Moedertaaldag se digkuns

Liezé van Heerden is slegs 10 jaar oud en het haar voorliefde vir haar moedertaal getoon deur vir ‘n digkompetisie in te skryf. Liezé vertel dat mamma Chantel die kompetisie op sosiale media gesien het en vir haar gevra of sy sou belangstel om in te skryf. “Ek’t toe gesê ja, want ek hou van gedigte skryf. Dit is lekker!”

Sy verduidelik vinnig dat sy nie daarvan hou as mense Mengels praat nie. “Ek hou nie van Mengels nie, want mense praat partykeer so baie Engels dat dit klink of hulle Engels is en net probeer Afrikaans praat,” sê die bekkige meisiekind. “Ek hou baie meer van Afrikaans as van Engels, want dit is my moedertaal en my prag en praal.”

Alhoewel sy eendag mooi klere wil maak omdat sy naaldwerk baie geniet, is lees nog ‘n stokperdjie wat sy beoefen. “Ek lees enige iets, maar hou baie van die Maasdorpreeks wat deur Stelle Blakemore geskryf is,”vertel Liezé.

Koerania hou graag ons jongmense dop wat ‘n voorliefde vir hul moedertaal toon!

Afrikaans is my Moedertaal –
Afrikaans is my prag en praal.
Mengels kan ek nie verdra.
Moedertaal praat, laat my nie kla.
Is ek Frans
of Afrikaans?
Afrikaans, liewer dit
as om op Frans te sit.

Gaan kyk by @kwikstertontwerp op facebook na nog gedigte wat ingeskryf is as deel van die Moedertaaldagvieringe.

TAGS:

Natuurlijk JY Modeparade

Die derde Natuurlijk JY Mode-parade word op Woensdag 27 Maart om 18:30 in die Orania Gemeenskapsaal deur die Okkasie Hasie aangebied.

‘n Unieke kinkel in die modelkabel is vanjaar aangewend om die modelle te keur. Vyf besighede se personeel of lede is versoek om hulle eerste treë op die Orania modeverhoog te kom gee.

Besighede en instansies wat aan die modeparade deelneem is Orion DIY, Weltevreden Dansakademie, Volkskool, Bo-Karoo Eiendomme en die Orania Biblioteek. Die deelnemende klereverskaffers vir die modeparade, wat ten bate van Orania Dieresorg aangebied word is, Cia-Mari Boetiek, Klein Reus se Niggie en Orania Uitrusters.

Filicity Meyer, ‘n vrywilliger van die Orania Dieresorg, vertel dat hulle ‘n netjiese en praktiese skut vir rondloperdiere dringend benodig. “Dié geld sal daarvoor aangewend kan word,” vertel sy. Koerania sal lesers op hoogte hou van die vordering wat hier plaasvind.

Kaartjies vir die bywoning van die fondsinsameling beloop R120 per persoon en besighede of vriende kan tafels vir tien persone teen R1 200-00 bekom. Elkeen pak sy eie piekniekmandjie met te drinke en te ete vir die modekuier in.

Kry jou kaartjies by enige van die deelnemende besighede of by die Orania Beweging. Skakel Dia van Staden by 083 726 1180 met jou navraag.

TAGS:

Dié 2 pelle maak Terloops musiek

Terloops is die naam van Carel Boshoff en Frans de Klerk se duo-orkes. Dié twee se vriendskapsverhaal klink soos ‘n Vinkel en Koljanderstorie wat in die vroeë jare van Orania afspeel. Hulle het onlangs ‘n splinternuwe Afrikanerlied die lig laat sien en hulle hoop om met dié lied die vryheidstrewe van die Afrikaner te beklemtoon.

Vry is die titel van hulle enkelsnit en daarmee aksentueer hulle die dade van ‘n paar van hulle jeughelde uit ons geskiedenis. Dié besonderse saamsinglied beklemtoon ook die belangrikheid van taal, kultuur en vryheid. Die lirieke, wat in die skryfproses eerste vorm aangeneem het, en melodie neem jou op ‘n opwindende reis waarvan jy vinnig deel voel. Carel vertel dat die titel eers na die opname, toe die klankregisseur ‘n naam gesoek het waaronder hy sy werk kon stoor, gekies is. “Ons het vinnig gebreinstorm, en die titel het vir ons na die mees natuurlike een gevoel.”

“Ek en Frans het vroeg in ons hoërskoolloopbane saam begin musiekmaak en liedjies skryf.

Ons het besluit ons wil nie oor ons orkes spog nie, en dat ons mense net so terloops daarvan sal vertel. Vandaar die naam Terloops!” noem Carel.

“Ons veldspeletjies en bendesamestellings het meermale gespruit uit die stories wat ons ouers ons van die boerehelde vertel het,” dui Frans aan. Vandag nog kyk hy met trots terug op die jonger helde soos Japie Greyling en Dirkie Uys wat onwrikbaar in hulle geloof was wanneer hulle met die dood gekonfronteer was. Frans admireer sy pa, Frans, wat vir hom, sy familie en sy gemeenskap in oormaat van homself gee.

Carel het ‘n hoë agting vir Generaal Beyers aangesien sy familie van die Waterberge afkomstig is en hul dus in sy kommando geveg het. Sy oupa, prof Carel Boshoff, is sy rolmodel wat soveel vir vryheid gedoen het, maar ook omdat hy ‘n ywerige liedjieskrywer was.

Op die vraag na hulle musiekvoorkeure lewer dit uiteenlopende reaksies. Frans kies Frank Sinatra, want daar is vir hom so baie gunstelinge, en Carel se keuse is Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band.

Wanneer hulle begin opweeg waarop die muntstuk vir hulle eie klank moet val dan kies hulle albei musiek waarmee jongmense hulself kan vereenselwig. Carel sê: “Musiek is ideaal om gevoelens te deel. Selfs al leer mens nie noodwendig nuwe feite deur ‘n liedjie nie, kan ‘n liedjie jou lei om meer van ‘n onderwerp te leer.”

Die trots vir hul Afrikanerskap loop dik in die twee se are. Carel noem dat Afrikanertrots nog nooit vir hom ‘n moeilike konsep was nie. “Ek verstaan dat dit nie vir alle jong Afrikaners maklik is nie, veral nie as al wat hulle van ons geskiedenis geleer het uit die staat se voorgeskrewe werk kom nie.” Hy raak opgewonde wanneer hy verduidelik dat ons voorvaders vir vryheid getrek, geveg en onderhandel het. Sy twee seuntjies het die voordeel dat pappa daarvan hou om vir hulle speelgoed uit hout te maak.

Frans en Carel hou albei daarvan om te skryf. Wanneer hulle saam begin werk aan ‘n projek soos wat hulle sedert hoërskooljare al doen, dan vloei die kreatiewe idees vryelik. Hulle getuig: “Daar is sedert Bok van Blerk se De La Rey heelwat liedjies oor ons volk, taal en geskiedenis geskryf. Ons wil graag die onderwerp van vryheid deel van daardie gesprek maak.”

Frans is oortuig dat Afrikanertrots en identiteit iets is wat gevier moet word, maar nie afgedwing moet word nie. Albei wil jongmense aanmoedig om ander bronne as die voorgeskrewe skoolboeke te gebruik om meer van die geskiedenis te leer. “Al leer iemand iets van ons geskiedenis deur ons liedjie, dan het ons in ‘n doel geslaag.”

Carel speel kitaar en Frans geniet dit om sy mondfluitjie en ukelele nader te trek. Hulle hoop dat Vry rondom menige braaivleisvure, by familiekuiers, musiekfeeste en by dansbane sal speel. Hierdie is nie hulle eerste lied as duo nie, en beslis nie hulle laaste nie. Frans sê dat hulle eerlike Afrikaanse musiek sal aanhou maak wat die Afrikanerjeug met trots kan geniet.

“Ons is trots Afrikaans
en ons streef na ‘n vrye
Afrikanertoekoms!”

Volg hulle op Facebook en Instagram: @terloops_official op Instagram en Terloops op Facebook.

TAGS:

Die Orania Monumentkoppie

Die Orania Monumentkoppie is ʼn simboliese terrein wat vir elke besoeker die mooiste uitsig oor Orania gee en waar staatsmanne uit die Afrikanergeskiedenis vereer word. Daar is borsbeelde van bekende Afrikanerfigure soos Paul Kruger, John Vorster en Hendrik Verwoerd in ʼn halfmaan geposisioneer en hulle almal se oë is op die Klein Reus in die middel van die halfmaan gerig. Die Klein Reus rol sy mou op, omdat hy weet daar is baie werk wat self gedoen moet word.
Die Klein Reus is Orania se simbool vir selfwerksaamheid en eie arbeid en daarmee saam beteken sy naam dat hy klein is maar dat die werk wat hy verrig en sy idee vir vryheid reusagtig is.

Die Klein Reus kyk uit oor Orania in die toekoms, maar hy is gegrond in sy voorouers en die verlede. Dié beeld is deur Kaalvoet opgerig.

TAGS:

Koerania in Platteland

Die Weg! Platteland tydskrif redakteurs het ‘n hele rits gesprekke met inwoners gevoer om ‘n pragstuk in hul Februarie-uitgawe oor Orania in te sluit.
Selfs Koerania het die blaaie gehaal.

TAGS:

Dié beskermvrou het jonk en oud gekoester

Tannie Lenie, soos almal haar noem, het op 1 Maart 2014 Orania haar tuiste gemaak. “Ek het afgetree, maar in Orania as Maatskaplike Werker kom aantree,” vertel sy met ‘n glimlag.

Lenie was ‘n Kovsiestudent en het in 1968 haar graad in Maatskaplike Werk verwerf. Sy het in Bloemfontein en Kimberley vir die Departement Volkswelsyn en Pensioene gewerk, maar Orania was deel van die streek waarbinne sy gewerk het. Nadat sy en Piet getroud is het hulle in Kimberley gewoon en sy het na haar swangerskap vir privaat welsynsorganisasies gewerk.

Lenie maak toe ‘n Vrystaatdraai by Geestes-gesondheid in Bloemfontein voordat KOVSIES haar opraap om van Augustus 1986 tot 2007 die welsyn van studente, dienswerkers en personeel te hanteer. Sy word deur die PUK genader om ‘n soortgelyke rol daar te vervul. Sy begin op 1 Februarie 2007 by hulle. Sy het Studentegesondheid gestig en daardeur ‘n verskeidenheid wonderlike projekte gedryf. Haar oë blink as sy van daardie pronkjare praat.

Sy sluit op 1 Maart 2014 in Orania by die Maatskaplike Raad aan. Dit was nie op daardie stadium ‘n geregistreerde welsynsorganisasie nie en sy het saam met ander rolspelers die administratiewe proses aangepak om die registrasie te formuleer. Die Orania Maatskaplike Raad was Lenie Kotze se vaandel en vele drome het deur hierdie organisasie as fondasie gestalte gekry.

Sy het op ‘n dag verby die huidige Karoosig Tehuis vir Bejaardes gery, maar die gebou het leeg gestaan. Sy het dadelik aangekondig dat sy dit in ‘n ouetehuis wou omskep. Daar het uiteindelik ‘n span individue aan die werk gespring om die gebou skoon te kry sodat die eerste bejaarde verwelkom kon word. Op 1 September 2014 het die eerste inwoner haar intrek geneem en om 12:00 kon sy ‘n gekookte ete geniet. “Tannie Mercia de Vries was die eerste inwoner. Sy het Tannie Betsie Verwoerd tot haar dood versorg,” vertel Lenie met ‘n vol hart.

Lenie moes staatmaak op borge om die projek suksesvol te laat vlot. “Die gemeenskap was so goed vir my. Ek het selfs borge uit Nederland gekry,” deel sy.

Sy het geweet dat vroeë kinderontwikkeling en ‘n dagsorgsentrum van kardinale belang was. “Alle mammas moes werk en daar was babatjies,” sê sy. Op 3 Januarie 2015 open Huppelkind se deure vir 3 kinders. Aan die einde van Januarie was daar 12 kinders en hulle het Februarie met 20 kinders afgeskop. “Ek is ‘n trotse stigter en die sentrum het ontstaan omdat kinders tussen 3 en 6 niemand gehad het om hulle te versorg nie. Dit was vir my ‘n ongelooflike belegging in ons Afrikanerkinders,” vertel sy met daardie kenmerkende blink in haar oë. “Prys die Here vir Esna wat kom oorneem het,”slaak sy ‘n sug van verligting.

Aan die einde van 2022 bedank tannie Lenie van die direksies waarop sy gedien het. “Dit is nou tyd vir die jonger geslag om die leisels oor te neem,” sê sy trots.

TAGS:

Sy pa en oupa se motorhuise was sy Universiteit

In die Dirkerfamilie loop die aanvoeling vir meganiese werk stewig in hulle bloed. Van al die vashou terwyl sy pa sweiswerk doen, kon Jaco Dirker in Standard 4 reeds agterkom dat skoolwerk hom frustreer. Sy oupa Hen Dirker kon nooit sweis nie, maar hy kon met sy hande werk en het ‘n kop vir kreatiewe plannemaak gehad.

Jaco Dirker (41) onthou hoe sy pa se motorhuis die plek was waar hy van meganiese werk geleer het. Sy skooljare het in Nylstroom begin, daarna was hy in Laerskool Pietersburg-Oos en toe in Theresapark Laerskool in Pretoria-Noord. Sy pa was die geduldige man wat Jaco toegelaat het om te eksperimenteer, terwyl sy ma gedurig teen die gevare gewaarsku het.

Een van sy seuntjieprojekte was om ‘n side cart vir sy BMX-fiets te bou. “Daar vind ek toe uit wat sweisbrand is. Sjoe, dit was ‘n seer les!”
Jaco se pa het die Dirkers se stamboom graag bestudeer en toe hy eendag in die Knysnagebied ry en ‘n Dirker naambord sien het hy dadelik navraag gedoen. In Sedgefield ontmoet hy toe vir oom Francois Dirker. Dié is toe sy oupagrootjie se seun en oupa Hen se half-broer. Daar leer hy ook dat die eerste Dirkers ossewaens in Uniondale gebou het.

Oom Rudolf Righter was hulle buurman. Hy het ‘n draaibank gehad en was altyd besig om iets te bou. Ek was altyd welkom om saam met hom te gaan timmer en sweis. Naweke en na skool het hy graag gaan hand bysit, want so het hy geleer.

In standerd agt kon Jaco al soos ‘n meester sweis. Hy het toe sleepwaens vir oom Rudolf begin bou. Hier ontstaan die plan om die skoolbanke, wat hom so frustreer het, te verlaat en sleepwaens en palisadestrukture te begin smous. “Kontant is mos koning,” glimlag hy oor sy besluit.

By oom Tienie du Plessis het hy kennis gemaak met vurkhuysers. Aangesien dit Jaco se belangstellingsveld was kon oom Tienie baie op hom steun vir hulp. “Sodra die werkdag verby was kon ek in die werkswinkel rondspeel waar hy my ruimte gegee het om te ontwikkel,” vertel Jaco oor een van sy mentors.

Oom Jimmy en tannie Dorothy van Rooyen was die eienaars van ‘n vervoermaatskappy waar Jaco se oudste boetie gewerk het. “Ek het graag daar gaan kuier en dan bietjie met die trokke se binnekant rondgespeel,” vertel Jaco. Hy het selfs die kragstuur van ‘n trok uitmekaar gehaal en probeer sinmaak van elke item se funksie. RSG was altyd in die agtergrond aan terwyl hy so gepeuter het. “My oupa het altyd RSG geluister terwyl hy gewerk het,” voeg hy by.
Jaco maak toe eendag ‘n voorstel om ‘n fout op een van die trokke te herstel. “Ek is toe reg en oom Jimmy bied vir my werk aan!” Die 4 vragmotors wat deur die dag gewerk het moes Jaco in die aande nagaan en klein probleempies uitsorteer. “Oom Jimmy kon staan en luister na die geluier van ‘n trok dan kon hy die fout uitwys.” Jaco gebruik toe sy eie spaargeld om saam met hom ‘n besigheid te begin waar hy vurkhysers herstel. Hy woon veilings op verskillende dorpe by waar hy gebruikte vurkhysers opkoop, herstel en weer verkoop.

Jaco se bantambakkie is afbetaal en hy wil toe bedank om sy eie besigheid onder sy pa se afdak in Theresapark te begin. Oom Jimmy het hom ‘n groot bonus gegee toe hy wegstap, want hy het vertroue in Jaco gehad om die geld wys aan te wend.

Die besigheid loop redelik goed, maar die bure begin kla oor die geraas en die swaarvoertuie wat in ‘n woongebied rondstaan. Jaco sluit by Nico du Plessis en sy besigheid in Pretoria-Wes aan. Forklift Master word in 2006 geregistreer. Nico leer vir Jaco van ‘n Rooi boek en hy leer hoe om debiteure te beheer. “Ek wil deur ‘n boek blaai om te sien waarmee ek werk.”

Jaco is in Desember 2006 met Gwen getroud nadat hy sy eerste huis gekoop het. Dit is ‘n reuse erf waarop ‘n huis en werkwinkel die ideale geleentheid gebied het om weer ‘n eie besigheid aan te durf. “Ek het vurkhysers op-en-af in die straat getoets en tannie Ralie kon die geraas nie meer verduur nie. Ons koop toe haar huis, want ek het toe lankal die droom om my eie vurkhysers te bou,” vertel Jaco met oorgawe.

Hy ondersoek alle moontlikhede en nog ‘n mentor, Dawid Laas, gee hom die geleentheid om op sy skrootwerf masjiene te meet en pas. “Onder ‘n boom in tant Ralie se erf is my eerste driewiel vurkhyser gebou,” sê Jaco trots. Hy erken dat dit ‘n vreeslike groot en vinnige leerskool was. Hy het alle tekeninge met potlood en liniaal gemaak soos wat daar gebou is. Sy eerste kliënt was so ingenome dat hy in 2012 meer bestel het.

“Ek kom toe te hore van ‘n sagterwareprogram waarmee jy ‘n model kan bou, Solid Works. Ek het lank gesit met tutorials tot ek die prosesse onder die knie gehad het. Die hoeveelheid kundige mentors wat ek op my pad gehad het was fantasties. Eksperimente het my baie geld gekos, maar universiteitsgeld betaal vir foute,” vertel hy ewe eerlik.

Nadat Jaco onder andere steenlaaiers vir ‘n kliënt in Namibië gebou het en ‘n drieton bandmasjien vir myne in die Kongo, buiten unieke vurkhysers, het die grendelstaat hom ook gedwing om af te skaal en te herbesin oor die lewe.

Hulle het emigrasie oorweeg, maar wou nie werklike oorsee gaan nie en hy het geweet hy wil nie vir ‘n baas werk nie, want hulle sit ‘n plafon op jou potensiaal. “Ek gaan moeilik met vakansie, want ek wil net altyd huistoe gaan.” Hy span gereeld die onthou van radiostories in wanneer daar scenarios in sy kop uitspeel.

Nico du Plessis het vir Jaco van Orania vertel. Hy het Dana Snyman se boek, Agterpaaie, gelees en goeie inligting daaruit gekry. Hy het ver regse, bakleierige mense verwag en toe kom hy agter dat die Afrikaners slegs bakleierig is.

In Augustus het die Dirkergesin Orania vir ‘n langnaweek besoek en die formele trek gebeur toe baie vinniger as wat hul beplan het.

Gwen, sy vrou, voeg by dat Jaco nie werklik van verandering hou nie, maar dat die trek die maklikste oorgang was wat hy nog gedoen het.
Aangesien geleenthede in Orania net oopgegaan het is Dirker Ingenieurswerke in Augustus 2022 geregistreer. Alhoewel hy oorweeg het om die Pretoriabesigheid aan die gang te hou en te pendel, moes hy gou agterkom dat dit nie finansieël sin maak nie. “My ma en oom Jimmy het altyd gesê ek het meer moed as verstand.”

Dirker Ingenieurswerke trek nou by vurkhyser nommer 79 en aangesien hy jare gelede planne gekry het om rame vir sy unieke vurkhysers te bou verskyn sy van op elkeen. Hy vertel dat die vloek van die bedryf is dat jou horisonne alewig moet skuif. “Ek sê vir my kinders: Ondervinding deur ondersoek.”

In Pretoria het hy ‘n hele span gehad wat saam met hom gewerk het. Hier moet Gwen ‘n paar mense se werk doen sover dit beplanning, netwerkbou en die bestel van toerusting betref.

Hy geniet die avontuur van ‘n uitdaging. Hy het ‘n selfaangedrewe versnipper vir ‘n eienaar in Tzaneen gebou. Hy geniet die tipe mense met wie hy hier in die Orania omgewing werk. “Dit is boere wat ‘n selfdoenmentaliteit het. Ons is elke dag dankbaar om hier te wees.”

In die drie maande wat dit neem om ‘n Dirker te bou, bly baie kleiner werk egter agterweë. Hy het nog baie drome wat vervaardiging aanbetref. “Een van die groot geskenke is dat Gwen saam met my in die kantoor is en die twee seuns, Duan (15) en John (13) is in- en uit by die werkswinkel.”

Jaco Dirker het as seuntjie met klinknaels en blikkies in pa en oupa se motorhuise gespeel. Vandag bou hy unieke Dirker vurkhysers.
Jaco Dirker het as seuntjie met klinknaels en blikkies in pa en oupa se motorhuise gespeel. Vandag bou hy unieke Dirker vurkhysers.
‘n Stomphanteerder word gebruik vir die laai en hantering van hout in die bosboubedryf.
‘n Stomphanteerder word gebruik vir die laai en hantering van hout in die bosboubedryf.
‘n Steenlaaier vir die hantering van stene wat in ‘n blokformasie gepak is. Kollegas span saam om moue in Orania op te rol. Laat ons werk!
‘n Steenlaaier vir die hantering van stene wat in ‘n blokformasie gepak is. Kollegas span saam om moue in Orania op te rol. Laat ons werk!
Die vurkhyser word aangewend vir die hantering van goedere op enige rowwe terrein.
Die vurkhyser word aangewend vir die hantering van goedere op enige rowwe terrein.
Multi-hyser is ‘n veeldoelige masjien. Dit is ‘n vurkhyser- en laaigraafkombinasie.
Multi-hyser is ‘n veeldoelige masjien. Dit is ‘n vurkhyser- en laaigraafkombinasie.
TAGS:

Herfspiekniek by die Rivierpark Kampterrein

Die Rivierpark Kampterrein en die Kaboem Kiosk, wat deel vorm van Vluytjeskraal-Noord, is Saterdag 9 Maart met liggies en vrolike piekniekspasies vir hulle eerste Herfspiekniek getooi. Behalwe vir die kampeerders het die gemeenskap van Orania van die spasies met hul kampstoele, braaiers, musiek en vrolike samesyn gaan opneem. Amanda Saayman, bestuurder van die kampterrein, sien daarna uit om soortgelyke kuiergeleenthede in die toekoms aan te bied. Sy sê: “’n Gedagte het tot ‘n aand vol lag, kuier en samesyn gelei.”

Justinus Brink en Tony Correia bespreek die nuutste braaitegnieke (of nie) tydens die piekniek.
Justinus Brink en Tony Correia bespreek die nuutste braaitegnieke (of nie) tydens die piekniek.
Carel Boshoff is ‘n akademikus wat kan braai!
Carel Boshoff is ‘n akademikus wat kan braai!
Anje Boshoff, Retha Brink en Gwen Dirker het die piekniek as inwoners van Orania bygewoon en in die heerlike atmosfeer gedeel.
Anje Boshoff, Retha Brink en Gwen Dirker het die piekniek as inwoners van Orania bygewoon en in die heerlike atmosfeer gedeel.
Dewald en Angel Otto het saam met André en Yolandi Hanford gepiekniek en gekuier.
Dewald en Angel Otto het saam met André en Yolandi Hanford gepiekniek en gekuier.
Hierdie vrolike groep vroue het ‘n bo-baas kuiertyd geniet.
Hierdie vrolike groep vroue het ‘n bo-baas kuiertyd geniet.
TAGS: