van ‘n CVO-skool in Pretoria en bure wat verhuis het, plus bangmaak politiek het Wessel en Christa Badenhorst op 12 Julie 1994 na Orania laat verhuis. Hul buurman, oom Bernardus, het ‘n potjie sop vir die nuwe intrekkers aangedra.
Wessel het sy elektromeganiese ambag by Yskor voltooi en het by twee stadsrade gewerk. “In Orania kan jy nie spesialiseer nie. Jy moet, veral vroeër, iets van alles kan doen,” vertel hy.
Christa het Arbeidsterapie studeer en na hul eerste kind, Tinus, se geboorte, het hul besluit dat sy tuis sal bly vir hul kinders. Op 16 Julie 1996 begin sy hul kinders tuisskool en die laaste van die vier het in Mei 2009 gematrikuleer.
Hulle gesels met trots van hulle spruite. Tinus (40) is kerkorrelis en fiksheidsinstrukteur in George. “Hy het die nuusklingel, wat steeds gebruik word, vir Radio Orania gekomponeer.”
Dawie (39) is getroud met twee kinders en werk by Orion Hardeware in Orania. Marianne (36) is getroud en woon met haar drie kleingoed in Pretoria waar sy hulle tuisskool. Riaan (33) is die jongste en wel bekend aan Oraniërs as die talentvolle foto- en videograaf by die Orania Beweging.
Wessel en Christa vertel oor-en-weer ‘n pragtige klomp staaltjies wat jou terugneem na vervloë dae toe Orania nog nie planne vir stadword gehad het nie. Wessel was een van ‘n paar wat help bou het aan die eerste Oewergebou wat vandag André en Karin Coetzee se huis is. “Daar was niks behalwe ‘n stuk sementvloer waarop Waterwese se mense oujaar gedans het nie,” lig hy my in.
Daardie eerste klompie jare het harde werk, maar gesonde pret ingehou. “Wessel en Fanie Roos het die bome geplant wat tans nog in Saffierstraat pryk. Die huidige vliegveld was ‘n skietbaan. Met ds Hennie van Rooyen aan die stuur het die AP-kerk wyksetes en wyksbyeenkomste gehou. Oom Jan Brak het die melkplaas naby die Oewer gehad en sy bokmelkkaas was uit die boeke! Wat vandag as Bittereinder bekendstaan was vroeër Die Bakhuis, wat Ria Brak bedryf het. Esmé Boshoff het altyd Oewerpark se Druiwefees georganiseer en die Oraans Musiekgroep, wat ‘n CD opgeneem het, was ‘n treffer. Tienie Hout het elke nuwe inwoner vir tee genooi om met sy houtskeppings te spog,. Hy het elke winter deur die rivier geswem,” borrel die staaltjies uit.
‘n Ervaring wat hulle bybly is die man wat in 1995 met sy karavaan langs die huidige motorhawe gestaan het. Hy het volgens gerugte met sy sigaret in die hand aan die slaap geraak en die lekkasie van brandstofgas het ‘n massiewe ontploffing veroorsaak wat tot by hulle huis die aarde laat skud het.
“Ons wou graag Orania toe kom en behalwe vir die eerste somer wat 46 grade opgelewer het, was daar nie vreeslike ander aanpassings nie,” noem Christa. Die 36 vrugtebome en vrugbare groentetuin in hul erf, genoeg 1994 opgaarkos en gewoond aan selfwerksaamheid was vir hulle deel van God se voorsiening.
Christa vertel: “Ek het gedink hier sal nie karre of televisies wees nie, wat hier toe wel was. Snobisme was toe maar hier ook. Ek is ‘n Koningskind. Dit is al wat ek wil wees.”
“Orania is ‘n paradys vir kinders om in groot te word. Ons het ‘n sleepwa gehad waarop die kinders hulle kano kon laai en vir die naweek by die rivier saam met hulle maats kon kamp en visvang. Ons kon hulle met ‘n geruste hart alleen laat kamp,” noem hulle.
In 2022 het Christa haar kundigheid by CVO-skool begin toepas waar sy hul tans steeds bystaan met kinders se aansoeke vir toegewings tydens toetse en eksamens.
Hulle siening oor aftrede: “Jy moet glo dat jy in die tuig gaan sterf.” Hulle is oortuig dat ouer persone se kundigheid nuttig aangewend kan word, selfs as dit nie aan ‘n spesifieke organisasie gekoppel is nie. “Dit verg ondervinding om ‘n dorp te bou, maar ontwikkeling is nie noodwendig vooruitgang nie!
Die klerefabriek wat voorheen in Orania was, is een van die voorbeelde van ‘n vervaardigingsnywerheid wat heelwat werk verskaf het. “Ons moet vorms van vervaardiging hier kan laat vestig,” glo Wessel.
“Prof Carel Boshoff het gereeld daarop klem gelê dat Orania ‘n proefneming is, en dat niemand al hul eiers in een mandjie moet sit nie,” meld hulle. Die Badenhorst-egpaar oorweeg nie om te verhuis nie en hulle het goeie raad vir persone wat na Orania wil verhuis.
“Baie mense kom na Orania en vermoed dat hulle ‘n eerste van iets bring, maar dan is hulle onbewus daarvan dat hier al ‘n paar pogings vir soortgelyke besighede was. Iemand moenie ‘n pionier wil wees en planne vir hulself probeer uitbou nie. Pionierskap het ‘n baie kort raklewe. Kom bly vir ‘n jaar hier, beweeg tussen die mense en beleef die seisoene. Indien iemand ‘n besigheid wil begin moet jy seker wees dat jou vennote dieselfde doelwitte het,” is van hulle kosbare wenke.
Hulle is trots op die Chris Jooste gedenkbankie wat voor hulle huis opgerig is. “Hy was ‘n baie wyse en sterk man gewees. Hy was byna 100 jaar oud toe hy ‘n Spaanse riet met wortel en tak verwyder het. Niemand wat kon werk soos hy nie.”
Dié twee pioniers se dryfkrag het nog lank nie tot ruste gekom nie. “’n Ambag is soos ‘n kunswerk. Jy maak iets wat ‘n ander ou nie kan maak nie. ‘n Ambagsman in Orania is egter ‘n nuttelose ding. Omstandighede dwing jou om ‘n nutsman te wees, sonder ‘n spesialisveld. Hier is egter baie kundigheid wat by iets soos ‘n Ambagskool oorgedra kan word,” eindig Wessel af.

TAGS:

Vanuit die gehoor

Annamarie van der Merwe

Toegepaste kreatiwiteit … ʼn frase wat ek nog nie voorheen gehoor het nie, maar nou nie sommer sal vergeet nie. Tydens ʼn toneelwerkswinkel wat oor twee dae gestrek het, is toegepaste kreatiwiteit verduidelik en beklemtoon terwyl verskeie aspekte van uitvoerende kunste bondig, maar besonders leersaam, bespreek is.
Dr. Chris Vorster was die aanbieder van die werkswinkel op 1 en 2 November wat deur Koerania se Dia van Staden in Orania gereël is. Hy is tans ʼn senior lektor by die Universiteit van die Vrystaat se drama-afdeling waar hy sedert 2015 werksaam is. As Suid-Afrikaner, gebore in 1970, matrikuleer hy in 1987, voltooi sy militêre diensplig en studeer drama aan die Universiteit van Stellenbosch en verwerf ook sy meestersgraad. Dit word later opgevolg met ʼn doktorsgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy is bekend as skrywer, akteur en regisseur en verwerf verskeie toekennings oor die afgelope 30 jaar op al hierdie terreine. Miskien is hy by meeste bekend as Ryno Lategan in die destydse sepie, 7de Laan en ook meer onlangs vir sy boeke oor die lewe van Frans Marx en Marius Weyers.
Dit gebeur dikwels dat persone met so ʼn indrukwekkende CV soos dr. Vorster, nie daarin slaag om hul kennis in verteerbare porsies aan ander oor te dra nie. Dit was geensins hierdie keer die geval nie. Die oordrag van kennis was só effektief dat die kursusgangers verseker vir eers versadig gelaat is, maar só heerlik kon smul dat hul verseker ook lusgemaak is om hierdie leerproses verder te voer.
En dit is waar toegepaste kreatiwiteit ter sprake kom. Kreatiewe prosesse moet, nes ʼn tuin, bemes word om groei teweeg te bring. Wanneer iets nie gevoed word nie, sterf dit. In ʼn groot mate kan gesê word dat kreatiwiteit nie iets is wat aangeleer word nie, maar ongelukkig iets is wat vergeet word. Hierdeur word bedoel dat omstandighede en stelsels waarin ons ons bevind, dikwels op ʼn baie jong stadium reeds kreatiwiteit smoor, eerder as om dit te bevorder. Dikwels staan kunstenaars voor die keuse van “’n beroep wat ʼn inkomste sal verseker” en die uitleef van hul talente. Daar is nie ʼn vinnige en maklike pad tot sukses in die uitvoerende kunste nie. Steve Kotler (skrywer en joernalis) het gesê: “Creatives fail and the really good ones fail often”. Dit is dus belangrik om mislukking nie as die einde van die skeppingsproses te sien nie, maar as die begin of oor begin. Mens moet die selfvertroue hê om aan te hou en jou vrees vir mislukking te oorkom deur ook spesifieke hindernisse in jou kreatiewe proses te identifiseer en sodoende die weerstand te oorwin. In die alledaagse moet ons dus nie op ʼn passiewe wyse bloot bestaan nie, maar moet ons kreatiwiteit voed deur waarnemings en aantekeninge wat later as bron dien waaruit ons kan put wanneer ons skeppend wil optree … toegepaste kreatiwiteit!
Die kursus het oor verskeie temas gestrek, insluitende regie, tydsbesteding, toneelwerk, tekskeuse, rolverdeling, kamerawerk, beligting, klank, toneelspel en skryfwerk. ʼn Goue draad was dat alle aspekte soos rolverdeling, teks-, kostuum- of musiekkeuse nooit ter wille van die besluitnemers gemaak word nie, maar ten doel moet hê om die teks, die karakter, die kunswerk en uiteindelik die teikengehoor, te dien. Dit is verder ook beklemtoon dat die regisseur uiteindelik ten volle verantwoordelik is vir die produksie en alle aspekte dus deeglike oorweging vereis.
Die uitvoerende kunste strek oor ʼn wye veld. Dr. Chris Vorster het daarin geslaag om nie net die kursusgangers terug te bring aarde toe deur die uitdagings en realiteite in die bedryf onomwonde uit te lig nie, maar terselfdertyd ook elkeen bemagtig met kennis wat as aansporing dien om die vlerke te sprei en nuwe hoogtes aan te durf deur die uitlewing van kreatiwiteit.

Fotos – Dia van Staden

TAGS:

Witkruisdag herdenk

Rooi Papawerdag is aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog op 11 November 1918 in die lewe geroep. Dié dag is ‘n wêreldwye herdenking van soldate wat in oorloë gesneuwel het.
Die sigbare wit kruise wat op ‘n paar plekke in die land geplant word, herdenk die Grensoorlog, plaasmoorde en die wrede moorde op onskuldige mense in dorpe.
Op ‘n Orania Facebookblad noem die outeur: “Saam met elke wit kruis kwyn ‘n familie weg, kwyn Afrikaans weg, kwyn stories, tradisies en vriendskap weg. Saam met elke wit kruis is ons bietjie armer, en verdwyn ‘n stukkie geskiedenis.”
Deelnemers aan vanjaar se program was Pieter Bisschoff, ds. Ronald Bain, Thomas van Dalen, Jan Snyders en Eric Bornman. Die verrigtinge is met die sing van die vierde vers van Die Stem afgesluit.
Die reëlings vir Witkruisdag, wat ‘n nie-amptelike vakansiedag in Orania is, word deur die Orania Bewaringstigting hanteer. Deelnemers trek hoofsaaklik wit klere aan en plaas ‘n blommekrans met ‘n wit kruis aan die voet van ‘n permanente kruis wat in Orania pryk.

TAGS:

Die koeël is deur die Kerk(plein)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuur-vereniginge (FAK) kan vandag bevestig die vier burgerbeelde op die wêreldbekende Kerkplein, Pretoria, is gevandaliseer.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is diep ontsteld oor die onlangse skade wat aan die vier burgerbeelde rondom die Paul Kruger-standbeeld op Kerkplein aangerig is.
Twee geweerkolwe, twee geweerlope en een geweerband is van dié burgerbeelde afgesaag.
Leonie Marais, erfenishulpbronspesialis van die FAK, meen die skade moes onlangs aan die beelde aangerig geword het en sy is diep teleurgesteld oor hierdie vandalisme.
“Ek beskou dit as growwe nalatigheid van die Tshwane-metroraad dat hulle nie die stad se kultuurhulpbronne kan beskerm nie,” sê Marais.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, meen dat hierdie kriminele vernietiging van ons erfenisskatte is.
“Hierdie vier beelde is so deel van Pretoria se geskiedenis en landskap. Die skade wat aan hierdie beelde gerig is, is vanuit ’n kunsoogpunt onberekenbaar. As mens gaan kyk na die kriminele vernietiging van kuns en geskiedenis is hierdie net nog ’n voorbeeld,” sê Langner.
Die FAK gaan ’n saak van opsetlike saakbeskadiging by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanhangig maak en eis onmiddellike antwoorde oor die veiligheidsmaatreëls wat by Kerkplein in plek is. Die FAK verwag ’n deeglike ondersoek na hoe hierdie sekuriteitsbreuk in ’n ruimte van so historiese betekenis kon plaasvind.
Die FAK doen ook ’n beroep dat die skade aan hierdie beelde spoedig herstel móét word. Die FAK is daartoe verbind om ons erfenis te bewaar en is bereid om ons kundigheid in die restourasieproses aan te bied om te verseker dat hierdie standbeelde so gou moontlik tot hul eertydse glorie herstel word.
“Ons as die FAK is van mening dat die Tshwane-metroraad hulle beskermingsplig versaak het. Ons is egter bereid om saam met die Metroraad te besin oor watter wyse dit moontlik is om hierdie beelde regtig veilig te kan bewaar. Dit gebeur steeds ondanks die hekke en die sekuriteitswag wat daar is. Die FAK sal graag in gesprek wil tree met die munisipaliteit oor die versorging en bewaring van hierdie beeldegroep,” sê Langner.
As beskermers van kulturele en historiese erfenis, is die FAK verbind tot die bewaring van Suid-Afrika se erfenis en versoek die FAK die owerhede om beslissende stappe te neem op sulke dade van vandalisme.
Dit is skokkend om te sien hoe ons simbole en kulturele bakens sistematies vernietig word,” sê Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK.
“Dit is vir my verskriklik hartseer om te sien hoe hierdie prominente beelde skade gekry het en dit is nie net hier waar daar vandalisme en afbreek plaasvind nie, maar regoor die land. Hoe meer mense betrokke raak by die beskerming van ons erfenis, kan voorvalle soos juis hierdie een in die toekoms verhoed word,” sê Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder by die FAK.
Die FAK het ’n versoek rakende hierdie aangeleentheid aan die Metroraad gerig, maar het nog geen terugvoer ontvang nie.
Vir enige media navrae, kontak Marianne Pouwels by mariannepouwels@kultuurtuiste.org.za of skakel 063 421 3337

TAGS:

Vlae vertel ’n nuwe verhaal by die VTM

“Elke vlag vertel ’n storie” en vandag word dié stories ook by die Voortrekkermonument (VTM) vertel na die South African Vexillological Association (SAVA) vandeesweek ’n nuwe tuiste in die VTM-argief gekry het.
Die VTM-argief by die Erfenissentrum is ’n skatkis van kultuur, taal en geskiedenis en hiérdie nuwe SAVA-versameling is ’n ongelooflike toevoeging tot hierdie ryk erfenis.
Dr. Bruce Berry, tesourier en sekretaris van SAVA, sê elke vlag vertel ’n storie en hy is baie dankbaar dat die joernale, tydskrifte, navorsingsdokumente én 66 vlae uit ons land se geskiedenis, van hul organisasie nou by die VTM kan wees, waar dit aan die breër publiek beskikbaar gestel kan word.
“SAVA is in 1990 gestig en sedertdien het ons werklik waardevolle werk gedoen in die ontwikkeling van vlagkunde, daarom is ons baie dankbaar dat hiérdie nalatenskap vandag kan voortleef by die VTM,” sê Berry.
“Ons hoop dat meer mense hier by die monument blootgestel kan word aan die wonder van vlagkunde.”
Berry het spottend gesê hy is baie dankbaar vir die TV-karakter Sheldon Cooper wat op The Big Bang Theory veksilologie aan die wêreld blootgestel het met sy vlog of videopodgooi, Fun with Flags, en hy hoop die vlag-gogga sal hier by die monument meer jongmense byt.
Berry het verder verduidelik dat een van die oudste vlae in die wêreld die Deense vlag is wat reeds in 1219 ontwerp en gemaak is en vandag wapper die vlae van 193 onafhanklike lande regoor die wêreld – Elk met sy eie storie.
“Daar is soveel vlae op aarde, selfs meer as die 193 onafhanklike lande in die wêreld; sportspanne het vlae, militêre afdelings, besighede, selfs wanneer jy hier by die monument inry, wapper daar ’n VTM-vlag aan die paal en as mens eers hierdie verhale begin ontdek, gaan daar ’n nuwe wêreld van kultuur en geskiedenis vir jou oop.”
Berry moedig ook oud en jonk aan om betrokke te raak by SAVA. Loer gerus op hul webtuiste vir meer inligting: https://www.savaflags.org.za/
Zabeth Botha, argivaris by die VTM, sê hierdie toevoeging tot die museum en argief is van onskatbare waarde en sy wil almal uitnooi om hier by die monument aan te klop en te begin navorsing doen oor hul eie geskiedenis en interessanthede soos die SAVA-versameling.
Kontak Zabeth@kultuurtuiste.org.za om ’n afspraak te maak om die argief te besoek.

TAGS: